Hier volg die wenresep vir gewaarborgde swangerskap. Dit is gratis en het ʼn 100%-sukseskoers. Binne die volgende maand gaan jy die goeie nuus met al jou vriende en familie deel!
Kan jy jou indink as só ʼn resep bestaan het? Hoeveel hartseer en frustrasie sou dit ons nie spaar nie! Vir soveel jaar het ek gewens ek het geweet wat die geheim is om swanger te raak. Hoe kry almal anders dit so maklik reg?
Hoe om onvrugbaarheid te oorleef
Onvrugbaarheid kan jou raadop en radeloos laat. Ek het herhaaldelik gesien hoe mense hulle geloof in God as gevolg daarvan verloor. Ek en my man, Francois, was self al naby daaraan. Soos ek in Deel 1 van dié rubriek gedeel het, is die eerste stap om te besef dat jy nie alleen is nie en ek het praktiese idees gedeel oor hoe jy kan uitreik na ander. Ons weet dalk nie hoe om swangerskap te waarborg nie, maar daar is baie geleentheid om te leer hoe om onvrugbaarheid te oorleef. Dit beïnvloed per slot van sake een uit elke ses paartjies in Suid-Afrika.
Dit is so belangrik om te besef dat dit nie net jy is nie wat daarmee stoei nie. Maar dit eindig ook nie daar nie. Die deurbrake lê in die detail! Dit is wanneer jy werklik met iemand kan identifiseer en saam kan lag en huil – daar beleef ons hoop. Dat die Here ʼn onuitputbare bron van openbaringe is en dat Hy mense op ons pad stuur om te help. Die probleem is dat dié tipe onderwerpe ongemaklik kan wees. Dit behels dalk seks, jaloesie of depressie. Nie maklike geselsies om rondom die braaivleisvuur te maak nie! Veral nie as jy met mense probeer praat wat nie ervaring van onvrugbaarheid het nie.
Vrugbaarheidsbehandelings en dies meer
Ek het so ʼn groot behoefte gehad om mense teë te kom wat sê: “ons ook!” Niemand het byvoorbeeld gepraat oor hoe onprakties vrugbaarheidsbehandelings kan wees nie. Oor hoe moeilik dit is om vir daardie 06:30 inwendige sonars te gaan voor werk nie. Oor hoe uitdagend dit is om elke dag inspuitings op dieselfde tyd toe te dien nie.
En dan is daar die etiese kwessies. Wat is God se wil oor die lot van oortollige embrio’s, byvoorbeeld? As ons die geleentheid kry om die geslag te kies, gaan ons dit doen? Ja, ons kon duisende rande betaal vir privaatberading en dit daar agter geslote deure bespreek, maar ek wou hieroor lees in tydskrifte en mense ontmoet wat daardeur is. Ek wou hoor wat ander mense doen om dit makliker te maak.
Onvrugbaarheid beïnvloed jou sekslewe
Dit sou vir my en Francois ook soveel gemoedsrus gee as ons geweet het ons is nie die enigste paartjie vir wie seks ʼn nagmerrie geraak het nie (ons het gevoel soos ruimtewesens!). Ek wens dat ander mans ook gepraat het oor die spanning wat hulle ervaar – veral wanneer dit by seksuele prestasie kom. En daarmee saam ook die emosionele las wat hulle dra.
Ons is vreemd aangekyk as ons daaroor probeer praat het. Mense het nie verstaan nie. Ons het alleen en simpel gevoel. Asof ons op gepik word deur die Here, want dit is dan net ons.
So kweek isolasie leuens.
Dis tyd om te praat oor onvrugbaarheid
Nie almal is ewe gemaklik om oor iets so intiems soos onvrugbaarheid te deel nie, maar ek wil jou tog aanmoedig om nie heeltemal stil te bly daaroor nie. Daar is ʼn dringende behoefte om meer gesprekke te hê oor hoe dit ons selfbeeld, huwelik, geestesgesondheid, sosiale lewe, lewensbeskouing en geloof raak. En dit is dan ook wat ek in dié rubriek gaan doen. Dit is tyd dat ons práát oor onvrugbaarheid. Ook oor die ongemaklike aspekte daarvan. Dis al hoe daar geleentheid gaan wees vir ons om nie net onvrugbaarheid te oorleef nie, maar dit te oorwin. Stilte help niemand nie.
Ek sluit af met ʼn staaltjie wat ons nog nooit vir enige iemand vertel het nie en wat ʼn bloos gaan waarborg. Hopelik het dit nog nooit met julle gebeur nie, maar indien wel, gaan julle nou baie minder alleen voel! Francois moes destyds ʼn spermmonster gee vir IVF. So is ons toe nou (op ʼn redelike koue dag) met dié botteltjie op pad kliniek toe. Die dokter het gesê ten einde die inhoud liggaamstemperatuur te hou, moes Francois dit onder sy arm in sy kieliebak vasknyp. Toe ons nou die monster wou oorhandig (probeer dít nou saggies verduidelik met ʼn ry mense agter jou!), ontdek ons die deksel is skoonveld, die botteltjie byna leeg en Francois se hele hemp besmeer … Dit was so tragies dat ons nie anders kon as om te lag nie! Ek het destyds so gewens ons kon dit vir mense vertel!
Geskryf deur Jackie van Wyk.
Hierdie is deel van ‘n reeks oor onvrugbaarheid wat oorspronklik in 2020 verskyn het.
Ander artikels in die reeks: