Volgens die Afrika Joernaal vir gesondheidsorg en familiemedisyne ly ongeveer 18% van alle vroue in Afrika aan depressiesimptome voor en na die geboorte van hulle babas. In Suid-Afrika ly meer as 40% van vroue daaraan.
Nageboortedepressie is nie ‘n teken van ‘n swak karakter nie. Dit is ‘n algemene probleem en kan met die regte behandeling verlig of genees word. Indien jy simptome van nageboortedepressie ervaar, gaan spreek ‘n mediese kundige sodat jy gehelp kan word. Dit sal vir jou én jou baba groot voordele inhou.
Wat is nageboortedepressie?
Nageboortedepressie is ‘n mediese toestand wat opduik wanneer ‘n vrou geboorte skenk. Dit is die gevoel van hartseer, angstigheid of bekommernis en moegheid wat lank na die geboorte steeds teenwoordig is. Hierdie gevoelens maak dit moeilik vir jou om na jouself en jou baba om te sien.
Nageboortedepressie kan enige tyd na die geboorte begin, veral in die eerste 1 tot 3 weke na die bevalling. Dit kan vir ‘n jaar of selfs langer aanhou. Lees ook ons artikel, “Hoe lank kan ek nageboortedepressie hê”.
Sewe moontlike simptome van nageboortedepressie
#1 Jou emosies is altyd oorweldigend
Indien jy meer as normaal huil of as jy gereeld woedend is, kan jy moontlik aan nageboortedepressie ly. In die eerste paar weke beleef baie vroue die tipiese “baby blues” – huilerigheid, hopeloosheid of moegheid. As hierdie simptome egter vir meer as twee weke aanhou of meer intens raak, gaan spreek ‘n dokter.
As hartseer of skuldgevoelens jou tot in die grond ry, én as dit gereeld gebeur is dit ook raadsaam om hulp te kry. As jy konstant twyfel of jy ‘n goeie ma is, is dit ook raadsaam om jou dokter te gaan spreek.
#2 Jy verloor belangstelling in die lewe
‘n Nuwe ma ís moeg – dit is ‘n gegewe by ma’s wat hulle babatjies moet versorg en voed. Maar as jou moegheid jou lewensmoeg laat voel, moet die rooi ligte flikker.
Kan jy steeds ‘n grappie geniet? Of die toenadering van jou man? Geniet jy jou gunstelingkos en eet jy behoorlik? Soek jy die toegeneentheid van vriende en familie? Indien nie, vertel vir jou dokter van hierdie simptome.
#3 Jy dink daaraan om jouself of jou baba leed aan te doen
Dit is nie maklik om ‘n baba te versorg nie. Veral as die lewe ook ander dinge van jou eis. Meeste ma’s bekommer hulle oor baie dinge, en wonder of hulle goed genoeg is. Maar as jy so hopeloos voel dat jy daaraan dink om jouself of jou baba leed aan te doen, kan dit ‘n teken wees van gevorderde nageboortedepressie.
As jy enigsins aan selfdood dink, moet jy dadelik hulp kry. Kontak die Suid-Afrikaanse angs- en depressiegroep by 0800 70 80 90. ADHD Helpline 0800 55 44 33.
#4 Jy is buitengewoon besluiteloos
Miskien is jy te moeg om helder te dink. Maar as jy besluiteloos is, en dit die normale gang van jou lewe belemmer, mag dit die eerste tekens van nageboortedepressie wees.
#5 Jy ly aan slapeloosheid
Daardie frustrasie van wakker lê terwyl jou baba slaap, en die knaende wete dat jy nou móét slaap, want jy het die rus nodig. As jy nie kan slaap nie, ten spyte van moegheid, is dit ook ‘n teken dat jy moontlik aan nageboortedepressie ly.
#6 Groot veranderinge het in jou lewe gebeur
As jy jou werk verloor het of verhuis het. As jy en jou man gedurig baklei of as jou familie nie die soort ondersteuning bied wat jy dink hulle behoort te gee nie. Of daar is finansiële druk. Dit is alles moontlike stres-snellers vir nageboortedepressie.
#7 Jy voel geen band met jou baba nie
Alhoewel jy in teorie weet dat jy jou eie “bondeltjie vreugde” vashou, beleef jy niks van daardie vreugde nie. As die negatiewe gevoelens só oorweldigend is dat jy nie jou baba wil vertroetel nie, ly jy moontlik aan nageboortedepressie.
Hoe affekteer nageboortedepressie my kind?
Nageboortedepressie kan dit vir ‘n ma moeilik maak om haar baba te versorg. Dit is daarom belangrik dat jy so gou moontlik hulp kry indien jy aan nageboortedepressie ly – vir jou eie én jou kind se onthalwe.
Simptome van nageboortedepressie raak ‘n kind kognitief
Navorsing het bevind dat, indien ‘n nuwe ma depressief is, dit haar kind se ontwikkeling kan belemmer. Dit kan die risiko verhoog dat daar nie voldoende binding (“attachment”) tussen die ma en baba plaasvind nie, en kan dan kognitiewe prestasie verlaag.
Nageboortedepressie kan ook lei tot probleme met jou kind se gedrag, leer en ontwikkeling. Dit kan ook later in sy/haar lewe tot geestesgesondheidprobleme lei.
Simptome van nageboortedepressie kan borsvoeding affekteer
Dit is moontlik dat jou baba nie vir ‘n voldoende tydperk borsvoed nie, as gevolg van jou nageboortedepressie. Borsmelk bly die beste kos vir ‘n baba tydens die eerste jaar.
Nagboortedepressie kan keer dat jou baba medies reg versorg word
Dit is moontlik dat jou depressie veroorsaak dat jy nie voldoende na jou baba kan omsien as hy/sy siek is nie. Jy mag moontlike gesondheidsprobleme in jou baba miskyk en dan nie die nodige versorging of medikasie kry nie.
Indien jy nageboortedepressiesimptome ervaar, kry hulp. Dit gaan die lewe vir jou én jou kind beter maak. Lees in hierdie artikel hoe jy tuis ‘n paar aanpassings kan maak om die simptome van nageboortedepressie te verlig.