Ofskoon verslawing meestal met drank- en dwelmmisbruik in verband gebring word, is die onsigbare digitale kloue van die kuberruim vandag ’n selfs groter bron van kommer. En die gevare daarvan ’n geldige rede tot drastiese ingryping vir die hele gesin.
Dis die laaste ding wat ons saans afskakel en die eerste waarna ons soggens gryp. Of dit nou ’n slimfoon of televisieskerm is, die syfers skets ’n skrikwekkende prentjie: Suid-Afrikaners bring die meeste tyd, wêreldwyd gereken, voor ’n skerm deur.
Volgens die Global Digital Report 2024 is Suid-Afrikaners se oë sowat nege-en-’n half uur per dag op ’n skerm vasgenael. Dis aansienlik hoër as die wêreldgemiddeld
van ses uur en veertig minute per dag.
Nie net bring ons tot 60% van ons “wakker-tyd” aanlyn deur nie, maar 67% van ons voorskoolse kinders sit baie meer as een uur per dag voor ’n skerm – en dít is die perk wat deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vir sulke kinders aanbeveel word.
’n Gevaarlike gedragsversteuring
Hoewel skermverslawing nie deur die WGO erken of in die Diagnostiese en statistiese handleiding van geestesversteurings (DSM-5) opgeneem is nie, sê die neurowetenskapkenner en kampvegter vir digitale welstand, dr Marlena Kruger, dit beteken nie ons moet hande gevou sit nie.
Marlena is ook die stigter en hoof van MindUnique Education en die TechnoLife Wise-stigting. Sy sê: “Die ongesonde houvas van alle tegnologie behoort, soos met internetspeletjieversteuring (oftewel Internet Gaming Disorder), as ’n gedragsversteuring beskou te word.
“Die potensieel gevaarlike uitwerking van tegnologie en die uitwerking wat dit op ons liggaamlike en geestesgesondheid kan hê, noodsaak daadwerklike ingryping.”
Hanlie Degenaar, spraak-taalterapeut en kliniese bestuurder van die Centre for Health and Human Performance: Care2Kids aan die Noordwes-Universiteit (NWU), sê dat talle studies en die waarneming van skermgedragpatrone uitwys dat daar genoeg rede tot waaksaamheid is, veral wat kinders betref.
“Verskeie studies het bevind dat kleuters sowat twee-en-’n-half uur skermtyd per dag het, teenoor minder as twee ure speeltyd en slegs sewe minute voorleestyd.
“Daarby is ouers oor die algemeen swak ingelig oor ouderdomtoepaslike digitale inhoud. En skerms word dikwels as ’n gerieflike oppasser ingespan.”
Gevolge van te veel skermtyd
Vetsug, diabetes, hoë bloeddruk, slaapsteurings en sigverswakking word dikwels as gevolge van te veel skermtyd aangemeld.
“Slaapsteurings word veroorsaak deur die blootstelling aan skerms se blou lig, wat die afskeiding van melatonien verminder. Laasgenoemde is die hormoon wat die liggaam se sirkadiese ritme reguleer.” Só sê dr Dirk Lombard, ’n medikus in Kemptonpark. Hy voeg by: “Kinders se oë is nog aan ’t ontwikkel, en latere nabysiendheid
is ’n wesentlike moontlikheid indien hulle nie genoeg geleentheid kry om afwisselend naby en ver te fokus nie. Dit belemmer die ontwikkeling van die oogspiere en gevolglik hul leesvermoë.
“By tieners en volwassenes hou skermtyd ook verband met swakker slaappatrone en oogspanning, asook hoofpyn, nek- en rugpyn, en postuurprobleme.”
Volgens Johan Koekemoer, hoof van onderrig en leer by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, is daar ’n regstreekse verband tussen skerms en kinders se taalvaardigheid.
Hy sê: “Verskeie studies dui ’n verband aan tussen oormatige skermtyd en laer vlakke van taalvaardigheid omdat skermtyd speel, voorlees en gesprekvoering inperk.
“Die brein is nie gemaak om ongereguleerde hoeveelhede dopamien te absorbeer nie. Dopamien is ’n kragtige neuro-oordragstof wat aandag, belangstelling en ‘goedvoel’ aanwakker. Ons dink ’n kind is rustig en soet met ’n skerm in die hand, terwyl hy of sy eintlik ‘hoog’ is, net soos met dwelmverslawing.
“Kinders moet boom klim en modderkoekies bak!”
Meer speel, minder skerms
Volgens Marlena dra beweging aktief by tot die ontwikkeling van senuweenetwerke, wat die boublokke vorm vir ontwikkeling op alle vlakke. “Skermtyd is een van die grootste redes vir die ongekende toename in kinders met oogprobleme,” sê sy. “Asook neurologiese en leerversteurings, soos elektroniese skermsindroom (ESS), aandaggebrekhiperaktiwiteitsversteuring (AGHV), outisme, en kompulsiewe en onbeheerbare gedrag.”
