Op 24 Januarie 2016 het my hele lewe, en my perspektief op die lewe, vir altyd verander. My pa het sy eie lewe geneem.
Wat ’n skokkende gedagte dat iemand op 79 aan selfdood sterf! Niemand kon hulle dit indink nie. Dan moet jy vir mense sê jou pa is oorlede – en hulle vra: Wat het gebeur?
LEES OOK: ‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’
Jy kry met die grootste moeite denkbaar die woorde oor jou lippe: “Hy het self besluit.” Of, as jy dit kan uitkry: “Hy het sy eie lewe geneem.”
Die reaksie?
“Dis vreeslik! Wat het hy gedoen? Weet julle hoekom? Het hy ’n briefie nagelaat?”
LEES OOK: Depressie en selfdood by tieners: ‘Daar is altyd hulp, daar is altyd hoop – maar jy móét daaroor praat’
En jy wil skree: “Wat maak dit saak?! Hy leef nie meer nie!”
Hoe sal enigiemand ooit verstaan van die duisende vrae in jou kop, die antwoorde wat jy opmaak, wat nooit die regte antwoorde sal wees nie? Hoe sal enigeen weet van elke uur saam met hom, van elke gesprek wat oor en oor in jou kop afspeel? Die vrae aan jouself. Die nimmereindigende gemis – elke herinnering, elke klein gewoonte wat hy gehad het.
Hoe verstaan ander die selfverwyt: Hoekom het jy dit nie raakgesien nie; hoekom het jy nie méér gedoen nie?
Maar die vrae tol om en om en om, en die antwoorde speel wegkruipertjie iewers in ’n donker kamer in jou kop.
Ek wou nie daaroor praat nie; ek het geleer dat “hartseer” ’n swaar woord is, dat die pyn jou stembande stilmaak.
Genadiglik verstaan Jesus en kan ’n mens in jou moegheid bloot by sy voete gaan sit, daar waar die Heilige Gees oorneem. En die dae en maande en jare se trane en seer word ’n bietjie minder, en jy kan vry word van die skuld. Jy kan dankie sê vir wie jou pappa vir jou was, al hou die verlange nooit op nie.
Toe Christia en Ilse met my oor die idee van YouMatterWalk gesels, het ek daarby ingeval. Ons gesin stap ter herinnering aan ons pappa en oupa.
Ons is nie kollig-mense nie; ons wil dit ook nooit wees nie. Ons is nie toegerus om mense te help om hierdeur te werk nie, maar ons is nogtans deel van YouMatterWalk om vir die wêreld te sê dat álmal belangrik is.
Ons moet meer deernis met mekaar hê, en verstaan dat dit moeilik is om regtig te weet hoe iemand anders voel en wat sy of hy deurmaak. Daar is mense wat toegerus is om te help, en dis nie ’n skande om hulp te vra nie. As ons meer sensitief is, kan ons probeer om mekaar beter te ondersteun, en om mekaar te lei na iemand wat beter kan help.
Dis so bitter sleg wanneer ’n lewe te vroeg eindig. Hoe wens ek dit kon anders wees! Hoe mis ek hom … Daar is soveel geleenthede waar hy moes wees: elke mylpaal van sy kleinkinders, die gradeplegtighede, die troues.
Die hart van die YouMatterWalk is om te sê: Die lewe is nie maklik nie; kom ons help mekaar en stap saam daardeur.
- Carla is in 1992 met Jan getroud en hulle het twee volwasse dogters. Sy het haar eie onderneming wat konferensies reël.
- YouMatterWalk gaan nie oor ons, die drie stigterslede, nie; dis wel uit ons onderskeie stories gebore. Ons kies om hoop te skep, al is ons hart steeds stukkend. Die doel is om ander mense te help, dié wat moet deurmaak wat ons deurmaak. Ons wil ook diegene help wat met selfdoodgedagtes stoei. Want dis in albei gevalle ’n baie eensame paadjie. Ons wil ook die stigma rakende selfdood help verwyder. Ons wil mense aanmoedig om gemakliker oor geestesgesondheid te praat, om dadelik hulp te soek.
- Besoek http://youmatterwalk.co.za. Of soek “YouMatterWalk” op Facebook en You_matter_walk op Instagram.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.