Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Kinderontwikkeling: Hoe maak ek ‘n slim kind groot?

Hier is agt praktiese maniere om die grondslag vir goeie kinderontwikkeling te lê, sowel as ses faktore om in gedagte te hou.

Nuwe ouers wonder dikwels wat hulle kan doen om kinderontwikkeling te stimuleer. Hier is agt praktiese maniere om die grondslag vir goeie ontwikkeling tydens die eerste weke met jou baba te lê. En dan nog ses faktore om in gedagte te hou wanneer jou kind ouer raak. 

En onthou, speel bly jou kind se grootste taak. 

Optimale kinderontwikkeling: speel met jou pasgebore baba

In die eerste drie maande van jou baba se lewe is daar baie dinge wat jy kan doen om te help dat hy/sy optimaal ontwikkel. 

Babas begin dadelik ná geboorte om op die wêreld om hulle te reageer. Die grondslag vir jou kind se kommunikasie- en taalontwikkeling, bewegings- en fisieke ontwikkeling, sosiale, emosionele en kognitiewe ontwikkeling word trouens in die eerste drie maande van hul lewe gelê. Dis daarom baie belangrik om met jou jong baba te speel om sodoende hierdie vroeë ontwikkeling te ondersteun.

Dit vra net ’n paar minute per dag.

1. Oogkontak stimuleer kinderontwikkeling

In die eerste paar weke ná geboorte gaan jou baba begin om oogkontak te bemeester. Maak seker dat jy tydens voeding en wanneer jy doek omruil en wanneer jou baba wakker word met haar oogkontak maak. Dit help haar om nie-verbale kommunikasie te verstaan.

2. Strek jou baba

Hoewel dit steeds baie belangrik is om jou baba styf toe te draai wanneer jy haar neerlê, kan jy haar gerus ook kans gee om ’n bietjie te strek. Help haar deur – versigtig! – haar ledemate uit te strek. Dit sal haar help om meer bewus te word van haar liggaam se bewegings en sal ook haar spiere help versterk vir daardie fisieke aktiwiteite, soos kruip en loop, wat later hul verskyning maak.

3. Gebruik musiek en dans vir kinderontwikkeling

Jy kan nou begin om jou kind aan rustige musiek bloot te stel. Speel dit vir haar wanneer jy haar sus of bad.
Jy kan ook met jou baba dans! Sy sal die kontak en swaai-bewegings gerus­stellend vind en so nóg bewegings en beter ritme aanleer.

4. Nabootsing

Boots jou baba se geluide en gesigsuitdrukkings na. Dit mag aanvanklik vir jou vreemd en selfs verspot voel, maar dit sal jou baba leer dat jy na haar luister en aan haar aandag gee. Dis ook ’n manier om aan haar te wys hoe kommunikasie werk.

5. Dra jou baba aan jou lyf

Baba-dra (“baby-wearing”) is nie ’n nuwe verskynsel nie. Onlangse studies toon ook aan dat babas gerusgestel word deur die kontak en ritmiese bewegings wat hulle voel as daar met hulle rondgeloop word. ’n Baba benodig ’n veilige omgewing naby haar ouers en genoeg slaap om optimaal te ontwikkel, en baba-dra help op ’n natuurlike wyse hiermee. 

6. Verken teksture

Laat jou baba toe om verskillende teks­ture te leer ken deur haar hand te neem en allerlei materiale daarmee te streel. As jy om jou kyk, sal jy dalk verbaas wees oor hoeveel teksture in jou huis teenwoordig is. Dink aan ’n plant se blare, ’n growwe strooikussing, ’n sagte kombers, ’n gladde appel. Probeer egter net een of twee op ’n slag, sodat jou kind nie oorweldig voel nie.

7. Lees vir jou baba

Dit is baie belangrik om vir jou baba voor te lees. Hoewel sy nog nie juis kan verstaan of deurentyd kan aandag gee nie, sal die klank van jou stem, die woorde wat jy lees en die boek se prentjies alles tot haar taal- en spraakontwikkeling bydra.

