Ons emosionele welstand en geestesgesondheid het die afgelope tyd soos min ander dinge onder die loep gekom. Die lewe is dikwels totaal onbekende vaarwaters, en ons moet daarin koers hou.
Ons probeer letterlik net oorleef. Is daar rituele en gewoontes wat ons hiermee kan help? Hoe kan ons dit ’n deel van ons daaglikse lewe maak sodat ons emosionele en geestelike welsyn daardeur bevorder kan word?
Werk aan jou emosionele welstand deur brood te breek
’n Kollega sê onlangs: “Die enigste ding wat ’n mens behoort te breek, is brood.” Hoe waar is dit nie!
Wanneer ons saam eet – of dit nou as gesin is, of saam met ’n vriend of twee – word ons weer met ons eie gedagtes en gevoelens verbind.
Ons deel dit wat op ons hart lê. Ons voel minder alleen. Ons lag saam. En wanneer ons saam lag, skei ons liggaam die sogenaamde goedvoelhormone af.
Ons kan ook saam huil. Glennon Doyle sê: “Trane is organiese doop.”
Moet nooit die waarde onderskat van ’n uur of twee wat saam met ander om ’n sny brood deurgebring word nie.
Wees eerlik oor jou emosionele welstand
Nog ’n goeie manier om vir onsself en ons geliefdes te sorg en na ons geestelike en emosionele welstand om te sien, is om gereeld die dieper vraag “hoe gaan dit regtig?” aan onsself te vra én om dit te probeer beantwoord.
Ons sukkel soms om onder die oppervlak besoek af te lê. Maar in die afgelope byna drie jaar het die lagie vernis, wat gewoonlik ons dieper gevoelens blinker maak, ál dunner geword. Ál meer mense sukkel om dit weg te steek as dit nie met hulle goed gaan nie.
Wanneer ons die vrymoedigheid het om eerlik met onsself te wees, gee ons onsself die kans om ons eie interne prosesse te orden en om moeilike gebeure en ervarings te verteer. Dit dra tot ons welstand by. Dit maak ons las ligter.
Wat beïnvloed jou geestelike en emosionele welstand?
Hoewel ’n selfoon ’n onontbeerlike instrument en kommunikasiemiddel is, neem dit ons ook soms (en alte dikwels gereeld) van ons eie lewe weg.
In die meeste huishoudings is daar konflik oor die tyd wat aan toestelle bestee word, want instinktief weet ons dat ons lewe om balans vra. Ek moet beweeg; ek moet verken; ek moet ervaar; ek moet my sintuie inspan. Dieselfde geld die kinders wat in my sorg is.
Wanneer ons boonop oormatige blootstelling aan die daaglikse nuusaanbod het (wat meestal slegte nuus is), beïnvloed dit ons gemoedstoestand. Om elke dan en wan ons rug vir die selfoon te draai, kan net goed wees. Ons fokus kry ’n nuwe oriëntasie en ons aandag word verfris.
Lees gerus ook ons artikels oor skermverslawing.
Geskryf deur Rudi Swanepoel.