Hoe beïnvloed sosiale media ons tieners en kinders? Watter rol speel dit in hulle vriendskappe? En die manier waarop hulle dink oor die lewe? Ons het gaan ondersoek instel oor hierdie fenomeen en die impak van sosiale media. In hierdie artikel kyk ons na die voordele en nadele van sosiale media, en kyk ook wat die Bybel ons daaroor leer.
Volgens ’n 2024-verslag oor internetgebruik is daar tans meer as 5,04 biljoen sosiale media-gebruikers. Dit beteken dat meer as die helfte van die wêreld se bevolking (62,3%) sosiale media verbruik. Boonop groei die gebruik van sosiale media eksponensieel. In 2023 is gevind dat daar ’n gemiddeld van 266 miljoen nuwe gebruikers per jaar is. Sosiale media raak beslis ’n al meer integrale deel van ons lewe.
Mary Alvord, ’n kliniese sielkundige van Maryland in die VSA en adjunkprofessor by George Washington Universiteit beaam dit:
“Sosiale media is hier om te bly. Dit beteken egter nie dat ons die gevare daarvan moet aanvaar nie. Ons besluit tog wanneer ons kind oud genoeg is om ’n motor te bestuur, en daarmee saam leer ons hulle hoe om ‘n goeie motorbestuurder te wees.
“Net so moet ons riglyne neerlê en ons kinders leer hoe om sosiale media veilig en verantwoordelik te gebruik.”
Dit is egter makliker gesê as gedaan. Sosiale media-gebruik is dikwels ’n tameletjie vir tieners én ouers. Ons rol as ouers is egter om hulle te begelei om sosiale media verantwoordelik te bestuur. En op ’n manier waarin hulle hul Christelike waardes uitleef. In 1 Korintiërs 10:31 staan: “Of julle eet en of julle drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God.” Dit sluit ons aksies en interaksies op sosiale media-platforms in.
Sosiale media en vriendskap. Wat sê die Bybel daaroor?
Tieners bou vriendskappe op sosiale media – dit is voor die hand liggend. Hier ontmoet baie tieners mekaar en deel gemeenskaplike belange. Daar is ’n samesyn en sosiale media gee hulle die geleentheid om hulleself uit te druk sonder die teenwoordigheid van ouers of onderwysers. As ouers kan ons egter vir tieners leer wat die Bybel oor vriendskap sê, en dat hierdie waardes ook op sosiale media uitgeleef moet word.
Die Bybel leer ons dat goeie vriendskap:
- Eg en sterk kan wees soos die band tussen ’n broer of suster (Spr 18:24)
- Wyse mense se geselskap moet opsoek (Spr 13:20)
- Bereid sal wees om jou eie lewe vir jou maat af te lê (Joh 15:13)
- Ons help om te groei (Spr 27:17)
- Staande bly deur die moeilike tye (Spr 17:17)
Sosiale media en die Bybel
Natuurlik was daar nie sosiale media toe die Bybel geskryf is nie. Maar die Skrif is baie duidelik oor watter soort boodskappe aanvaarbaar is om met mekaar te deel. En wat God verafsku.
Die Bybel leer ons dat die volgende media aanvaarbaar is en vir God tevrede stel:
- Alles wat waar, edel, reg, rein, mooi, en prysenswaardig is – daarop moet ons ons gedagtes rig (Fil 4:8)
- Dit wat sonde aan die kaak stel (Ef 5:11)
- Dit wat ons help om in dankbaarheid te leef (Ef 5:19-20)
- Boodskappe wat die evangelie verkondig (Jes 52: 7)
- Dit wat wettig in ons land (en aanlyn) is (Rom 13:1-2)
Ons word aangeraai om weg te bly van media wat:
- Bedrieglik is (1 Kor 15:33)
- Boos is (1 Tes 5:22)
- Vol leuens en ’n geskinder is (Jak 3:5-11)
- Veroorsaak dat ons sonde pleeg (Mark 9:43-47)
- Ontug pleeg, onsedelikheid of gierigheid aanmoedig (Ef 5:3)
- Ander afbreek (Ef 4:29)
Hoe pas ons hierdie Bybelse beginsels op ’n praktiese manier toe?
Spreker en onderwyser Faith Siler van Kalifornië verduidelik die gevaar van sosiale media só: “Ons pas ons foto’s en onderskrifte só aan, dat dit lyk asof ons meer interessant as iemand anders is. Net sodat ons in die kompetisie waaraan ons op ’n onderbewuste vlak deelneem, kan bly. Ons vergelyk onsself met ander, terwyl ons harte smag om nie aanlyn verwerp te word nie. Want as al ons perfekte vriende moet weet hoe gebroke en onvolmaak ons eintlik is, sou hulle ons uit die kompetisie skop.”
Op sosiale media-platforms is die klem op die uiterlike. Ons wil mooier, maerder en ouliker lyk, terwyl die fokus eerder moet wees op dít wat diepte en ewigheidswaarde het. “Ons moet daarop fokus om beter lief te hê, beter te deel en beter daarin wees om met respek teenoor mekaar op te tree. Om jou die heeltyd met ander te vergelyk, is een van die vyand se grootste maniere om jou van God se plan vir jou lewe weg te lei.”
In die artikel A Christian Teen’s Guide to Social Media, verduidelik Gerald Koh hoe belangrik die waarheid is. “Die glorieryke waarheid, dat ons waarde nie in prestasie of in ander mense se opinie van ons opgesluit lê nie, maar in Christus, behoort ons aan te spoor om God se wil na te jaag eerder as ’n verbygaande sosiale reputasie of ’n tydelike gevoel van verhoogde selfwaarde.”
’n Oorsig van die voor- en nadele van sosiale media
Daar is heelwat te sê oor hoe sosiale media as ’n positiewe hulpmiddel gebruik kan word. Dan is daar ook net soveel te sê oor die nadelige uitwerking daarvan. Lees ook ons artikel, ‘Die invloed van sosiale media op kinders en tieners’, waar ons die sielkundige uitwerking van sosiale media ondersoek.
5 nadele van sosiale media
- Negatiewe impak op geestesgesondheid. Ure op die slimfoon kan veroorsaak dat tieners nie genoeg slaap kry nie, en aan te min fisiese aktiwiteite deelneem. Hierdie faktore kan weer ’n sielkundige uitwerking op jou tiener hê. Ons artikel (soos hierbo genoem) werp verdere lig op die onderwerp.
- Blootstelling aan kuberboelies en veiligheidskwessies soos sensitiewe data wat deur sosiale media verkry word.
- Skadelike inhoud.
- Gebrek aan regte en gesonde sosiale interaksies met maats.
- Gebrek aan beweging en fisiese aktiwiteit wat nadelig is vir gesondheid en ontwikkeling.
5 voordele van sosiale media
- Tieners vorm hulle eie opinie en leer om onafhanklik te dink. Veral wanneer hulle aktief betrokke raak by sosiale kwessies via aanlyn forums.
- Jongmense gebruik graag sosiale media-platforms om hulleself kreatief uit te druk.
- Tieners leer by ander wat dieselfde belangstellings as hulle koester.
- Wanneer situasies op ’n gesonde manier hanteer word, kan sosiale media tieners leer hoe om konflik op te los en beter te hanteer.
- Sosiale media bied jongmense die geleentheid om hulle geloof met passie uit te leef en te deel.