8. Gebruik kontraste

Babas kan tydens die eerste paar weke van hul lewe nie goed sien nie. Dié sintuig ontwikkel wel vinnig en jou kind sal ná ’n paar weke tussen hoë-kontras-elemente kan onderskei. Jy sal sien dat jou kind soms by die venster uit staar of lank na ’n skadu teen die muur kyk. Maak vir jou baba ’n speelding wat bo haar doekruil-stasie hang en uit wit-en-swart prente of wit-en-swart doppies en kraletjies bestaan. Jy sal gou sien hoe jou kind dit geniet.

Nog praktiese idees vir optimale kinderontwikkeling

Wanneer jou kind groter is, kan jy hierdie praktiese dinge doen om hulle ontwikkeling te bevorder:

  • Meet alles: Ja, gebruik ‘n liniaal. Maar met kleiner kinders kan jy op ander maniere meet: Stapel blokkies op mekaar en “meet” hoeveel blokkies hoog jou kind is. Pak boeke op die bed uit en “meet” hoeveel boeke groot jou kind se bed is. Tel soos wat julle meet.
  • Sorteer: Laat hulle jou help om wasgoed te sorteer. Groter kinders kan eetgerei sorteer. Kinders kan speelgoed in verskillende kleurgroepe sorteer.
  • Rympies: Kry ‘n rympie-boek en verken saam met jou kind die wonderlike klanke van rymelary. Liedjies is natuurlik ‘n ander manier om woorde te ontdek.
  • Speel: Gee vir jou kind genoeg ruimte om te ontdek. Speelgoed hoef nie duur te wees nie. Gewone huishoudelike items is dikwels die lekkerste speelgoed.
  • Fantasie-spel: Vir ouer kleuters kan jy ‘n tas vol ou klere, maskers of ander versierings beskikbaar maak om self te ontdek en mee te speel.
  • Raak morsig: Laat jou kinders buite speel met modder en sand. Of skep sensoriese aktiwiteite met mielieblom en water, gekookte pasta of gelatienballetjies. Laat hulle op ‘n plek speel waar hulle maar mag mors – want dis die lekkerste speel!

Ouers se rol in kinderontwikkeling

‘n Span navorsers in Amerika het vir tien jaar lank kinders tussen die ouderdom van 8 en 18 jaar bestudeer om te probeer vasstel watter ervarings in die kinderjare veroorsaak dat mense in gesonde, intelligente volwassenes ontwikkel.

Die studie het veral ses faktore uitgewys:

  • Die ontwikkeling wat plaasvind tussen 8 en 18 maande is van kritieke belang.
  • Die omgewingsfaktor wat die grootste rol in die lewe van ‘n kind speel, is sy/haar ma.
  • Die hoeveelheid taal wat na ‘n kind gerig word is krities vir die kind se ontwikkeling van basiese taal-, intellektuele en sosiale vaardighede. Die klem is op gesprekke met die kind, en kan nie vervang word deur taal wat op TV of ander tegnologie gehoor word nie.
  • Kinders wat vrye toegang tot die leefareas van hulle huis het en wie se beweging nie ingeperk word nie, het die beste ontwikkel.
  • Die kerngesin is die belangrikste opvoedkundige plek.
  • Die beste ouers het veral in drie faktore uitgeblink:
    • Hulle het hul kinders se omgewing goed ontwerp en georganiseer.
    • Hulle het hul kinders toegelaat om hulle vir kort tydjies te onderbreek, en dan is die kind vertroos, inligting is gegee of die ouer het entoesiasties gereageer.
    • Hulle was ferm met hulle dissiplinering, maar hulle het ook baie liefde aan hulle kinders getoon.

Lees ook ons artikel oor hoe jou ouerskap ‘n verdere rol in kinderontwikkeling kan speel.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.