Hoe lyk ware liefde? Kan jy uit die aandra van ’n bos rooi rose of ’n boks sjokolade die gevolgtrekking maak dat die man in jou lewe jou waarlik liefhet? En is die afwesigheid van al hierdie romantiese clichés die teken dat sy liefde vir jou nie is wat dit moet wees nie?
Hoe weet ek my man is lief vir my?
Is ek regtig spesiaal?
Ja, ek weet die Here het my lief soos ek is … Maar wat van hóm, daardie spesiale man aan wie ek my hart verpand het?
Hy wys dit dan nie, hy sê dan niks! My vriendinne kry rose; ek kry skaars ’n dankie. Ek koop my sjokolade self …
Is daar fout met my? Is daar fout met hom?
Wat seuns leer van kleins af
Daar bestaan geen twyfel daaroor nie dat baie mans die fynere kunsies van romanse baie goed bemeester het. Daar is ook dié wat die lewe – juis ook die lewe met die spesiale vrou in sy lewe – op ’n meer, sal ons maar sê, logiese manier benader. En daarom daartoe geneig is om verhoudings met minder emosie te hanteer.
Vir baie vroue is laasgenoemde moeilik om te sluk. Hoe is dit dan dat hy nie sy toegeneentheid aan my kan wys nie!
“Dit is die manier waarop hy grootgemaak is,” sê Anri van den Berg, ’n huweliksberader in Pretoria. “Toe sy klein sussie geval en seergekry het, was dit net pleisters en salfies en soentjies en trooswoordjies. Sy kon so lank en so droewig gehuil het soos sy wou.
“Maar toe hy die slag van die swaai af val, was dit ’n ander storie. Daar is dadelik vir hom gesê dat dit nie so erg is nie, hy moenie so ’n ou tjankbalie wees nie, watse gehuilery is dit, rêrige manne huil nie.”
Sekere dinge gebeur hier: Seuns leer dat om emosies te wys nie aanvaarbaar is nie. Op ’n manier leer hulle ook om nie hul eie emosies te vertrou nie; die boodskap wat hulle kry, lui só: “Ek het seergekry, maar my pa sê dit is nie so erg nie. Ek is seker verkeerd.”
Dit alles lei daartoe dat groot mans nooit ’n woordeskat ontwikkel waarmee hulle uitdrukking aan hul gevoelens en emosies kan gee nie. In der waarheid leer hulle ook nooit hoe om daardie deel van hul ervarings te hanteer nie.
Sommige mans het ook deur hierdie soort grootwordproses geleer om hulleself te alle tye te verdedig, om nie toe te laat dat hulle in omstandighede beland wat hulle kwesbaar laat nie.
Wat laat jou méér kwesbaar as ’n emosioneel-intieme verhouding?
Omdat hulle nie oor die vaardigheid beskik om sulke dinge te hanteer nie, vermy hulle dit. Skram hulle weg van emosionele intimiteit.
“Onthou ook dat ons vernaamste voorbeeld van ’n huweliksverhouding van ons ouers af kom,” sê Steve Buys, ’n huwelik- en gesinsterapeut in Oos-Londen. “As jy grootgeword het in ’n huis waar jy nooit gesien het hoe jou ouers openlik hul liefde teenoor mekaar wys nie, sal jy waarskynlik dieselfde in jou huwelik doen.
“Jy kan natuurlik ook, ironies genoeg, ’n buitengewone groot behoefte aan aandag ontwikkel.”
Die maniere waarop mans liefde betoon
“Moet tog nooit die fout maak om liefde en romanse met mekaar te verwar nie,” sê Anri. “Iemand wat ’n onvermoë of ’n vrees vir ’n diep verbintenis het, of een wat uit blote onkunde dit nie regkry om ’n romantiese verhouding te help skep nie, is nie noodwendig ’n mens wat nie lief is vir sy of haar lewensmaat nie.”
Dalk het dit tyd geword vir jou, die rooi rose-lose vrou, om jou fokus te verskuif na die klein dingetjies wat jou man wel daagliks vir jou (en jul kinders) doen. Maak ’n keer jou oë oop vir:
- Daardie “ou werkie”. Dalk verrig hy daardie take wat hy weet jy niks van hou om te doen nie. Hy sorg dat jou motor se tenk vol brandstof is en die banddruk reg is. Hy versorg die asblikke. Hy maak sop op ’n koue Saterdag.
