Ons het maar ‘n kort tydjie om ons kinders positief te beïnvloed. Kenners meen dat ouers die grootste invloed op hulle kinders het in die eerste 12 jaar van hulle lewe. Daarna het vriende, onderwysers en selfs sosiale media ‘n toenemend groter invloed op jou kind.
Hoe beïnvloed jy jou kind ten goede in daardie eerste paar jaar? Die antwoord is dat jy dit nie noodwendig deur jou woorde kan doen nie, maar hoe jy optree en hoe jy jou geloof uitleef. Jy weet dit reeds, maar jou eie voorbeeld is die deurslaggewende faktor.
Ouers se invloed op kinders
Hier is tien maniere waarop jy jou kind kan beïnvloed om later in die lewe wyse besluite te neem en daardie een groot besluit van alle besluite te maak: Om Jesus te volg.
1. Beïnvloed jou kind deur jou aandag
Die beste manier waarop jy aan jou kind kan kommunikeer dat hy/sy waardevol is, is om jou aandag aan jou kind te gee. Om dít waarmee jy besig is, te onderbreek. En jou volle aandag aan jou kind te gee.
Kinders wie se ouers emosioneel beskikbaar is, is beter sosiaal, akademies en emosioneel aangepas as kinders wat nie voldoende aandag van hul ouers kry nie.
Ons slimfone is een van die grootste aandagdiewe. As jy wil hê jou kind moet na jou luister, kan jy nie verwag dat sy haar foon moet neersit en dadelik luister as jy dit self nie doen nie.
2. Wees geestelik gesond
Die manier waarop ons ons lewe inrig, getuig van wat ons in ons hart koester. Indien jy gereeld Bybel lees, bid, kerk bywoon en gasvry is, sal dit jou kind beïnvloed om self ook hierdie dinge te doen.
‘n Geestelike dissipline waarvoor ouers nie altyd tyd kry nie, is daaglikse nadenke. Dit is egter nodig om te dink oor wat in jou binneste aangaan. Om iewers deur die dag te dink oor waar jy vir God ontmoet, wat die sterkste emosie is wat jy vandag beleef het en wat jy graag met jou ouerskap wil uitrig. Dit is ook ‘n tyd om bewustelik te dink oor die waardes wat jy in jou gesin wil uitleef.
Tydens sulke nadenke kom daar dikwels dinge uit jou kindertyd op wat jy in die oë moet kyk. As jy sulke onopgeloste seer saam met God kan deurwerk, sal hierdie gesondword ook in jou ouerskap weerspieël. En dit sal natuurlik ‘n positiewe invloed op jou kinders hê.
3. Wees liefdevol teenoor ander
Hoe behandel jy jou huweliksmaat? Verwag jy van jou kind om liefdevol teenoor jou op te tree, as jy self nie so teenoor jou gesinslede is nie?
Ons vergeet soms dat ons kinders ook mense is. Veral wanneer hulle ‘n uitdagende stadium deurgaan. Veral kleuters en tieners kan ons teen die mure uitdryf. Maar as ons liefdevol teenoor hulle optree, al voel dit soos die laaste ding wat ons wil doen, kommunikeer daardie optrede aan jou kind: “Jy is werd om goed behandel te word.” Hierdie nie-verbale boodskap beïnvloed jou kind om ander ook met liefde te behandel.
God se grootste gebod is immers om Hom lief te hê, en jou naaste soos jouself.
4. Ouers wat eerder luister beïnvloed hulle kinders
Ouers is dikwels in ‘n tameletjie vasgevang: Ons moet ons kinders reg opvoed, maar ons moet ook vir kinders ruimte gee om hulleself te wees. As jou kind dinge met jou deel waarmee jy nie saamstem nie, is die eerste reaksie om ‘n preek te gee.
Soms wil jy ook hê dat iemand sal luister sonder om dadelik ‘n honderd oplossings voor te stel. Jy wil net hê iemand moet verstaan … Dieselfde geld jou kind.
Swaai ‘n slag die gesprek om. In plaas daarvan om dadelik die leviete voor te lees, vra eerder vrae om te probeer verstaan hoe jou kind die wêreld sien. As jy aandagtig luister en probeer verstaan, beïnvloed dit jou kind om ook só op te tree.
5. Stel ferm grense
Ouers wat grense stel bewys daarmee dat hulle hul kinders liefhet. ‘n Duidelike “nee” vir ‘n 14-jarige wat byvoorbeeld tot middernag wil uitgaan, bewys jou liefde. ‘n Duidelike “nee” vir ‘n slimfoon in die slaapkamer wys ook jou liefde en beskerming. As julle huisreëls het, maak dit hierdie soort grense stel baie makliker. (Klik hier vir voorbeelde van huisreëls. – Artikel 3)
Natuurlik sal jou kinders met jou daaroor stry. Dit is ‘n gegewe! Maar om grense te stel wys dat jy ‘n positiewe invloed op jou kinders het. Die uitdaging is natuurlik om nie soveel grense te stel dat dit jou kind dwing om dinge skelm te begin doen nie.
6. Beïnvloed jou kind deur saam te speel
Dít is wat jou kinders gaan onthou: Die tye wat julle saam gelag en pret gehad het. Van speletjies speel tot kosmaak tot saam na musiek luister. Neem die besluit om die lewe lekker te maak.
Vier klein en groot dinge. Sit daardie bietjie moeite in om dinge soos verjaarsdae of ‘n skoolprestasie te vier. Dit kan eenvoudig wees soos om ‘n spesiale liedjie te sing, om ‘n kersie op ‘n kolwyntjie aan te steek of selfs ‘n prettige hoed op te sit.
Om saam te lag versterk ‘n mens se verhouding. ‘n Hegte verhouding met jou kind sorg dat jy jou kind op allerlei maniere positief kan beïnvloed.
7. Wees nederig
Deur vir jou kinders te wys hoe dit lyk om ander se behoeftes bo jou eie te stel, leer jy hulle hoe om nederig te wees. Dit is immers wat Jesus vir ons leer wanneer Hy sy dissipels se voete was.
Jy kan ook deur goed te luister na jou kind, vir hulle leer dat nederigheid ‘n eienskap is wat ander waardig laat voel. Ook deur jou kinders te dien, om hulle aan te moedig en by te staan in dinge soos sport, skool en ander buitemuurse aktiwiteite. Hierdie ondersteuning wys vir hulle dat jy hulle behoeftes belangrik ag.
8. Wees dankbaar
Dit is ‘n Bybelse opdrag om in alle omstandighede dankbaar te wees (1 Tess 5:18). Boonop is mense wat dankbaar is oor die algemeen meer gesond, minder angstig en hulle behaal makliker hulle persoonlike doelwitte.
Dankbare mense het ook beter menseverhoudings en is makliker om mee oor die weg te kom. Dit geld nie net vir jou nie, maar ook jou kind!
Beoefen dankbaarheid saam met jou gesin deur elke aand tydens aandete vir mekaar te vertel waarvoor julle dankbaar was in hierdie dag. Onthou, dankbaarheid teenoor jou kinders is hierby ingesluit! Kort voor lank sal dit ‘n gewoonte en ‘n ingesteldheid wees wat by julle elkeen gekweek is.
9. Beïnvloed jou kind deur regverdig te wees
Kinders weet al te goed as dinge nie regverdig is nie. Juis daarom moet ouers in alles wat hulle doen, probeer om so regverdig moontlik te wees. Wys aan jou kinders dat jy jou bes doen om regverdig te wees teenoor al die gesinslede – van dinge soos sakgeld en huistake, tot dissiplinering en jou aandag.
Die positiewe sielkunde-navorser, Chris Peterson, beskou regverdigheid as ‘n kritieke eienskap wat help om positiewe verhoudings binne ‘n gesin te handhaaf.
10. Praat oor jou eie worsteling
Ons almal het vrese en onsekerheid, ons almal het hoogtepunte en blydskap-oomblikke. Gesels met jou kind oor jou emosies, veral wanneer dinge nie so goed gaan nie. Dit moet natuurlik ouderdomsgepas wees, maar kinders moet ook hoor dat hulle ouers soms sukkel of hartseer is.
Jy help nie net jou kind om woorde vir hulle eie emosies te vind nie. Jy beïnvloed ook jou kind deur te wys dat ‘n mens geloof kan behou in moeilike situasies en met deursettingsvermoë anderkant uitkom.