As jy aan onvrugbaarheid ly, en regtig nie meer weet watter kant toe nie, kan jy wel een ding vir seker weet: Jy is nie alleen nie. Ongeveer een uit elke ses paartjies in Suid-Afrika en byna 50 miljoen paartjies wêreldwyd word deur onvrugbaarheid beïnvloed.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) klassifiseer onvrugbaarheid as ’n “voortplantingstelsel-siekte”. Dit word só gediagnoseer as daar ná twaalf maande se gereelde, onbeskermde seks steeds nie ’n kliniese swangerskap is nie. Of ná ses maande as die vrou ouer as 35 is.
Die einste WGO dui onvrugbaarheid aan as die vyfde grootste gestremdheid onder vroue wêreldwyd.
Dis egter nie uitsluitlik ’n “vrouesiekte” nie. Volgens die Aevitas Fertiliteitskliniek in Kaapstad word ’n derde van die onvrugbaarheidsgevalle by paartjies aan die vrou toegeskryf, ’n derde aan die man, en die laaste derde as ’n kombinasie van die twee, of aan ’n onbekende oorsaak.
Verdere wanopvattings oor onvrugbaarheid sluit in: Diegene wat daaraan ly, sal nooit kinders kan hê nie. Of dat hulle nie reeds kinders het nie. Of dat hulle nog nooit swanger was nie.
Soveel vrae rondom onvrugbaarheid …
Die onvrugbaarheidspaadjie lê besaai met duwweltjies waarmee paartjies worstel. Volgens die American Society for Reproductive Medicine kan onvrugbaarheid aanleiding gee tot die grootste lewenskrisis wat ’n paartjie ooit sal beleef. Sake kan uiters kompleks raak.
Die vrae waarmee so ’n paartjie gekonfronteer word, sluit in:
- Wat is die doel van ’n lewe sonder kinders?
- Hoe pas ons in as ons die enigste kinderloses in ons vriendekring is?
- Hoe sal ons die behandeling kan bekostig?
- Moet ons ons situasie bekend maak? Hoe sal ander mense daarop reageer?
Is dit God se wil dat ons kinders moet hê? Is die paartjie boonop gelowig, ontstaan daar dalk ook die volgende soort vrae:
- Moet ons vir behandeling gaan, of moet ons “net op die Here vertrou”?
- Hoekom is daar soveel mense wat so maklik swanger raak, terwyl ons wat so graag kinders wil hê onvrugbaar is?
- Is die onvrugbaarheid ons skuld? Het ons iewers gesondig?
Kry hulp – dis belangrik
Volgens dr Mandy Rodrigues, ’n kliniese sielkundige in Johannesburg wie se spesialisgebied onvrugbaarheid is, is daar ’n hartseer kringloop wat bestuur moet word. Sy verduidelik: “Vrugbaarheidsprobleme kan tot angs lei, tot post-traumatiese stresversteuring, depressie en verhoudingsprobleme.”
Dit gaan boonop met hulpeloosheid en vervreemding gepaard. En dit alles beklemtoon die belangrikheid daarvan om professionele hulp in te roep.
Die Wijnland Fertiliteitskliniek op Stellenbosch belig die sosiale impak van onvrugbaarheid, veral wat stigmatisering betref, só: “In sommige gevalle kan onvrugbaarheid ’n persoon, ’n verhouding, families en gemeenskappe vernietig.”
Verwerping kan tot angs en depressie lei, sê die kliniek, maar professionele berading kan verwerping teenwerk.
Onderlinge bemoediging
Buiten professionele terapie, is daar vele geleenthede om by ander paartjies wat in dieselfde bootjie verkeer, te leer. Hulle kan mekaar moed inpraat. Want al het niemand ál die antwoorde nie, help dit tog om te weet dat daar mense is wat die vrae verstaan.
Ondersteuningsgroepe
Volgens die Infertility Awareness Association of South Africa (IFAASA) is die voordele daarvan om by ondersteuningsgroepe aan te sluit legio:
- Jy voel minder geïsoleer;
- Jy het die vryheid om uiting aan negatiewe emosies te gee;
- Jy kan doeltreffende hanteringsmeganismes aanleer by mense wat dieselfde stryd as jy voer;
- Jy ontwikkel ’n groter selfagting.
