O! die vreugde en vervulling van ware liefde …
Maar dan tog nie die alles-perfek-en-presies soort liefde wat Hollywood ons so graag wys nie. Ook nie die flambojante sal-jy-met-my-trou-extravaganzas wat ons op YouTube sien nie. Of die jy-is-die-beste-ding-wat-al-ooit-met-my-gebeur-het-verklarings op Facebook, of ’n tydskrifgehalte WhatsApp-profielfoto nie.
Ware liefde is ongelukkig ook nie ’n sprokiesagtige troue wat die gaste se asem wegslaan en ’n plaas se prys kos nie.
Ja, goed, dit alles mag dalk ’n tikkie ware liefde aan die buitewêreld wys. En hierdie soort liefdesbewyse vra dalk baie kreatiwiteit en fyn beplanning, knap taalvermoëns of ’n stewige bankbalans.
Maar niks hiervan is ’n voorvereiste vir ware liefde of ’n bewys daarvan nie. Dis trouens nie eens naastenby wat ware liefde van ’n mens vereis nie.
Nee, ware liefde is nie pronkerig nie. Dis nie flambojant of uitspattig nie. Dis nie bloot ’n emosie nie en dit kan nie sommer op Instagram vasgevang of op Facebook verwoord word nie.
Ware liefde is die klein, bedagsame dingetjies wat deurlopend en oor ’n lang tyd aan ’n ander mens gedoen word. “Ware liefde,” sê die Deense filosoof, Søren Kierkegaard, “is liefdes-werke.”
Die Brits-Amerikaanse skrywer en motiveringspreker, Simon Sinek, vergelyk ware liefde met iemand wat by ’n gimnasium aansluit om gewig te verloor. Jy besluit op ’n dag om vier ure lank in die gimnasium te gaan oefen, maar wanneer jy in die spieël kyk ná daardie eerste uitmergelende sessie … is daar geen verandering sigbaar nie!
Beteken dit dat oefening nie doeltreffend vir gewigsverlies is nie?
Nee. Want jy weet: Selfs al kyk ek ná die tweede of derde of vierde oefensessie in die spieël en sien geen verandering nie, sál die verandering kom. Jy weet dat as jy elke dag getrou oefen, jy uiteindelik jou doel sal bereik.
’n Mens weet nie presies op watter dag die verandering plaasvind nie – maar op ’n dag begin jou lyf anders lyk. Dan sien jy wat jy uit die staanspoor geweet het: Elke dag se getroue oefening maak uiteindelik ’n enorme verskil.
Ware liefde vra nie van ons net een diepsinnige liefdesverklaring nie, of een fantastiese geskenk of ’n asemrowende troudag nie.
Dit vra uiteindelik veel meer as wat Hollywood of Facebook of Instagram ooit sal vra, en soms meer as wat ons dink ons kan gee.
Ware liefde vra klein, konsekwente dingetjies elke dag. Dis ’n tydsame proses, ’n elkedagse besluit. Dis opoffering en toegewing en vinnige vergifnis. Dis aanpassing en genade en geduld. Dit is moeilik. Dit vra deurdruk en aanhou, terug staan en die minste wees.
Maar dan gee dit soveel meer terug as wat jy ooit kon vermoed. En dán is alles eensklaps die moeite werd!
Daarom beveel God ons om mekaar lief te hê. Nie bloot deur een groot liefdesverklaring af te lê nie, maar deur ’n besluit om ons geliefdes elke dag met klein, konsekwente dade van liefde waarlik lief te hê.