DEUR SIMONE GAUCHE
Met vanjaar se ‘Swart Vrydag’ agter die rug, staan ek steeds verstom oor hoe goed advertensiemaatskappye daarin slaag om mense daarvan te oortuig dat hulle dinge móét hê wat hulle nie werklik nodig het nie. Ek is in dié tyd deur advertensies toegegooi, die een ná die ander spesiale aanbod.
Jy waag jou beursie se inhoud as jy op jou foon kyk en al die versoekings sit en bestudeer. Daarom het ek liefs ook die winkels vermy soos ’n spieël ná die Kersvakansie.
(NOTA: Ek het wel goedkop(er) doeke en koffie gekoop. Ek is immers ’n mamma …)
Ons is in die weke wat ‘Swart Vrydag’ voorafgegaan het gereeld vermaan oor hoe om die dag te benader. Almal se raad het op dieselfde neergekom:
- Jy moet ’n wenslysie hê. Jy moet weet waarna jy soek. Moenie sommer net deur die kleurryke lys winskopies blaai nie. As jy nie ’n plan het nie, besit jy uiteindelik dalk ’n trollie vol items wat jy glad nie nodig het nie.
- Jy moet die pryse ken. Doen navorsing. As jy nie weet wat produkte kos nie, sal jy nie weet wat ’n werklike winskopie is en wat nie.
Dis minder as ’n maand voor Kersfees. Ons leef op die vooraand van die vierde vlaag van ’n pandemie wat ons leefwêreld die afgelope amperse twee jaar omvergewerp het. Daar is ’n nuwe variant van die gevreesde virus, en ons is weer in onsekerheid gedompel. Boonop blyk dit dat Suid-Afrika “gestraf” word omdat ons mediese kundiges dié variant kon identifiseer …
Dalk was die afgelope tyd vir jou in die algemeen donker, swart.
Jy het dalk iemand aan die dood afgestaan.
Jy weet dalk nie meer hoe om jou maandelikse uitgawes te dek nie – en nou lê Kersfees voor.
Dalk het jy daarna uitgesien om jou familielede van oorsee weer te siene te kry – en nou is jou drome soos ’n tas wat op die lughawe vergete staan en die vlug het reeds vertrek.
Dit bring my weer na die kenners hierbo se raad. Vra jou af:
Wat is op jou wenslysie vir Kersfees? Dalk moet jy jou wenslysie weer met ’n fynkam deurgaan en dit beperk tot die dinge wat jy werklik nodig het. Dalk moet ons, soos kinders, ’n briefie aan Kersvader skryf sodat ander dinge nie ons aandag aftrek van wat werklik belangrik is nie.
Op my wenslysie staan dat my geliefdes gespaar sal word, asseblief. Dat ek so bevoorreg sal wees om tyd saam met hulle deur te bring. As daar een ding is wat die pandemie ons geleer het, is dit dat die hemel hier op aarde is wanneer die Hemelvader ons laat aansit vir ’n feesmaal saam met geliefdes.
Dink mooi oor jou wenslysie en laat vaar die dinge wat nie saak maak nie. Dalk is die Kersete hierdie jaar minder perfek en miskien is die geskenke slegs handgemaakte kaartjies. Weet dan die gawe van saam wees en saam vier is van onskatbare waarde.
Wat is die prys wat jy vir Kersfees betaal? Ek kan nie anders nie as om myself te herinner aan waarom ons Kersfees vier. En dat die prys daarvoor reeds betaal is. Kersfees kos my niks – maar dit was vir seker geen winskopie nie; die duurste moontlike prys is betaal. Dít is wat ek vir my Vader werd was.
En net daar herinner ‘Swart Vrydag’ my aan die duisternis wat die aarde verswelg het op daardie donker Vrydag …
Hoor wat skryf die apostel: “Julle is losgekoop met die kosbare bloed van Christus, die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (1 Pet 1:19).
Mag jy hierdie Kersseisoen mooi dink oor jou wenslysie. En mag jy elke dag dankbaarheid ervaar omdat jy weet dat die prys wat vir jou betaal is oneindig groot is.
- Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.