- Met ’n eenvoudige Google-soektog kan jy gewoonlik die besonderhede van sulke groepe in jou omgewing opspoor.
Organisasies betrokke by onvrugbaarheid
Daar is verskeie organisasies wêreldwyd wat hulle beywer om ’n verskil te maak en om diegene wat aan onvrugbaarheid ly te ondersteun. Hul webblaaie verskaf ook nuttige inligting rakende die oorsake, soorte behandeling en alternatiewe. En hul aanlyn forums bied jou die geleentheid om vrae te vra en by ander te leer.
- Probeer gerus www.reproductivefacts.org, www.ifaasa.co.za en www.resolve.org.
Aanlyn gemeenskappe
Indien jy verkies om anoniem aan sulke ondersteuningsgroepe deel te neem, is ’n Facebook-groep ’n goeie moontlikheid. Die IVF Support Group South Africa het byvoorbeeld byna 4 000 lede. Internasionale groepe het derduisende lede van regoor die wêreld.
Op dié groepe is byna geen onderwerp taboe nie. Eenvoudig alles, van geloofkrisisse tot praktiese vrae, word krities bespreek. Dis ’n uitstekende platform om dié dinge te vra waaroor jy nog altyd gewonder het of waarop jy nog nooit ’n antwoord kon kry nie.
- Met die soekterm TTC (oftewel “Trying To Conceive”) sal jy ver kom.
YouTube
Op dié platform sal jy verskeie kanale vind waar mense hul reis met onvrugbaarheid deel. Die kanse is goed dat jy ’n vlog (of dan ’n “video-blog”) sal vind waar ervarings soortgelyk aan jou eie beskryf word.
- ’n Goeie vertrekpunt hier is om die volgende kanale te volg: Phil & Alex, Derek & Liza, Ellie & Jared of ‘the upside fertility journey’.
Mediese personeel
Moenie vergeet om reg onder jou neus te kyk nie!
Anéll Prins, ’n verpleegkundige wat sewe jaar lank by die Wijnland Fertiliteitskliniek op Stellenbosch gewerk het, sê: “’n Mens leer jou pasiënte goed ken. Hulle word later soos vriende en familie. Ons huil net so hard saam oor daardie negatiewe uitslae, en ons hou net so styf duim vas vir positiewe uitslae.
“Ek wil hê die betrokke vroue moet weet ons dink regtig aan hulle; dis vir ons baie meer as net ’n werk.”
Die vrugbaarheidsoplossing
Swangerskap is nie noodwendig die oplossing vir onvrugbaarheid nie. Volgens die webblad www.resolve.org is die sogenaamde vrugbaarheidsoplossing die emosionele vrede wat jy te midde van jou situasie bereik.
Die werklikheid is dat die uiteinde soms kinderloosheid is, of die finale besluit. Ook dan moet jy weet: Dis nie net ék nie …
Vernita Beukes van Kaapstad vertel dat sy met Turner-sindroom (’n chromosoom-afwyking by vroue) gebore is. Toe sy en haar man Etienne besluit het om hulle op in vitro-bevrugting te verlaat, het hulle gebid dat God se wil in hul lewe moet seëvier. “Ons is gelowig, en ons glo dat God ons oneindig liefhet. Ons glo ook dat Hy soms ‘nee’ sê.
“Ons was aanvanklik verslae oor die onvrugbaarheidsdiagnose – maar toe gebeur daar ’n wonderwerk: God het my laat besef dat ek eintlik die beste tannie denkbaar kan wees! En dan vir baie meer kinders as net my eie.
“Vandag leef ons ‘kinderloos’, ja, maar ons het báie kinders in ons lewe. Ek glo vas dat God se ‘nee’ vir ons eintlik ’n ‘ja’ is om vir ander mense se kinders iets te beteken.”
- Die artikel het oorspronklik in die Februarie 2020-uitgawe van die gedrukte LiG verskyn.
Geskryf deur Jackie van Wyk.
Hierdie is deel van ’n reeks oor onvrugbaarheid.
Ander artikels in die reeks: