Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

Lesse geleer uit die huwelik en wenke vir ’n beter huwelik

Lesse geleer uit die huwelik en wenke vir ’n beter huwelik

Niemand trou met die oog op ’n egskeiding nie. Tog is gebroke huwelike deesdae ’n alledaagse verskynsel, soos berig deur Stats SA in Is marriage an old-fashioned institution. ’n Tweede of selfs ’n derde huwelik is niks vreemds nie. Is daar iets wat jy uit jou eerste huwelik wys geword het wat kan verhoed dat jy met ’n volgende een in dieselfde strikke trap? Hier is lesse geleer uit die huwelik en raad vir ‘n gesonder toekomstige huwelik.

Lesse geleer uit ’n vorige huwelik: Vriende eerder as eggenote

Isabel* was ses jaar lank getroud. As sy nou aan dié huwelik terugdink, weet sy dat sy en Pieter* eerder goeie vriende as lewensmaats was. Hulle het ná die geboorte van hul eerste kind van mekaar begin weg dryf.

“Ons moes eintlik nooit met mekaar getrou het nie,” sê sy. “Maar as ek nou daarop terugkyk, het die verhouding my tog geleer dat ’n mens baie eerlik met jouself moet wees. Ek het eintlik voor die troue reeds my bedenkinge oor ons verhouding gehad. Maar ek het die twyfel-stemmetjie gou stil gemaak. Ek het geglo ’n vrou moet voor dertig trou, anders is sy ’n oujongnooi.

Geborg

“Met my tweede huwelik het ek uit die staanspoor geweet ek het my sielsmaat ontmoet. Ons is nou reeds langer as tien jaar getroud, en hoewel dit nie elke dag maanskyn en rose is nie, weet ek dis waar ek moet wees.

“Ek weet nou dat elke huwelik sy eie storms te bowe moet kom. Maar solank daar liefde en respek is, kan jy amper enigiets oorwin.”

Lesse geleer uit die huwelik: Wanneer die fokus verskuif

Linda* se storie is nie ongewoon nie: Sy het haar eerste man op skool ontmoet, en ná hul troue het hulle elkeen op hul eie loopbaan gefokus en tussendeur kinders grootgemaak.

Vandag sê sy: “Ek dink ’n mens se fokus verskuif gaandeweg en jy bestee jou energie op alles behalwe jou huwelik. Stadig maar seker begin julle by mekaar verby leef. Julle kommunikeer nie meer regtig nie; julle probeer net oorleef.

“En op ’n dag het julle niks meer vir mekaar te sê nie. Julle ken mekaar nie meer nie. Julle hou nie eens meer van mekaar nie.”

Geborg

Kommunikasie bly die belangrikste maatstaf in ’n huwelik

Linda sê sy het uit haar eerste huwelik geleer hoe belangrik dit is om werklik te kommunikeer. “Nou bestee ek baie tyd daaraan om met André* te gesels. Ons praat oor alles, ons lag baie. Hy is my beste maat.

“Ek dink wel alles is nou ’n bietjie makliker, omdat ons kinders reeds uit die huis is. En ons is in ons onderskeie loopbane gevestig. Ek het nou meer tyd, en ek het die emosionele krag om aan ons huwelik te werk. Om werklik daaraan aandag te gee.”

Linda sê jy moet letterlik elke dag aan jou verhouding werk. Dit beteken onder meer om elke dag aan jou maat en sy of haar vrese verbonde te bly. “Dis die enigste manier waarop jul bootjie in een rigting sal bly seil.”

God versterk die huwelik

Louise* het haar eerste man, Francois*, deur gesamentlike vriende ontmoet. Hulle het lank uitgegaan en is later getroud. Die krake was egter gou sigbaar.

Wanneer sy nou terugdink, besef sy hoe naïef sy was. “Jy gaan niemand ná die troue verander nie. En soms dink jy dit sal beter gaan as daar eers kinders is, maar dit werk ongelukkig nie so nie.

“Daarby was ek daarvan oortuig dat liefde genoeg is om alle verskille te oorbrug, maar ons het verskillende waardes gehad en ons prioriteite het verskil. Ek reken egter die feit dat ons nie die Here saam gedien het nie, het die einde van ons huwelik beteken.”

In dié tyd het Louise se jare lange vriendin se bidgroep vir haar ingetree. Johan* was deel van die bidgroep en het na haar uitgereik. Louise was gevlei. Hy het boonop baie aandag aan die kinders gegee, en Sondae het hulle saam kerk toe gegaan. Hy het ook gereeld Bybelversies na haar foon gestuur, en mettertyd het sy uit die gat gekom waarin sy haar bevind het.

Geborg

Is die volgende huwelik die antwoord?

Louise en Johan het gou getrou. Te gou. Sy het nog nie kans gehad om die egskeiding te verwerk nie.

Sy vertel: “Johan het my leer ken as iemand wat hulp nodig gehad het. Ek was ’n afvlerk-voëltjie. Ek dink hy wou my uit die situasie red, maar hy het nie op die regte Louise verlief geraak nie. Ek reken dit was ons grootste fout. Ons het te gou getrou, ons het mekaar nog nie werklik geken nie.

“Buitendien was hy 26 jaar lank alleen, en dit was vir hom moeilik om hom weer aan iemand, en daarby ’n gesin, te verbind. Hy is ook 12 jaar ouer as ek, en dit het sy eie komplikasies meegebring.

“Daar is waarskynlik meer werk aan ’n tweede huwelik as wat ons dink. Indien al twee kinders uit ’n vorige huwelik het, word dit selfs meer kompleks. ’n Saamgestelde gesin is nie ’n eenvoudige saak nie.”

Agt wenke vir ’n beter huwelik

Hier is die lesse wat geleer is uit vorige huwelike en waarby enige paartjie kan baat:

  1. Praat met mekaar, al is dit hoe moeilik. Kommunikasie is koning!
  2. Albei partye moet hulle volledig aan mekaar toewy.
  3. Doen moeite om mekaar se “bagasie” te verstaan. Leer om nie alles persoonlik op te neem nie. Soms is dit inderdaad net bagasie …
  4. Aanvaar mekaar vir wie en wat julle is, en stel saam doelwitte.
  5. Moenie dat leuens deel van jul huwelik word nie. Kweek eerder goeie gewoontes.
  6. Die huwelik bestaan uit twee mense met verskillende en selfs uiteenlopende ervarings, herinneringe en teleurstellings. Die moeite wat jy tans met jou huwelik doen, gaan bepaal wat jy later daaruit sal kry.
  7. Bid vir jou huwelik! Sluit aan by ’n gebedsgroep en kom weekliks byeen. ’n LiG-leser laat weet: “Ek het ’n gebedsgroep begin – ons noem dit Praying Wives. Ons ondersteun mekaar.”
  8. Jesus is die vernaamste Persoon in jul huwelik. Nog ’n LiG-leser sê: “Ek probeer liefhê soos Hy liefgehad het, omdat Hy my eerste liefgehad het.”

* Skuilnaam

Oorspronklike artikel geskryf deur Ilette Coetzer vir LiG.

Geborg

Lees ook gerus ons artikel, “Hoe weet jy of jou huwelik gesond is”.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.