Hoe pynlik sal my operasie wees? Dis wat jy vooraf wonder. En ná die operasie vra almal: “Is dit seer?” In ons kop is “pyn” en “operasie” sinoniem met mekaar. Die grootste risiko is egter bloedklonte, veral ná ’n operasie aan jou bene, arms, skouers, heupe, rug en om jou pelvis.
Bloedklonte in die liggaam: Hoe groot is jou risiko?
Navorsing wêreldwyd wys dat daar by een uit elke drie mense bo vyftig ’n bloedklont ná ’n operasie ontwikkel. Een uit elke vier van dié mense sal skielik en sonder enige waarskuwing sterf. Lank nadat jy van die pyn en selfs van die operasie vergeet het, kan jy steeds een van daardie vier mense wees in wie se liggaam ’n bloedklont ontwikkel.
Hoe om bloeklonte te voorkom
Jy kan heelwat doen om bloedklonte te help voorkom. Hier is enkele riglyne:
- Vertel jou dokter van al jou chroniese medikasie. Die dokter sal waarskynlik iets voorskryf wat bloedstolling keer. Sommige chroniese medikasie laat hierdie pille egter beter óf slegter werk, en in laasgenoemde geval kan dit selfs dodelike gevolge hê. Om dubbel seker te maak: Vra jou apteker om ook te kyk of al jou voorskrifmedikasie met mekaar sal saamwerk of nie.
- Moenie die ekstra pille weggooi nie. Jy gaan waarskynlik met ’n klomp pille huis toe. Dis oukei om op te hou om pynpille te gebruik wanneer die pyn gewyk het. Die bloedverdunner is egter ’n heeltemal ander saak. Jy het dit minstens twee weke lank nodig – en baie dokters sê tot drie maande.
- Roer en woel. Beweging is van die beste maniere om bloedklonte te verhoed, want dit hou jou bloedsomloop aan die gang. Staan op en loop soveel as wat jy kan. Draai lekker ritmiese musiek se volume hóóg, en swaai jou arms rond soos vir ’n lekker loslit-dans. Bal jou vuiste en skiet jou vingers uit. Lig jou bene. Of rol en spits ten minste jou voete. Wikkel die tone!
- Dra kompressiekouse. Dié kouse is nie ’n mode-item of bloot “nog ’n uitgawe” nie. Dit help ook met jou bloedsomloop.
- Kyk mooi vir bloukolle en swelsels, en meld dit aan. As jy nou maklik bloei, of jy kry bloukolle ná ’n ligte stampie, moet jou medikasie dalk aangepas word. ’n Swelsel aan jou onderbeen is ’n teken dat ’n bloedklont gevorm word.
Hoe lank neem dit vir bloedklonte om op te los?
Daar is baie faktore wat ‘n rol speel, insluitende ouderdom, gewig, familiegeskiedenis en algehele gesondheid. Dit kan weke tot maande neem vir ‘n bloedklont om op te los, afhangende van die grootte van die bloedklont. Jy kan die bostaande lysie volg om jou deel te doen om bloedklonte te voorkom of beter te beheer.
* Dié kort artikel, geskryf deur Salomé Delport, het deel gevorm van die gedrukte LiG se maandelikse gesondheidsrubriek wat in die 2021-Somer/Kersfeesuitgawe verskyn het.
* Salomé Delport is ’n gesoute joernalis wat gek is daarna om oor gesondheid te skryf, omdat niemand superfiks of modelskraal hoef te wees om gesond te leef nie. Gesondheid fassineer haar, omdat daar altyd iets nuuts is, altyd meer om uit te vind, en altyd interessante perspektiewe is om op ’n maklike manier gesond te bly.
Lees ook: Toets voor dit te laat is vir kanker, diabetes en hartkwale.