Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

“Dít het ma-wees my geleer”

Moet tog nooit ouerskap en kinders grootmaak met kinderspeletjies verwar nie. Só sal menige ma jou vertel. Hier is 5 lesse wat ouerskap ons geleer het.

Moet tog nooit ouerskap en kinders grootmaak met kinderspeletjies verwar nie. Só sal menige ma jou vertel. Ons het by ’n klompie ma’s gaan kers opsteek en gevra hulle moet terugdink aan die lesse wat hulle deur die jare geleer het.

Ouerskap: Die lesse wat ons geleer het

 ”Ek wens ek was 40 jaar jonger!” So sê ’n vriendin onlangs by die viering van haar sestigste verjaardag.

“Haai, regtig?” het iemand teruggekap. “En wat dan van al die lesse wat jy ná twintig geleer het? As ék toentertyd kon weet wat ek vandag weet, sou ek dalk met jou saamgestem het. Maar ek het die afgelope 40 jaar só baie geleer, veral oor ma-wees.”

Maar presies wat leer ma’s met verloop van tyd oor ouerskap?

Ons het drie gesoute ma’s gevra om te verklap watter lesse hulle geleer het.

5 Lesse geleer uit ouerskap

Ouerskap les #1: “Nie ’n resepteboek in sig nie”

Volgens die bekende skrywer en joernalis Jacqueline Leuvenninck is ’n mens nooit te oud om te leer nie.

In haar eie woorde: “Sedert ek my eersteling en die oudste van twee seuns byna veertig jaar gelede die eerste keer met vreugde en verbystering vasgehou het, is ek op ’n leerkurwe wat nooit ophou nie. Selfs dié wat diep geleerd is wat kind grootmaak betref, weet daar bestaan nie ’n algemene, flatervrye resep nie.

“Daar is darem riglyne oor hoe om jou kind te probeer voorberei op ’n wêreld wat jy, soos Moses van ouds, nie gaan sien nie.”

Haar raad aan jong ma’s?

“Elke kind het ’n eie, unieke individualiteit wat ’n mens hoog moet ag. Moedig hulle aan om hul eie dinkwerk te bly doen, sodat hulle, waar en wanneer nodig, teen die stroom kan swem.

“Vars, oorspronklike denke help ’n kind om die eie groep (en gesin) se blinde kolle raak te sien.

“Maar kinders moet ook leer dat daar geleenthede is waar hulle, ter wille van die vrede of iets groters as hulleself, moet toegee en by die res inval. Dat alles nie net om eie voorkeure of eie belang wentel nie.”

Frieda van der Walt beaam dit. Sy was vroeër direkteur van Famsa in die Wes-Kaap en is die ma van drie volwasse kinders. Sy sê: “Ek het geleer dat kinders se onderskeie persoonlikhede verskil, dat hulle nie duplikate of afdrukke van mekaar is nie. En dat jy daarom genoegsame ruimte daarvoor moet laat in jou hantering van elke kind.”

Ouerskap les #2: Gehaltetyd

Moet tog nooit ouerskap en kinders grootmaak met kinderspeletjies verwar nie. Só sal menige ma jou vertel. Hier is 5 lesse wat ouerskap ons geleer het.

Een ding waaroor ma’s skynbaar deur die bank met mekaar saamstem, is dat hulle graag meer tyd saam met hul kinders sou deurbring as hulle hul opvoedingstaak weer kon aanpak.

“Meer tyd, minder geld,” sê hulle. “Meer tyd aan dinge wat ewigheidswaarde het, en minder aan tydelike dinge.”

Hulle voeg by: “Gesels meer en preek minder. Probeer harder om te verstaan. Veroordeel minder. Lag meer en stres minder. Luister meer en praat minder.”

Jacqueline verwoord dit só: “Ek het deur groot hartseer geleer dat wanneer sekere kosbare oomblikke en geleenthede onbenut by jou verbygaan, daar nie ’n tweede kans kom nie. Ek het êrens gelees: ‘Beantwoord vandag sy vrae, ál sy vrae, want daar gaan ’n tyd kom dat hy nie jou antwoorde wil hê nie.

“En om vandag een uur lank om te gee, mag in die toekoms jare se hartseer verhoed.”

Die bekende en geliefde Rina Hugo het ook aan die gesprek deelgeneem en onder meer gesê: “Ek het nooit kinders gehad wat dikmond hul kamerdeur toeslaan en nie met my wou praat nie. Ons het altyd oor alles gepraat.

“Nou nog praat ons báie met mekaar. Ek sou sê goeie kommunikasie tussen ’n ma en haar kinders is goud werd. Gee hulle die kans om hul standpunt te stel, en luister dan na hulle. Hulle moet weet hulle kan enige tyd met jou praat, en oor enigiets.”

Ouerskap les #3: Daar is iets soos té besorg

Aan die een kant, sê dié ma’s, is daar ’n noodsaaklike betrokkenheid by die kind; aan die ander kant is daar die gevaar van oorbesorgdheid. ’n Ma moet besef dat sy dalk minder moet help en die kind tot groter selfstandigheid moet aanspoor.

Jacqueline sê: “Uit my kleintyd onthou ek wat ’n enorme voorreg dit was om tegelykertyd vry én beskut uit jou kindwees te loop. Met ouers wat so ’n bietjie ‘heedful neglect’ toepas.

“Die gevaar van oorbeskerming is minder waar kinders versorg en geliefd voel, maar die ouers steeds ’n eie lewe voer, los van hul kinders s’n. So ’n benadering kan die kinders motiveer en hulle rig en hulle ook toelaat om soms hul kop te stamp. Maar ’n ma moet sorg dra dat haar kind se nederlae nooit háár nederlae word nie.”

Rina sê: “Dis soms nodig, veral as hulle ouer word, om jou kinders die geleentheid te gee om self die wêreld te verken. Om sekerlik in die proses foute te begaan. Al maak dit jou senuwees kláár…

“Maar wees dan daar vir hulle. Stel belang in wat hulle doen.”

Ouerskap les #4: Moeilike tye bring groei

Ma-wees is vir seker nie altyd maanskyn en rose nie. Tog erken die meeste ma’s dat moeilike tye groeigeleenthede bring. Die skrywer Elize Parker sê: “Ma-wees is ’n unieke manier wat die Here geskep het om ’n mens se karakter te ontwikkel.”

Ja, jy kom dapperder anderkant uit. Terugskouend besef jy dat ’n lewe sonder siekte, konflik, swaarkry en foute maar ’n vervelige bestaan sou wees.

Maar wat gemaak met teleurstellings en foute?

Daar is bloedweinig ouers wat nie teleurstellings ervaar in die avontuur van kind grootmaak nie.

Jacqueline vertel: “Ma-wees is ’n eina-maar-toemaar-ding. My oupa het toentertyd reeds dié wysheid kwytgeraak: ‘Moet nooit te hoog opgee oor jou hond of jou kind nie, want iewers  gaan hy, soos sy ouers voor hom, droogmaak en jou tot nederige mismoed slaan.’

“Tydens my kinders se tienerfase het ’n ouer vriendin altyd gemaan dat ’n mens liefs nie op prinse moet vertrou nie…”

Frieda: “Ek het geleer dat wanneer ’n ouer faal, God se sambreel van genade groter, báie groter as my feilbare ma-wees is. En dat Paulus se vaste oortuiging in Romeine 8:28 dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, die waarheid is.

“Voorts het ek vasgestel dat kinders ’n ma vergewe waar sy tekort geskiet en foute gemaak het. Dat hulle begrip het vir ’n ma wat menslik is en foute maak, des te meer as hulle weet dat haar optrede goed bedoel was.

“Wat ek teen hierdie tyd weet, is dat ouers moet aanhou om die broodjies en vissies te bring, al daardie bietjies wat jy het om te gee. Die wonderwerke wat daarmee gedoen kan word, laat jy in bekwamer hande as jou eie.

“Kies vroeg in jou lewe om eerder twee tree saam met ons hemelse Vader vir jou kinders te kruip as om tien tree sonder Hom te probeer loop.”

Ouerskap les #5: Wanneer om die voorskootbande te knip

Jou kinders is nie ál waarvoor jy lewe nie. Daar moet ’n dag aanbreek wanneer jou kinders jou nie meer nodig het nie.

Nee, natuurlik word jy nooit regtig ’n “eks-ma” nie, want daardie onsigbare naelstring blý.

Maar waarvoor maak ons ons kinders groot? Tog sekerlik om onafhanklik van ons te kan leef en floreer. Altyd afhanklik van God, ja, maar onafhanklik van aardse ouers. ’n Ma moet dit altyd voor oë hou. Dit sou immers dwaas wees om te gaan sit en krepeer omdat jy nie meer die belangrikste vrou in hul lewe is nie.

Jy hoef nie ten gronde te gaan as jy nie lang briewe of oproepe van jou kinders ontvang nie. Die “goeie ou dae” toe hulle nog na jou toe gehardloop het as hulle seergekry het, is helaas verby.

Daar sal dalk dae kom wanneer jy van herinneringe moet leef. Dat ’n fotoalbum op jou skoot jou toevlug word, en ’n besoek uit die buiteland brandstof vir ’n hele jaar moet verskaf.

Selfs dan kan jy ontsaglik baie vir jou kinders beteken deur vir hulle te bid.

Jacqueline sê: “Om ’n kind groot te maak, kan jou baie vreugde besorg. Maar dit laat jou ook oneindig weerloos. Op ’n stadium moet hulle, ter wille van eie oorlewing, uit die nes vlieg. Terwyl jy wat so intens by hulle betrokke was bloot hande agter die rug kan toekyk.

“Én vir hulle bid. Vir genade en geloof en moed. Genoeg vir elke dag se gebruik.”

Die gevierde skrywer Alba Bouwer het eens die eienskappe van ’n goeie ma só opgesom: “’n Goeie ma is iemand wat weet dat kinders deel van haar eie grootwordproses is. Dat hulle medemense is en nie pionne in haar persoonlike skaakspel nie.

“n Goeie ma is ook ’n vrou wat ontdek het dat haar kinders se vriendskap vir haar goud werd is, maar dat dit verdien moet word.

“Daarbenewens is sy iemand wat weet om haar kind in haar hart maar nie in haar skaduwee nie vas te hou.”

Oorspronklike artikel geskryf deur Annieria McFarlane.

LEES MEER

Waardes – elke huis se fondament

Projek 108

Jy kan ons help nog meer Bybels versprei en die Evangelie verkondig

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir Jesus leer ken

Kinderpret-leesreeks Storietyd

Beleef ‘n pret, leersame en avontuurlike leesreis vir jong lesers

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders

Laat ‘n Ligspoor

Laat kinders leef met lig, lag en liefde

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF