Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die huwelik en skermtyd: waar trek jy die lyn?

Die huwelik en skermtyd

Kom ons wees eerlik oor die onderwerp rondom die huwelik en skermtyd: hoeveel van ons se aandag gaan oombliklik na ons slimfoon wanneer dit piep, ten spyte daarvan dat ons lewensmaat met ons gesels? Sodra daardie skermpie aangaan, word ons brein geaktiveer en ons vergeet skoon dat ons maat iets gesê of gevra het. 

Die huwelik is gevul met uitdagings en afleidings. Maar waar trek ons die lyn om gesonde grense in plek te kry en sosiale media-gebruik binne die huwelik beter te bestuur?

Statistieke oor huwelike in Suid-Afrika en elders

In Suid-Afrika sowel as wêreldwyd word huwelike minder alledaags. Mense trou later en ongetroude paartjies besluit om saam te woon eerder as om voor die kansel te gaan staan. Data wat deur Statistieke SA in Februarie 2023 vrygestel is, toon dat daar 106 499 huwelike gedurende 2021 geregistreer is in vergelyking met 161 112 gedurende 2012. 

Volgens Family Laws South Africa kan die afname in huwelike in Suid-Afrika gedurende die afgelope dekade toegeskryf word aan faktore soos ekonomiese onsekerheid, verandering van sosiale norme, huwelike wat afgestel word weens onderrig- en beroepsredes, en die keuse om saam te woon eerder as om te trou.

Ten spyte van die bogenoemde statistieke, blyk die hoofrede waarom mense steeds trou die feit dat hulle algehele geluk en lewensbevrediging beleef, in vergelyking met mense wat nie ’n eggenoot het nie. Dit is bemoedigende nuus vir getroude paartjies. En ook vir díe wat nog nie in die huwelik verbind is nie, maar wie se gedagtes kansel toe staan.

Huwelike en sosiale media

Die National University in San Diego toon in ‘n studie aan dat 66% van volwassenes wat getroud of in ‘n toegewyde verhouding is, sosiale media platforms soos Facebook as ‘n integrale deel van hulle lewe beskou. 

Volgens ‘n 2022 verslag van Statista spandeer die gemiddelde internetgebruiker ‘n totaal van 151 minute per dag op sosiale media. Dis ‘n gemiddeld van twee en ‘n half ure per dag. Die National University-verslag beaam dit, maar deel ook voor- en nadele van sosiale media in die huwelik:

Die voordele van sosiale media in verhoudings

Die grootste hulpmiddel wat sosiale media kan bied, is meer gereelde kontak (oftewel ‘connectedness’) – veral vir paartjies wat ver van mekaar woon of wat gereeld reis vir werk. 

Die ander voordeel wat sosiale media vir paartjies bied, is om meer gereeld te kommunikeer en gedeelde ervarings te koester deur foto’s, video’s en boodskappe. Dít kan dan weer dien as ‘n manier om met mekaar verbind te bly wanneer die paartjie nie by mekaar is nie. 

Dr Greg Smalley van Focus on the Family wys ook uit dat getroude paartjies die geleentheid het om ánder positief te beïnvloed deur boodskappe op sosiale media te deel wat bemoedigend en inspirerend is. Hy sê om huwelike op sosiale media te eer, moet ons onsself herinner aan God se plan vir die huwelik, volgens Hebreërs 13:4: “Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word.”

Lees ook ons artikel, “Die invloed van sosiale media op kinders en tieners”.

Die nadele van sosiale media in verhoudings

Volgens ‘n studie deur Pew Research is 40% van paartjies ontevrede oor die hoeveelheid tyd wat hulle maat op hulle slimfoon spandeer. Dieselfde studie het getoon dat sosiale media daartoe bydra dat hulle gevoelens van jaloesie en onsekerheid beleef; veral wanneer hulle maat gereeld met ander op sosiale media platforms gesels.

‘n Studie genaamd ‘Computers in Human Behavior’ het ‘n beduidende verband gevind tussen sosiale media-gebruik en die afname in die kwaliteit van huwelike. Die studie het getoon dat diegene wat nie sosiale media gebruik nie, gelukkiger in hulle huwelik is as díe wat gereeld sosiale media gebruik. 

“Sosiale media is ‘n afleiding wat die fokus van gesonde interaksie tussen paartjies kan wegskuif. Sosiale media-gebruik kan kompulsief word,” sê Dr Darren Adamson van die departement huweliks- en gesinswetenskappe van die National University.

Kliniese maatskaplike werker van Huntsman Mental Health Institute, Jessica Holzbauer verduidelik hoe die ontwerp van slimfone juis van so ‘n aard is dat dit verslawing aanwakker. “Elke keer wanneer ons ons slimfoon optel of inteken op sosiale media, stel ons brein dopamien vry. Sosiale media toepassings is dus eintlik besig om die brein te leer om te glo dat jy jouself beloon elke keer wat jy jou toestel optel.” Dit hou beslis ‘n gevaar vir ‘n huwelik in.

Huwelik en skermtyd: Riglyne om sosiale media-gebruik beter te bestuur

Moenie sosiale media gebruik om jou huwelik of verhouding met ander te vergelyk nie. “As jy dan nou moet vergelyk, vergelyk eerder jou verhouding vandag met waar julle ‘n jaar terug, of selfs vyf of tien jaar terug was. Laat die resultate van die vergelyking jou lei om positiewe veranderinge aan te bring, eerder as om negatief daarna te kyk,” sê Adamson.

Lees ook ons artikel, “Lesse geleer uit die huwelik en wenke vir ’n beter huwelik”.

Huwelik en skermtyd: 10 wenke om sosiale media in die huwelik beter te bestuur

  1. Moenie op sosiale media deel net na ‘n argument of stryery nie.
  2. Wees mekaar se grootste ‘fan’ of volger.
  3. Vermy vergelyking (soos hierbo genoem).
  4. Beheer skermtyd en sit grense in plek wanneer julle afskakel van sosiale media.
  5. Wees eerlik oor wat jy deel en moenie geheime hou nie.
  6. Moenie jou eks opsoek nie.
  7. Moenie iets op sosiale media deel wat jou maat in ‘n slegte lig plaas nie.
  8. Wees versigtig wie jy volg en wat jy ‘like’.
  9. Beperk wat jy deel op sosiale media, en vra jou maat (en kinders!) vooraf of jy iets kan deel.
  10. Beplan sosiale media-vrye tye; pak die toestelle weg en doen iets wat verhoudings bou, soos om saam te eet, te oefen of sommer net te gesels sonder enige afleidings.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF