Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Die Spreuke 31 vrou: Wat het sy van goeie finansiële beplanning geweet?

Die Spreuke 31 vrou: Wat het sy van finansiële beplanning geweet?

Die Spreuke 31 vrou is ’n ikoniese figuur wat besing word as die toonbeeld van deug en bekwaamheid. Sy is ’n vrou van edele karakter en word geprys vir haar werksetiek, wysheid en toewyding aan haar gesin. Sy dien as inspirasie en hulp vir vele, maar in ons moderne samelewing waar die verantwoordelikhede van vroue deurlopend toeneem, hoe handhaaf ’n mens hierdie balans tussen die versorging van ander en jou eie finansiële welstand?

Die Spreuke 31 vrou sou vandag haar geldsake só bestuur

Vroue is dikwels die primêre versorgers in hul gesin en hoewel dit ’n kritieke rol is, kom dit dikwels ten koste van hul eie finansiële gesondheid. Te veel vroue skeep te lank hul eie finansiële sake af omdat hulle op die welstand van ander ingestel is. Navorsing toon dat vroue meer geneig is om hul loopbaan te onderbreek of deeltyds te werk om kinders groot te maak of bejaarde ouers te versorg. Hierdie onderbreking in werkjare het ’n direkte impak op verdienstepotensiaal en langtermyn-finansiële sekuriteit.

Die minder werkjare en die gebrek aan finansiële beplanning en gereelde bydraes tot ’n spaarfonds kan lei tot ’n tekort aan fondse vir noodgevalle, onvoldoende aftreevoorsiening, en ’n algemene gevoel van finansiële onsekerheid. Dit is veral kommerwekkend in die geval van ’n egskeiding of waar ’n eggenoot aan die dood afgestaan word. Sonder ’n sterk finansiële basis kan hierdie situasies rampspoedig wees.

‘n Spreuke 31 vrou weet dat proaktiewe finansiële beplanning van kardinale belang is, ongeag ’n vrou se ouderdom of inkomstevlak, om ’n mate van finansiële onafhanklikheid te verseker. Dit bemagtig vroue om voorbereid te wees vir onvoorsiene gebeurlikhede sowel as vir toekomstige gebeure waaroor hulle redelike sekerheid het. Ons sien egter so dikwels dat baie vroue wat die vooruitsig van aftrede het, nie noodwendig beplan vir die dag wanneer hulle nie meer ’n inkomste verdien nie. Aangesien vroue gemiddeld langer leef as mans, sal hulle tipies meer kapitaal nodig hê om gemaklik te kan aftree, en daarom moet hulle vroeër begin spaar en belê. (Lees ook ons artikel, Jou beleggings: Stilte in die storm.)

Praktiese wenke vir proaktiewe finansiële beplanning

Begroot en spaar

Dit is belangrik om ’n deeglike begroting saam te stel wat jou ’n duidelike aanduiding van jou inkomste en uitgawes sal gee en ook lig sal werp op onnodige besteding waarop besnoei kan word. Stel ’n spesifieke spaarplan op vir vakansies, duur aankope of bederfies, en werk stelselmatig om hierdie doelwitte te bereik. ’n Noodfonds moet ’n prioriteit wees om onverwagte uitgawes te kan dek en moet tipies ekwivalent aan 3-6 maande se vaste uitgawes wees.

Beleggings

Moenie bang wees om te belê nie. Beleggings is ’n wonderlike manier om oor die lang termyn saamgestelde opbrengs te verdien en so jou welvaart te laat groei. (So tipies Spreuke 31 vrou!) Die tipe belegging wat jy kies, sal bepaal word deur jou doelwit, asook die termyn van die belegging.

Aftreebeplanning

Hierdie beplanning is in wese die padkaart na die beginpunt van wat veronderstel is om die lekkerste tyd van jou lewe te wees – ’n seisoen van vryheid, opwinding en hope tyd om alles aan te pak wat in vroeër jare opgeoffer is ter wille van ander. Ons moet uitsien daarna, nie opsien daarteen nie – en die enigste verskil tussen hierdie twee uitkomste is om so vroeg as moontlik te begin beplan.

Nalatenskap

Elke vrou moet ’n testament hê om te verseker dat alles waarvoor sy haar lewe lank so hard gewerk het, volgens haar wense verdeel word. Indien daar nie ’n testament in plek is nie, sal die Wet op Intestate Erfopvolging bepaal wie jou boedel erf, wat nie noodwendig volgens jou wense is nie.

Om beheer te neem oor jou finansies is nie net ’n praktiese stap nie, maar ook ’n emosionele een. Dit gee jou vertroue en gemoedsrus oor jou eie finansiële toekoms. Dit verlig angs en stres, en stel ons in staat om meer gefokus en doelgerig te wees in ons ander rolle, insluitend die versorging van ons gesinne.

Vroue speel ’n onmisbare rol in die samelewing, maar dit is noodsaaklik dat hulle nie hul eie finansiële gesondheid afskeep nie.

Deur proaktief te wees en met behulp van ’n kundige finansiële adviseur ’n deeglike finansiële plan op te stel, kan vroue hulself en hul gesinne beter beskerm en verseker dat hulle ’n stabiele en veilige toekoms tegemoetgaan.

Hierdie artikels is deur Jacqui Kruger geskryf. Sy is ’n finansiële adviseur by PSG Silver Lakes. Sy kan gekontak word by jacqui.kruger@psg.co.za of 071 491 8004. PSG Wealth Financial Planning (Pty) Ltd is ‘n gemagtigde finansiële diensteverskaffer. RFD 728

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.