Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons weet wat dit is om te veg vir oorlewing’

Hulle weet wat dit is om te veg vir oorlewing, sê Hennie en Amanda Lombard van Parow. Fisies en finansieel.

Amanda vertel hoe sy in 1993 in Florida, Johannesburg by ’n OTM aangeval en sewe keer met ’n mes gesteek is.

Slegs vier maande daarna was Hennie die slagoffer van ’n gewapende bankroof.

“November 1993 het ons sak en pak Kaap toe vertrek om ’n veiliger lewe vir ons kinders te gee,” vertel Amanda.

LEES OOK: ‘Die lewe is nie maklik nie; kom ons help mekaar,’ sê vrou ná bejaarde pa se selfdood

Met die gesin se aankoms in die Kaap, het hulle ’n pizzarestaurant gekoop en bestuur, maar was min by hulle drie kinders. Hulle het toe besluit om die onderneming te verkoop. Hennie is daarna terug bankwese toe en Amanda het weer as IT-bestuurder in die korporatiewe werksomgewing werk gekry. Toe albei egter later hulle werk verloor het, het hulle ’n swembadbesigheid begin. Hennie het die installasies gedoen en Amanda het die verkope behartig.

‘Ons het alles verloor’

Hennie vertel: “Ons het hard gewerk en vir 17 jaar het ons in die swembadbedryf sukses behaal. Toe het dinge verander. Ek onthou dit nog goed. Ons het begin sukkel as gevolg van die 2017/2018-droogte en uiteindelik moes ons die besigheid sluit. Ons het egter vir vyf jaar daarna aangehou en oorleef voordat ons ons huis verloor het.”

“Dit was moeilik,” onthou Amanda.

Die verlies van hul gesteelde bakkie, wat al hul swembadonderneming se gereedskap bevat het, was die laaste knou.

“Ons het álles verloor,” vertel Hennie. “Ons het ons huis verloor, en op ons ouderdom kon ons nie meer werk kry nie. Ek het weer probeer om werk te kry, maar ek het gesukkel, en my swak gesondheid het ook nie gehelp nie.”

Die egpaar verkoop deesdae lugbevogtigers en ligte by markies en Amanda verkoop ook parfuum en juweliersware.

Hulle verduidelik: “Ons het nie baie geld nie, ons kry net SASSA. Dis dit. Ons wil nie ons kinders vir geld vra nie, ons wil eerder onafhanklik wees. Die markie-verkope gee ons ’n bietjie ekstra geld om ons kleinkinders te besoek en om soms ’n lekker bederfie te koop. Buitendien, ons kan nie heeldag in ons kamer sit nie, ons sal mal word.”

Bonsaibome en breiwerk

Gelukkig het Amanda en Hennie ook elkeen stokperdjies wat hulle besig hou.

Hennie vertel: “My stokperdjie is bonsaibome, ek versamel seëls en ek het ontdek dat ek kan skilder. Dit is so lekker.”

“Een jaar, op Vadersdag, het ons seun vir my ’n boks met wurms gegee om te gebruik vir my bonsaibome. Ek het toe met die wurms begin teel, en ek het later soveel gehad dat ek dit op Facebook Marketplace geadverteer het, en so het ek hulle begin verkoop.”

“Toe ons na Parow Senior Sentrum verhuis het, het ek vir hulle gesê ek gaan my wurmplaas saambring. Die mense wat hier woon, het my in die begin vreemd aangekyk. Ek het nou al vier wurmplase.”

“Ek skilder ook graag. Mense koop selfs my skilderye, en ek kan dit skaars glo. Vir my is dit goeie terapie. Wanneer ek teken, dan fokus ek my gedagtes en ontspan. Wanneer ’n mens gespanne is, kan skilder jou help om weer kalm te raak. Ek skilder landskappe en seestukke. Dit hou my besig, en ek voel asof ek in ’n ander wêreld is.”

Amanda is deel van die dames-breigroep by Parow Senior Sentrum wat een maal per maand bymekaar kom om breiprojekte te ondersteun. Sy vertel: “Ons is drie vroue wat naby mekaar woon wat bykans elke middag bymekaar kom. Soms brei ons, soms eet ons net saam. Dit is ons manier om vir liefdadigheid te werk en terselfdertyd te ontlaai. Ons kuier, en ons gesels om net ’n bietjie te ontspan.

“Ons brei vir die kinders van verskeie hospitale in die area – Tygerberg, Karl Bremer, Rooi Kruis, en Worcester. In die winter brei ons hoedjies, serpe, handskoene en bedsokkies, en in die somer brei ons poppe, teddies en allerhande speelgoed vir Kersfees. Verlede jaar het ons 480 speelgoeditems gemaak en geskenk.”

Oop hande en warm harte

Interaksie met mense is vir die egpaar verskriklik belangrik, en een van die aspekte wat hulle die meeste geniet. “Ons kon nog nooit stilsit nie,” vertel Amanda.

“Om fondse in te samel vir die sentrum, hou ons baie danse en bingo-aande vir die publiek en dis baie suksesvol.”

“As ons nie besig is met fondsinsamelings nie, hou ons soms ’n pannekoekdag. Dan kom almal bymekaar, en ons speel musiek en dans saam, selfs om 10:00 in die oggend.”

‘Bly besig!’

Die Lombards is baie dankbaar vir die veiligheid van hulle blyplek. “Die sentrum bied vir ons ’n dak oor ons kop, ons kry vyf etes per week, en ons voel veilig hier. Op ons ouderdom hoef ons nie meer te bekommer oor die sekuriteitskwessies wat met ’n eie huis gepaardgaan nie. Ek en Hennie het al te veel trauma in ons lewe beleef, en daarom is ons so gefokus op veiligheid.”

Die egpaar wil ander bejaardes bemoedig: “Bly gesond, luister na jou dokter en drink jou bloeddrukpille. Bly besig! Moenie as jy aftree die dag voor die TV gaan sit en niks doen nie.”

“Jou geloof is so belangrik,” voeg Hennie by. “Kweek ’n gewoonte om interaksie met ander mense vol te hou. Terwyl ons nog op aarde is, moet ons mekaar ondersteun.”

  • Dié getuienis het oorspronklik op die maatskaplike hulporganisasie Badisa se webwerf verskyn. Parow Senior Sentrum is een van Badisa se programme, maar is verantwoordelik vir die werf van hulle eie losiesfooie. Kontak Estelle Pretorius by bestuurder@parowseniors.co.za of skakel 021 930 3702 indien jy betrokke wil raak.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF