Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

’n Gesonde en gelukkige huwelik: Hoe weet jy of jou huwelik gesond is?

Huwelik: ’n gesonde en gelukkige huwelik – LiG-tydskrif

Elke huwelik is so uniek soos die individue daarin. Daarom is daar nie een suksesresep wat alle huwelike pas nie. Niemand verbind hulleself in ’n huwelik met die gedagte dat dit dalk tot ’n einde kan kom nie. Wanneer albei partye bereid is om aan die verhouding te bou, kan die huwelik verbeter en floreer.

Met ’n positiewe ingesteldheid en die bereidwilligheid om aan die huwelik én jouself te werk, is jy reeds oppad om ’n beter en gesonder verhouding te kweek. Hier is ons raad en riglyne wat kan help om jou huwelik met vreugde en vervulling te geniet. 

Statistieke oor huwelike in Suid-Afrika

Wêreldwyd blyk dit dat die hoeveelheid huwelike in die afgelope tien jaar afgeneem het as gevolg van verskeie redes, insluitende die invloed van inperkings weens COVID-19. In Suid-Afrika sowel as wêreldwyd word huwelike minder alledaags, mense trou later en ongetroude paartjies besluit om saam te woon eerder as om voor die kansel te gaan staan.

Data wat deur Statistieke SA in Februarie 2023 vrygestel is, toon dat daar 106 499 huwelike gedurende 2021 geregistreer is in vergelyking met 161 112 gedurende 2012. Die data wys verder dat daar ’n algemene afwaartse tendens van geregistreerde troues was tussen 2012 en 2021, met ’n minimale toename in 2015-2016 en ’n noemenswaardige toename van 19.2% ná die opheffing van inperkings tussen 2020 en 2021.

Volgens Family Laws South Africa kan die afname in huwelike in Suid-Afrika gedurende die afgelope dekade toegeskryf word aan faktore soos ekonomiese onsekerheid, verandering van sosiale norme, huwelike wat afgestel word weens onderrig- en beroepsredes, en die keuse om saam te woon eerder as om te trou.

Lees ook ons artikel, “Getroud vs saamwoon vs apart woon”.

Hoekom dan in die huwelik tree? Daar ís goeie nuus

Ten spyte van die bogenoemde statistieke, blyk dit dat die hoofrede waarom mense steeds trou is dat hulle algehele geluk en lewensbevrediging beleef, in vergelyking met mense wat nie ’n eggenoot het nie. Dit is bemoedigende nuus vir getroude paartjies. En ook vir díe wat nog nie in die huwelik verbind is nie, maar wie se gedagtes kansel toe staan.

Volgens die artikel Marriage Statistics: Do Marriages Really Last? blyk dit dat die huwelik beter fisiese gesondheid tot gevolg het. Getroude paartjies is minder geneig om hartsiektes, hoë bloeddruk en kardiovaskulêre siektes te ontwikkel. Die fisiese en emosionele impak van die huwelik hou dus groot voordele in.

Verdere bemoedigende statistieke deur Census Data in die VSA, toon dat ’n gemiddeld van 74% van mense wat aan die studie deelgeneem het – oftewel 98 miljoen Amerikaners – sê dat hulle gelukkig getroud is. 

Wat is ‘n gesonde huwelik?

Hier is ’n paar riglyne om vas te stel of jou huwelik gelukkig is, en praktiese raad oor hoe om dit op ’n gesonder plek te kry.

Die emosionele band en kommunikasie binne die huwelik

Alle getroude paartjies weet die huwelik is nie maanskyn en rose nie. Maar ’n sterk emosionele band tussen twee mense kan beteken dat die huwelik gesond is, ten spyte van die lewe se oppe en affe. Wanneer jy gemaklik en veilig binne die huwelik voel, en ervaar dat jy jou gevoelens en gedagtes kan uitdruk sonder om veroordeel te word, is jou huwelik heelwaarskynlik aan die gesonde kant. Kommunikasie moet ook deurgaans eerlik wees en met respek gepaardgaan, dan kan jy heelwat saam vermag.

Vertroue en eerlikheid

Dit klink dalk eenvoudig, maar die klein jakkalsies kan so maklik die wingerd verniel. Dus is die kweek van vertroue en die strewe na eerlikheid van onmeetbare waarde. Wanneer jy en jou maat nie inligting terughou of dinge vir mekaar wegsteek nie, skep julle ’n ruimte waar elkeen weerloos kan wees en word die huwelik dus ’n veilige plek van deel en omgee.

Balans tussen individuele tyd en gesamentlike tyd

Jou maat is mal oor sport en jy wil eerder boek lees en alleen ontspan. Hoe nou gemaak? Vind ’n balans tussen individuele tyd, waar julle mekaar se belangstellings en stokperdjies respekteer, en saamweestyd. Só gun julle mekaar elkeen sy eie genot, maar doen ook dinge saam wat vir julle albei lekker is. 

Die belangrikheid van konflikbestuur

Konflik is die onvermydelike vrot appel in die huwelik, maar dit hoef nie die res van die vrugte te bederf nie. Dit kos werk om konflik te hanteer en op ’n gesonde en konstruktiewe manier probleme op te los. Die goue reël bly om aktief na jou maat te luister sonder om opgewerk te raak, en om maniere te vind om die probleem te identifiseer en op te los eerder as om op jou maat se foute te fokus. 

Hier is ’n boodskap oor die fokus van verhoudings deur die bekende pastoor Steven Furtick, “Finding Happiness in Relationships”. 

Huwelik: ’n gesonde en gelukkige huwelik – LiG-tydskrif

Bron: Finding Happiness in Relationships | Pastor Steven Furtick.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.