Hanlie voeg by: “Roetine-aktiwiteite ding mee met die kitsopwin-ding wat skerms bied. Dit lei dikwels tot uitdagende gedrag wanneer opdragte uitgevoer moet word. Die brein pas aan by die dopamienproduksie en soek telkens meer daarvan om dieselfde vlak van be-vrediging te ervaar.
“Die uitwerking van skerms is ’n tweesnydende swaard. Depressie, ’n swak selfbeeld, angstigheid, isolering, impulsiwiteit en verhoudingsprobleme lei nie net tot skermverslawing nie, maar is dikwels die uitvloeisel daarvan.”
“Om al hierdie redes,” sê Marlena, “is skermtoegangbeheer en oop gesprekke tussen ouers en kinders onontbeerlik.”
Tekens van skermverslawing
By babas en jong kinders
- Hulle fikseer op ’n skerm, sonder om aandag aan ander visuele of ouditiewe stimuli te gee. Babas se slaap- en eetpatrone kan ook beïnvloed word.
- Uitdagende gedrag, irritasie en weerstandigheid wanneer skermtyd ingeperk word.
- Hulle verloor belangstelling in speel en in sportdeelname.
- Maaltye word peuseltyd voor ’n skerm. Of die kind weier om te eet tensy ’n skerm sy of haar aandag aflei.
- Hulle speel nie verbeeldingspeletjies nie, maar boots skermmedia na.
- Hulle sukkel met saamspeel of hulle toon afknouerige gedrag.
- Hulle sukkel om te slaap en is angstig.
- Hulle is impulsief en toon ’n onvermoë om te weet wanneer iets gevaarlik is.
By tieners en volwassenes
- Hulle bring meer tyd aanlyn deur as saam met vriende en ander mense.
- Skermgebruik versteur hul slaapgehalte.
- Min dinge maak hulle gelukkig, tevrede of opgewonde – behalwe skermtyd. Hulle verkies ’n skerm bo sosiale interaksie.
- Skerms is ’n bron van gereelde konflik in die huis.
- Wanneer hulle skermtyd wegsteek, ontken of ’n skerm skelm gebruik. Ouers moet te alle tye weet waarmee (en met wie) hul kinders op hul foon besig is.
- As hulle rusteloos of angstig voel wanneer hulle noodgedwonge die foon soms moet afskakel, tuis los of ignoreer.
- Wanneer dit vir hulle moeilik is om hul aandag by hul dagtaak te bepaal.
- Wanneer hulle baie geld aan skerms, toepassings en data bestee.
Wees tegnologie se baas
Volgens Johan moet die kringloop van sneller – roetine – beloning gebreek word. “Gaan toilet toe met ’n boek pleks van jou foon. Beperk wifi-toegang tot sekere dele van die huis, asook sekere tye van die dag.
“Ure se aanlyn gesnuffel laat ’n mens onvergenoegd. Dit ontneem jou van outonomie oor jou denke en dit ry kreatiwiteit in die wiele.
“Ons moet opnuut na ons houding, waardes en ingesteldheid kyk. ’n Mes in ’n bendeleier se hand maak dood, maar in ’n chirurg se hand red dit lewens.”
Marlena stem hiermee saam en sê ’n gesin moet gehaltetyd saam deurbring. Hulle moet sosialiseer, dieper verhoudings bou, speel en lag, tyd buite deurbring en die vreugde en kosbaarheid in elke oomblik waardeer.
“Daar is ’n tyd en plek vir alles,” sê dr Kim Laxton, psigiater by die Netcare Akeso Crescent Clinic in Randburg. “As jy in ’n restaurant of tuis onafskeidbaar van jou foon is, sal jou kinders dié voorbeeld volg.”
Prof Elmari Deacon, hoof van die Skool vir Psigososiale Gedragswetenskappe aan die NWU, beveel die volgende aan:
- Bewustheid: Stel jou en jou kinders se fone om sekere toepassings ná ’n bepaalde tyd te sluit, tensy jy self dié tyd verleng. Dit sal jou bewus maak van hoeveel tyd jy aanlyn deurbring en dit sal jou help om jou kinders se blootstelling te monitor.
- Balans: Wees kreatief of skeppend, oefen of stap, en ontdek jou selfwaarde weg van jou foon. ’n Skermblaaskans is ’n belegging in jou algehele welstand. Lees eerder ’n dagstukkie of luister ’n liedjie wat jou in die regte luim vir die dag kry.
- Beheer: Stel riglyne oor skermgebruik en hou daarby. Bou en koester persoonlike verhoudings en sosiale interaksie.
“Soos ons rentmeesters op hierdie aarde is, net so moet ons leer om tegnologie tot ons voordeel te gebruik,” sê Elmari.
Hiermee is Hanlie dit eens. Sy sê die gebruik van digitale leerervarings kan nooit boeke, eksperimentele leer, speel, praktiese handwerk en skryf vervang nie.
“Dis ’n kwessie van balans, byna soos met ’n gebalanseerde dieet. Daar is ruimte vir sjokolade én slaai. Aan die een kant is matigheid, slim keuses en betyds rem trap; aan die ander kant hou jy die skaal en jou klere dop om seker te maak dinge is in ewewig!”