Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wanneer jy God verwag

DEUR SIMONE GAUCHE

Wanneer ’n motor voor ons huis stop, sê my driejarige seuntjie: “Mamma, kyk wie het vir my kom kuier!”

Hy glo met sy hele hart dat almal wat hier aankom, by hom kom kuier. En dan ontvang hy hulle só. Ek is seker as hul later weer ry, dink hy steeds dit was sy eie gaste. Niemand sal hom van iets anders oortuig nie.

LEES OOK: ‘Ek leer my dogtertjies ’n mooi gesiggie kan jou net só ver bring’

My kind se optrede laat my soms wonder oor myself, en oor die Here. Hoe interessant dit is dat op dié dae dat ek die Here verwag, Hy klokslag opdaag.

Ek glo met my hele hart dat die Here deurentyd by my teenwoordig is. Ons almal weet tog Hy is alomteenwoordig, maar ek sien sy teenwoordigheid beter raak op dié dae waarin ek Hom verwag. Ja, Hy is altyd hier – maar ek is nie! My gedagtes is dikwels by môre, dis doenig met allerhande lysies. Ek is altyd besig met die vólgende ding.

Maar wanneer ek ten volle teenwoordig is, hiér in hiérdie oomblik, en ek verwag Hom, is dit vir my makliker om Hom raak te sien. Klein dingetjies, wat ander mense dalk aan “toeval” sou toeskryf, word vir my ’n ontmoeting met God. Klein oomblikke in my daaglikse lewe, wanneer dinge net mooi reg verloop, word wonderwerke. Sulke oomblikke (of “toevallighede”) sou op ’n ander dag bloot by my verbygegaan het.

Net soos wat God in hierdie oomblikke of gebeurtenisse leef, word Hy ook sigbaar in die mense om my. Ek kan Hom in ’n ander se stem hoor, ek sien Hom in ’n ander se optrede en ek voel Hom in ’n ander se teenwoordigheid. Soms gebeur dit mos dat ’n vriendin so uit die bloute met jou hart praat, dat sy ’n vraag beantwoord waarmee jy al lank worstel.

Jesus wou sy dissipels iets hiervan leer toe Hy gesê het: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen” (Matt 25:40).

LEES OOK: Moenie dat vrees jou vreugde steel nie

Hy wil hê ons moet Hom in ander mense raaksien. Ons almal is immers na God se beeld geskape. En dit is net moontlik dat ons Hom misloop as ons Hom nie in ’n medemens raaksien nie.

Hoe werk dit om die Here elke dag te verwag? Hier is ’n klompie wenke: 

* Maak Hom jou eerste gedagte. Fokus op sy teenwoordigheid. Gee jou aan Hom oor. Staan soggens van jou tyd aan Hom af, al is dit net vyf minute.

* Praat deurentyd met Hom terwyl die dag sy gang gaan.

* Wees bewus van die huidige oomblik. Moenie in die toekoms of die verlede leef nie; wees teenwoordig in die hede.

*Skep tyd om, deur die loop van die dag, stil te word en jou fokus op Hom te rig.

* Hou ’n joernaal by. Skep ’n tydjie waarin jy jou dag oordink. En dink aan oomblikke waarin jy Hom ervaar het.

* Soek Jesus in die mense om jou. Dink na oor die eienskappe waaroor hulle beskik wat jou nader aan God laat voel.

* Dink doelbewus na oor hoe jy vir iemand anders ’n Jesus kan wees. En onthou wat die maklikste manier is om dit reg te kry: wanneer jy jou oor een van sy geringstes ontferm.

My wens vir jou is dat jy die Here elke dag sal verwag. Dat jy Hom in die alledaagse sal raaksien en beleef op elke plek en by elke geleentheid en in elke mens waarin Hy jou tegemoet kom.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF