Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wees bly oor ander se sukses

DEUR SIMONE GAUCHE

Ons leer ken Mirjam in die Ou Testament as ’n sterk vrou, ’n leier. In ’n tyd toe
dit baie swaar gaan met Israel in Egipte, help sy haar ma om haar bababoetie
se lewe te red. Die Kinderbybelprentjie van Mirjam en die baba in die
biesiemandjie by die rivier is dan ook, gelukkig vir haar, die beeld waarvoor sy
die beste onthou word.

LEES MEER: Het moeilike omstandighede jou moedeloos? Probeer jou fokus só skuif

Mirjam was ’n sterk leier, sy word selfs ’n profetes genoem. Sy het God gedien
en liefgehad. Nadat die Here die Egiptenare verslaan het, lees ons: “Mirjam die
profetes, suster van Aäron, het ’n tamboeryn gevat en al die vroue het met
tamboeryne agternageloop en gedans. Mirjam het vir hulle voorgesing: ‘Sing
tot eer van die Here omdat Hy hoog verhewe is. Perd en ruiter het Hy in die
see geslinger’” (Eks 15:20-21).

Moses, haar jonger broer, die een wat sy destyds in die biesiemandjie opgepas
het, was die man wat die volk uit Egipte gelei het op pad na die beloofde land.
En iewers op die lang reis luister ons na ’n gesprek tussen twee broers en hul
suster, ’n heftige woordewisseling tussen mense wat met bloedbande aan
mekaar verbind is.

Sien, Moses was met ’n Kussitiese vrou getroud, ’n buitelander. En Mirjam en
Aäron spreek hul jonger broer daaroor aan. Ons hoor by hulle egter niks van
die liefde wat daar tussen kinders van dieselfde ouers behoort te wees nie;
hulle val Moses behoorlik aan. Hulle skree sommer op die Here ook: “‘Het die

Here dan net deur Moses gepraat,’ wou hulle ook nog weet, ‘en nie ook deur
ons nie?’” (Num 12:2).

Hul bedoeling blyk duidelik: nie liefdevolle teregwysing nie, maar vernedering.
Die aanklag teen Moses oor sy vrou was bloot ’n voorwendsel. Dit verdoesel
dieperliggende gevoelens van onvergenoegdheid, selfs jaloesie.

En dan sê die Numeri-verteller: “Die Here het dit gehoor” (Num 12:2).

Die Here is in alles by ons betrokke, Hy is alomteenwoordig. Hy hoor. En Hy
tree in. Hy beskerm die man met wie Hy praat soos met ’n vriend (vgl. Eks 33:
11), die man wat Hy beskryf as “uiters sagmoedig”. Die Here hoor nie slegs die
woorde wat by Mirjam en Aäron se mond uitkom nie, Hy ken ook die bedoeling
van hul hart. Toe laat kom Hy hulle na die tent van ontmoeting. Hier bevestig
Hy Moses as sy profeet wanneer Hy vra: “Waarom was julle dan nie bang om
só met my dienaar Moses te praat nie?”

Mirjam word met melaatsheid getref. Moses kry haar egter jammer en tree vir
haar in: “Maak haar tog gesond, o God!” (Num 12:13).

Ná sewe dae word sy gesond en kan weer by die res van die volk aansluit.
Mirjam se poging om haar broer te verneder en meer aansien te ontvang, lei
tot ’n les in nederigheid.

Om te dink die Here het haar gebruik om die vroue te lei … Maar toe het sy te
veel op haar broer Moses se sukses begin fokus. Sy was jaloers op die pad wat
hy met God gestap het. En dit het tot gevolg gehad dat sy nie meer kon bly

wees oor sy sukses nie. Sy het haar lewe en roeping met syne begin vergelyk –
en dit het haar duur te staan gekom.

Hoe slaag ons daarin om bly te wees as iemand anders sukses behaal?

Deur op Jesus te fokus, en op die pad wat jý met Hom stap. As jy dit doen, en
jou uniekheid besef, die rede waarom God jou geskep het, word dit makliker
om namens ander bly te wees wanneer hulle sukses behaal. Elkeen se pad bied
eiesoortige uitdagings wat met elkeen se unieke sterk- en swakpunte aangepak
moet word. En wanneer ons ons oë op Jesus gerig hou, word alles om ons van
minder belang.

Dit is dán dat ons regtig bly word wanneer iemand anders sukses behaal.

  • Simone Gauche is ’n ma en ’n mediese dokter wat in die
    staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF