Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wat maak jy met jou onsekerheid en twyfel?

DEUR SIMONE GAUCHE

Moses word beskou as een van ons geloofvoorvaders. Wanneer ons egter in die Bybel aan Moses voorgestel word, lyk hy aanvanklik nie na die regte man om God se volk te lei nie. Hy is onseker, hy twyfel aan sy geskiktheid vir die taak wat die Here hom oplê. Boonop sleep hy ’n donker geheim uit sy verlede met hom saam.

Die Here kies egter om hom te gebruik, en Hy roep Moses om sy volk uit die wrede farao se kloue te verlos.

Moses se eerste ontmoeting met die farao verloop egter nie volgens plan nie. Die farao lag hom uit en hul gesprek het ’n ramp tot gevolg: Die farao straf die Israeliete selfs verder en hul werkslading en verdrukking neem toe.

Om alles te kroon, is die Israeliete woedend en hulle sê vir Moses en Aäron: “Mag die Here julle straf omdat julle ons naam sleg gemaak het by die farao en sy amptenare en vir hulle ’n swaard in die hand gegee het om ons mee dood te maak” (Eks 5:21).

LEES OOK: Familietwis en vergifnis

Die mat is behoorlik onder Moses uitgepluk. Hoe nou gemaak? Dit sou maklik gewees het om terug te keer na waar hy vandaan gekom het. Om die ontevrede Israeliete in Egipte agter te laat.

Maar hy doen dit nie. Ons kan baie by Moses leer. Sy reaksie op sy volksgenote se gekla maak dit duidelik waarom die Here juis hóm gekies het om hierdie belangrike werk te doen.

  1. Wat doen jy wanneer die lewe nie volgens plan verloop nie?

Moses se reaksie is in skerp teenstelling met die Israeliete se optrede. Die Israeliete hardloop kwaad-kwaad na Moses toe, hulle verwyt hom, hulle kla. Moses, aan die ander kant, neem sy teleurstelling en twyfel reguit na die Here toe. Hy besef waar die antwoorde op sy vrae lê.

“Daarna het Moses weer na die Here gegaan …” (Eks 5:22).

LEES OOK: Waar gaan die voetjies loop?

Waarheen gaan jy met jou twyfel? Hardloop jy na mense toe of hardloop jy na jou Vader?

  1. Hoe eerlik is jy met jouself en met die Here? 

“Here, waarom werk U so sleg met hierdie volk? Waarom het U my nou eintlik gestuur? Van die eerste oomblik af dat ek by die farao gekom het om in u Naam te praat, het hy hierdie volk mishandel. Tog het U niks gedoen om u volk te red nie” (Eks 5:22).

Dis emosiebelaaide vrae; Moses draai nie doekies om nie. Hy steek nie sy gevoelens weg nie en gebruik nie ompaaie om te probeer sê hoe hy voel nie. Hy is kwaad, hy is teleurgesteld en hy is onseker. Hy twyfel aan sy roeping en hy twyfel aan die Here se plan en bedoelings.

Ek wonder of ek en jy ook so openlik oor ons gedagtes en gevoelens is as ons met die Here daaroor praat …

Hoe reageer die Here op Moses se reguit woorde? Hy baklei nie met Moses toe dié na Hom toe hardloop nie. Só antwoord Hy Moses: “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag” (Eks 5:24).

Daarna bevestig die Here weer wie Hy is en wat sy plan is. En Hy gee aan Moses duidelike riglyne wat om volgende te doen.

Ons leer baie dinge uit die Mosesverhaal. Een daarvan is dat die Here wil hê dat ons met al ons twyfel en teleurstellings na Hom toe gaan. Hy wil hê ons moet ons hart blootlê en ons vrae vra. Hy weet ons is mense en dat ons in ’n dowwe spieël kyk. Hy werk sagkens met ons wanneer ons onseker is. Hy bevestig sy beloftes herhaaldelik. Hy verwag nie van ons om perfek te wees nie; Hy wil wel hê ons moet eerlik wees.

Hoe lyk jou binneste vandag? Worstel jy dalk met woede, met teleurstelling, met twyfelvrae? Moet dit tog nie self probeer uitpluis nie; neem dit na die Here toe. Hy sal weet wat om daarmee te doen omdat Hy weet wat Hy met jou wil bereik.

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF