Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wanneer mense nie van jou hou nie

DEUR SIMONE GAUCHE

My oudste seuntjie het onlangs vir die eerste keer begin besef dat nie almal van hom hou nie. Hy sal, byvoorbeeld, van die skool af kom en dinge sê soos: “Mamma, daardie seuntjie wil nie met my speel nie.” Of: “Dié dogtertjie het vir my gesê ek moet weggaan.”

LEES OOK: Hoe leer jy jou kind van Jesus?

Dis ’n kosbare lewensles, al is dit ook ’n bitter een. Dis tog ’n blote feit dat daar altyd mense sal wees wat doodgewoon nie van jou hou nie.

Die vraag is: Wat gaan jy daaraan doen?

Allereers moet jy leer dat jy, omdat jy ’n Christen is, op ’n bepaalde manier moet reageer wanneer jy agterkom dat iemand nie van jou hou nie, of jou selfs doelbewus seermaak.

Maar hoe – en wanneer – leer jy dit vir ’n jong kind? Grootmense sukkel dan steeds om te midde van teleurstellings en liefdeloosheid en, ja, selfs haat, lief te hê soos Jesus dit van ons verwag. Want Hy roep ons om lief te hê. Hy roep ons om van almal te hou.

Ons onthou sy antwoord op die vraag wat die grootste gebod is: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (Matt 22:37-40).

Hoe leer ’n mens iemand om só lief te hê – onvoorwaardelik, “ten spyte van” en “al gebeur wat ook al”? Hoe leer ’n mens jou kind om die ander wang te draai? Om te vergewe, selfs sewentig maal sewe keer? Hoe verduidelik jy aan daardie kind dat jou andersoortige leefwyse, met ander woorde dié leefwyse waartoe Jesus ons roep, dikwels sal beteken dat jy misverstaan word, dalk selfs verwerp word, omdat jy nie soos die ander mense lewe nie? Omdat jy nie die spreekwoordelike wêreldse dinge najaag nie.

Dis vir seker nie ’n nuwe vraag nie; gelowiges sukkel reeds van die vroegste tye af daarmee. Daar was destyds wel ’n bepaalde riglyn; hoor die Numeri-skrywer hieroor: “Ek sien ’n volk wat op sy eie woon en hom van die nasies afsonder” (Num 23:9).

Ons moet berusting vind in die feit dat ons anders (moet) leef as die wêreld se mense, dat ons anders (moet) optree. Dit moenie vir ons belangrik wees om die soort sukses te behaal wat die wêreld voorskryf nie. Die pad wat die Here wil hê sy volk moet loop, lyk anders. Vreemd vir die wêreld. Die wêreld gaan dit nie verstaan nie.

Ons is afgesonder deur wat God oor ons sê, deur ons roeping en vanweë die feit dat ons losgekoop is. Die “ander wêreld” in ons het gemaak dat ons van die wêreld daar buite verskil.

Dit beteken dat laasgenoemde soms sy rug vir ons gaan draai en slegte dinge vir en van ons gaan sê. Maar ons moet onthou dat die smal weg en die breë weg nie in dieselfde rigting loop nie. Ons het die moeilike, smal weg gekies en moet dus nie óns pad met die breë, maklike weg vergelyk nie. Ons vertrou boonop op ’n Ander Gids.

Vir my seuntjie is dit maar die begin van die pad, en hy gaan nog baie hartseer en teleurstellings beleef. Maar hopelik kan ek hom deur my lewe en ons verhouding iets oor liefde leer. Hopelik sal hy daarmee oukei wees om “vreemd” te wees, ánders as ander. En hopelik sal hy leer liefhê, al maak dit soms seer.

Mag jy, wat dalk verwerp en afgesonder voel, ook hierdie week berusting daarin vind dat jy nie aan die wêreld behoort nie, maar ’n hemelse Vader het wat jou uitverkies het. Luister ook na wat Jesus aan sy volgelinge gesê het: “As julle aan die wêreld behoort het, sou die wêreld julle as sy eiendom liefgehad het. Omdat julle egter nie aan die wêreld behoort nie, maar Ek julle uit die wêreld uitgekies het, daarom haat die wêreld julle” (Joh 15:19).

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.