Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Wanneer dinge te veel word, sit neer jou bagasie!

Te veel mense dra te veel bagasie met hulle rond. Dit, terwyl die lewe hoeka nie maklik is nie. Dink ’n bietjie oor daardie dinge wat jou briek – en doen iets daaraan!

Te veel mense dra te veel bagasie met hulle rond. Dit, terwyl die lewe hoeka nie maklik is nie. Dink ’n bietjie oor daardie dinge wat jou briek – en doen iets daaraan!

Die lewe is wat jy daarvan maak

Daar word vertel van die ou tannie wat langs die pad deur ’n donkiekar opgelaai word. Die drywer sit haar tas voor by haar voete neer. Toe hy weer kyk, sien hy sy het dit op haar skoot getel.

“Hoekom, Tannie?” vra hy verbaas.

Haar antwoord?

“Die arme donkies trek reeds so swaar; ek wil dit nie vir hulle nóg swaarder maak nie.”

Dalk was sy regtig oor die donkies bekommerd. Waarskynlik wou sy bloot die tas so naby moontlik aan haar hou. Sy kies die swaar dra, sy het daaraan gewoond geraak. Sy ken nie die rykdom van ’n ligter lewe nie.

Wat gemaak wanneer dinge te veel raak?

Hier is 10 maniere om jou bagasie neer te sit

As daar dalk iets van hierdie verhaaltjie in jou lewe teenwoordig is, is hierdie tien uitnodigings spesiaal vir jou:

1. Gooi die griewe weg

Iemand het jou kwaad aangedoen en die bitter gevoel daaroor kom telkens weer by jou op. Ja, jy koester ’n grief. En as jy mooi hieroor nadink, sal jy besef dat juis dié gevoel jou lewe bitter maak.
Jy kan hiervan ontslae raak.

Een van die belangrikste dinge wat God aan ons doen, is dat Hy ons só rojaal vergewe dat ons vry word om ook te kan vergewe. Het jy geweet die vergifnis van ander is die enigste deug wat in die Ons Vader-gebed genoem word (Matt 6:12)?

Besluit dan om dit te doen, sê dit aan jouself en aan ander – en geniet die vryheid!

2. Sit daardie gevoel (die bagasie!) neer

Ons almal het gevoelens waarvan ons hou; daar is ook dié waarvan ons nie hou nie. By laasgenoemde is daar dalk dinge soos vrees of irritasie, of jaloesie of moedeloosheid.

Ons is geneig om sulke negatiewe gevoelens summier te veroordeel, maar dis nie noodwendig die beste ding om te doen nie. Gevoelens is liggaamlike werklikhede wat nie weggaan wanneer ons hulle afkeur nie. Dit gee hulle inteendeel nuwe energie.

Die beste manier om van ’n onaangename gevoel ontslae te raak, is om dit behóórlik te voel. Om dit te leer ken. Om dan te erken dat jy nou so voel.

Eers dán kan jy die gevoel “neersit”. Nou is dit nie meer op jou skoot nie. Al ry sommige daarvan lewenslank met jou saam.

3. Raak van die verwagtings ontslae

Jy verwag dalk meer van ander mense as wat hulle jou bied. En dalk verwag jy meer van die lewe as wat jy waarskynlik daaruit sal kry.

Dit alles het tot gevolg dat jy met ’n gevoel van teleurstelling leef, en dalk selfs verwyt. Jou omstandighede stel jou dikwels teleur. Jy is alte dikwels nié bly oor hoe hierdie situasie ontvou het nie.

En jy sukkel dan met Paulus wanneer hy skryf: “Wees in alle omstandighede dankbaar” (1 Tess 5:18).

Maar verstaan tog vir Paulus reg: Hy bedoel hier dat hy nie leef met allerlei idees oor wat hy moet ontvang nie, maar hy aanvaar die wel en wee van die lewe soos dit na hom toe kom.

En hoekom is hy dankbaar? Omdat elke situasie nou is soos dit is. Dit is die situasie waarin die Here nou by jou is, dit is hier waar Hy jou nou help en waar Hy jou nou seën.

4. Herbesoek jou doelwitte

Dis die regte ding om doelwitte te hê. Maar hulle moet soepel wees, aanpasbaar. Jy kán jou lewe beplan – maar die lewe “gebeur” ook …

Iewers is daar dalk ’n seun wat reken hy gaan soos sy pa presteer. Hy koester vaste idees oor hoe sy pad gaan verloop.

Maar sê nou hy aard meer na sy ma? Dan moet hy oopkop wees wanneer hy dit agterkom. En dan moet hy sy ideale aanpas, anders gaan hy ’n lewe vol frustrasie tegemoet.

Herevalueer jou doelwitte, en maak ’n plan met dié wat nie met die werklikheid rym nie.

5. Sê basta vir besittings – dit kan ook bagasie wees!

Die liefde vir geld en besittings word deesdae al hoe groter. Mense werk al hoe harder om dit in die hande te kry. En dis te verstane, want daar is wonderlike dinge wat elke dag jou oog vang en in jou hart kom inkruip.