- Sy tyd. Iemand wat luister wanneer jy praat, hetsy oor jou probleme by die werk of oor die volgende trui wat jy wil brei, is besig om liefde te betoon. Sonder dat julle noodwendig iets besonder opwindends saam doen, is die tyd wat hy kies om saam met jou te wees ook ’n teken van sy liefde.
- Daardie aanraking. Alhoewel hy dalk nie daarvan hou om sy liefde vir jou in die openbaar te wys nie, moet jy nie die liefde miskyk wat agter die drukkie tuis en die rugvryf verskuil is nie, of sommer net die naby aan mekaar sit voor die televisie.
- En dan hierdie grote: Vir baie mans is die reusetaak om hul huisgesin finansieel te versorg die primêre manier waarop hulle hul liefde wys. Die feit dat die skoolgeld nooit ’n kwessie is nie en die huishouding se uitgawes gedek word en die karpaaiement betaal word, spreek wat hulle betref veel harder as enige ete-by-kerslig.
Hoe bewys julle liefde vir mekaar? Skep romanse só.
Nadat jy jou hart noukeurig ondersoek het en seker gemaak het dat jy nie onrealistiese Hollywood-verwagtings oor jou man koester nie, is dit tog nodig dat julle eerlik oor jul behoeftes praat.
Anri sê: “Moet niks sommer aanvaar nie. ’n ‘Hy-is-veronderstel-om-te-weet’-benadering is nie die sleutel tot ’n gelukkige verhouding nie. Een van die hoekstene vir ’n vervullende huwelik is gesonde en doeltreffende kommunikasie. Dit sal vir julle van groot waarde wees om oor jul onderskeie opvattings van romanse te gesels. Om mekaar se ‘liefdestale’ te leer ken en verstaan.
“Wanneer jy die ander een se hart verstaan, begin jy om waarde te heg aan sy of haar goeie bedoelings. Jy leer ook watter soort optrede die ander een se hartsnare roer.
“En so, tussen die groeiende onderlinge begrip deur, die bereidheid om aan te pas en die gewilligheid om nuwe dinge te leer, kan julle jul eie definisie van ‘romanties’ skep en uitleef.”
Lees ook gerus ons artikel, ’n Gesonde en gelukkige huwelik: Hoe weet jy of jou huwelik gesond is?
Bekende vertel: Bertha le Roux-Wahl; “Sy liefdestaal …”
Bertha le Roux-Wahl van 7de Laan-faam vertel hoe haar oë op ’n dag oopgegaan het vir die manier waarop haar Karel sy liefde betoon: “Die samelewing en juis ook die filmbedryf tipeer romanse as daardie gróót gebare – blomme en nuwe klere en blink diamante. En ek het altyd gedink dit is presies wat ek wil hê: om ‘ge-wine en ge-dine’ te word.
“Toe gebeur dit nie. Karel is nie ’n man vir blomme en sulke dinge nie. Aanvanklik het dit my erg gegrief.
“Totdat ek besef het hoe sy liefdestaal klink: klein takies wat hy vir my doen om my lewe makliker te maak.
“Karel is ’n man van min woorde. Hy wys sy liefde vir my deur te luister as ek ontsteld is en raad te gee as ek daarvoor vra. Hy bring vir my koffie in die bed as hy sien ek sukkel om wakker te word. Hy help soggens met die kinders, hy sal saans vir ons kook.
“Soms sal hy sommer vir my ’n bad water intap en ’n wyntjie daar neersit.
“Ek weet ek kan op hom staatmaak om my te ondersteun, en ek kan lekker saam met hom drome droom. Deesdae waardeer ek elke klein dingetjie wat hy vir my doen.
“En dit is my raad aan elke vrou: Moet jou nie blind staar teen die groot gebare of die gebrek daaraan nie, moenie dat allerlei verwagtings jou geluk bepaal nie. Sien al die seëninge in jou lewe raak!”
Kontak kenners
• Anri van den Berg kan gekontak word by 082 541 4357 of anri@vitanova.co.za of besoek www.vitanova.co.za • Steve Buys kan gekontak word by 084 746 1301 of repairer41@gmail.com of besoek repairercounselling.za.net.
Oorspronklike artikel geskryf deur René Badenhorst.