Maar pasop! Jesus sê herhaaldelik dat jou liefde vir besittings ondergeskik moet wees aan jou liefde vir die goeie, vir God se wil. Indien dit nie so is nie, sal jou materialisme jou van God skei.

Hoe raak jy van hierdie gejaag na “geld en goed” ontslae? Daar is ’n Engelse reël hiervoor: “Don’t try to keep up with the Joneses, but let them get ahead and out of sight.”

Kortom: ’n Eenvoudiger leefstyl open jou hart vir die goeie. Jesus stel ’n ruiltransaksie voor: Sit neer jou bekommernis oor en jou liefde vir besittings en maak God se wil jou lewensdoel. Dan, sê Hy, sal God ook wat besittings betref vir jou sorg (vgl Matt 6:19-34).

6. Haal af die masker

’n Mens kan nie oral heeltemal deursigtig leef nie, en nie altyd met jou hart op jou mou nie. Maar baie mense lewe deurlopend agter ’n masker om ’n beter beeld van hulleself te probeer skep.

Hulle probeer wegsteek wat hulle regtig voel en dink, en hoe hulle eintlik is. Niemand kan hulle werklik leer ken nie en kan dus nie ’n goeie verhouding met hulle bou nie.

Daarom vereensaam en verarm gemaskerde mense.

Haal af jou masker. Aanvaar jou eie aard. Leef sover moontlik deursigtig. Jy sal verbaas wees om agter te kom dat mense meer van die “naakte jy” hou as van enigeen van jou indrukwekkende maskers.

7. Verpes perfeksionisme

Dit is lekker om dinge agtermekaar te hou, om alles reg te wil doen. Jy kan nie ’n selfoonboodskap met spelfoute stuur nie, jy kan nie uitgevang word as iemand wat ’n fout deurlaat nie.

Maar dit kan maklik te ver gevoer word. As jy jouself geen foute veroorloof nie, kan jy nie waag nie. En as jy nie kan waag nie, kan jy nie lewe nie.

Doen dít om van hierdie neiging ontslae te raak: Let goed op hoe jy voel wanneer jy ’n selfoonboodskap met ’n spelfout in wil stuur, leer ken hierdie gevoel – en druk dan die “stuur”-knoppie.

8. Roep halt met die media, ook sosiale media

Sosiale media en televisie kan jou lewe só vol loop dat jy later leeg voel.

En dit terwyl daar soveel ander maniere is om te ontspan waarby almal kan baat: goeie leesstof, musiek wat die hart raak, die genieting van die natuur, verrykende geselskap, die rustige saam wees met mense.

Maak seker dat jou selfoon nie hierdie dinge verdring nie. Kyk ’n bietjie na mense wat om dieselfde tafel in ’n restaurant sit. Praat hulle met mekaar? Kyk hulle na mekaar? Of kyk hulle net af op hul vingers wat met die selfoon besig is?

Is dit nie dalk soos jy vir ander mense lyk nie? Sit dan neer wat te veel is.

Lees gerus ook ons artikel oor skermverslawing.

9. Word bevry van werkverslawing

Dis mooi om ’n sterk arbeidsmoraal te hê, om fluks te wees. Arbeid adel – só is ons geleer en só leer ons ons kinders.

Maar dis ’n gevaarlike pad. Daar is deesdae in ons land en in die wêreld soveel wat dit vir mense moeilik maak om goed te vaar in hul werk: Daar is soveel mededinging, daar is sulke groot belonings vir dié wat goed vaar.

Die gevolg is dat baie mense se lewe deur hul beroep oorwoeker word. Al die ander kosbaarhede in die lewe – gesin, familie, gesondheid, natuur, kultuur, godsdiens – word dikwels afgeskeep. Dit kan so erg word dat sommige mense moet erken dat hulle nie weet hoe om nié te werk nie.

Hoe raak jy van werkverslawing ontslae? Dit sal nie maklik wees nie. Maar neem ’n besluit en hou daarby. Jy kan byvoorbeeld besluit dat daar sekere tye of dae is wat dit jou plig is om vry te wees, én om dit te geniet.

Wat van elke Sondag, byvoorbeeld?

10. Laat staan jou agterdog oor God

Diep in baie mense se psige weggebêre leef die idee van God as die Een wat jou dophou en beoordeel.
Só mis jy die werklike betekenis van Jesus se lewe. Dit is immers Hy wat die storie vertel het van die seun wat weggeloop het (Luk 15:11-32).

Daardie pa moes die seun wat eers uit sy vuil lewe terugkeer wanneer al sy geld opgeraak het swaar geoordeel het. Maar hy het nie.

Inteendeel: Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom, soen hom en hou ’n groot partytjie. Sy blydskap oor sy kind wat terug is, ken geen perke nie.

Só is God. Hy het lank genoeg gewag. Hy hardloop sy wegloopkind tegemoet.

Geskryf deur Willem Nicol.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF