‘n Nuwe baba bring groot vreugde en vul jou hart met onmeetbare liefde. Maar dit bring ook verlies en verandering. Vir sommige ma’s bring daardie nuwe lewetjie uitdagings wat onoorkombaar voel. Of die donker gevoelens van nageboortedepressie.
Meeste vroue ervaar oorweldigende emosies voor en na die geboorte van hulle baba. Maar vir hoe lank kan depressiewe emosies ‘n ma se lewe moeilik maak?
Wat is nageboortedepressie?
Nageboortedepressie kom voor nadat ‘n ma geboorte geskenk het. Sommige ma’s beleef ook depressie vóór die geboorte. Daar word dikwels van perinatale depressie gepraat – gevoelens van depressie voor en na die geboorte.
Dit sluit in gevoelens van depressie en negatiewe emosies wat langer as twee weke teenwoordig is. Nageboortedepressie is ‘n geestesgesondheidtoestand wat behandel kan word. Daarom is dit belangrik om met ‘n dokter te gesels indien ‘n vrou vir meer as twee weke lank ‘n baie lae gemoedstoestand beleef.
Nageboortedepressie word nie deur ‘n enkele oorsaak aangebring nie. Kenners meen dis ‘n mengsel van genetiese en omgewingsfaktore. Dit is nie ‘n maklike of eenvoudige saak om ‘n nuwe baba in die lewe te bring en te versorg nie – dit stel groot emosionele eise aan ‘n vrou. Dinge soos die lewe se stres, verwagtinge by die werk of ervarings van trauma kan ‘n rol speel in nageboortedepressie. Ook die veranderinge in hormone wat ‘n nuwe ma beleef.
Wat is die simptome van nageboortedepressie?
Verskillende mense ervaar emosies en dus nageboortedepressie op verskillende wyses. Baie vroue besef eers nadat hulle deur die skaduvallei van nageboortedepressie is, dat hulle dit gehad het.
Die Amerikaanse Departement van geestesgesondheid lys die simptome van nageboortedepressie as volg:
- ‘n Konstante hartseer of angstigheid. Of ‘n gedurige gevoel van “leegheid”.
- Geïrriteerdheid.
- Skuldgevoelens of ‘n gevoel dat jy geen waarde het nie. Gevoelens van hopeloosheid of hulpeloosheid.
- Geen belangstelling of plesier meer in stokperdjies of ander aktiwiteite nie.
- Moegheid of ‘n abnormale afname in energie.
- ‘n Rustelose gevoel of ‘n onvermoë om stil te sit.
- Probleme met konsentrasie, geheue of om besluite te neem.
- Slapeloosheid, selfs al slaap haar baba. Wakker word vroeg in die oggend of om te verslaap.
- ‘n Buitengewone eetlus of ‘n dramatiese gewigsverandering – of beide.
- Pyne en skete, soos hoofpyn, krampe, spysverteringsprobleme wat geen fisiese oorsaak het nie en nie deur behandeling verlig word nie.
- Sy vind dit ‘n uitdaging om ‘n emosionele band met die nuwe baba te vorm.
- Onophoudelike twyfel oor haar vermoë om die nuwe baba te versorg.
- Gedagtes oor die dood, selfdood of om haarself of die baba leed aan te doen.
Dit is belangrik om te weet dat slegs ‘n mediese praktisyn ‘n ma kan help vasstel of die simptome en gevoelens wat sy beleef wel nageboortedepressie is. Indien ‘n ma dus enige van die bogenoemde simptome beleef, is dit raadsaam om met ‘n kundige persoon te gesels.
Lees ook die artikel, “Wat as my vrou nageboorte depressie het?”
Vir hoe lank kan ek nageboortedepressie hê?
Nageboortedepressie kan ‘n paar maande voordat ‘n vrou geboorte skenk begin, en kan tot en met ‘n jaar na die geboorte steeds soos ‘n swaar jas om haar sit. Dit kan egter vir party vroue veel langer neem om van nageboortedepressie te genees.
Vroue voel gewoonlik tranerig en angstig binne die eerste weke nadat die nuwe baba gebore is. Dit is normaal en te wagte, en staan as die sogenaamde “baby blues” bekend. Indien hierdie gevoelens van hartseer en ‘n lae gemoedstoestand vir langer as twee tot drie weke duur, is dit moontlik ‘n teken van nageboortedepressie.
‘n Studie gepubliseer in die Harvard Review of Psychiatry, het bevind dat nageboortedepressie ‘n kroniese siekte vir ‘n relatiewe groot groep ma’s is. Dit beteken dat daar vroue is wat selfs ‘n jaar nadat sy geboorte geskenk het, steeds aan nageboortedepressie ly.
Ongeveer 50% van vroue wat kliniese behandeling vir hulle nageboortedepressie ontvang het, het steeds simptome daarvan gehad ‘n jaar na die geboorte. Van diegene wat nie klinies behandel is nie, het 30% steeds nageboortedepressiesimptome gehad drie jaar nadat sy geboorte geskenk het.
Is my risiko groot om langer daaraan te ly?
Elkeen se pad met nageboortedepressie lyk anders. Kenners meen egter dat daar sekere risikofaktore is wat kan veroorsaak dat jy langer aan nageboortedepressie ly, selfs met behandeling. Die mate waarin jou simptome voorkom, en hoe lank jou simptome daar was voordat jy met behandeling begin het, kan ‘n invloed hê op hoe lank jy nageboortedepressie beleef.
Risikofaktore sluit die volgende in:
- ‘n Geskiedenis van depressie of ander geestesgesondheidtoestande.
- Probleme of uitdagings met borsvoeding.
- Komplikasies tydens die geboorteproses.
- ‘n Gebrek aan ondersteuning van jou man, familie of vriende.
- Ander groot veranderinge in jou lewe nadat jou baba gebore is, soos verhuising of werkverlies.
- ‘n Geskiedenis van nageboortedepressie na ‘n vorige swangerskap.
Wetenskaplikes het ook bevind dat vroue wat seksueel mishandel is of baie stres ervaar, die risiko inhou om langer aan nageboortedepressie te ly. ‘n Groter persentasie van vroue uit ‘n laer inkomstegroep ly ook aan nageboortedepressie.
Daar is nie ‘n formule om uit te werk hoe lank jy aan nageboortedepressie kan ly nie. Maar kenners is dit eens dat indien ‘n ma die regte behandeling kry, haar nageboortedepressie verlig kan word, al is daar risikofaktore vir kroniese nageboortedepressie teenwoordig.
Indien ‘n baba sieklik is, verhoog dit egter nie die risiko vir langtermyn nageboortedepressie nie.
Hoe word nageboortedepressie behandel?
Nuwe ma’s word aangeraai om dadelik ‘n dokter te gaan spreek indien hulle gevoelens van depressie beleef. Indien nageboortedepressie gediagnoseer word, kan dit effektief behandel word.
Daar is verskeie maniere waarop hierdie geestesgesondheidtoestand behandel kan word:
Berading: Vir geringe tot matige depressie sal psigoterapie en ‘n meer doeltreffende ondersteuningsnetwerk vir die ma reeds baie doen om nageboortedepressie te verlig en selfs te genees.
Medikasie: ‘n Dokter kan ‘n antidepressant voorskryf wat simptome kan verlig. Hy of sy sal die korrekte dosis bepaal, en ook met die vrou gesels oor hoe dit borsvoeding kan affekteer.
Nog ‘n manier om nageboortedepressie te behandel is deur magnetiese stimulasie van senuweeselle. Hierdie metode affekteer nie borsvoeding nie, en dokters pas dit vir ‘n kort tydperk toe.
Raad vir ma’s wat sukkel met nageboortedepresssie
Maniere om jouself te versorg ten einde nageboortedepressiesimptome te verlig, sluit die volgende in:
- Kry soveel as moontlik rus.
- Vra ander mense om jou te help, as dit enigsins moontlik is.
- Probeer om nie alles perfek te wil doen nie.
- Bestee tyd saam met vriende en familie.
- Deel jou gevoelens met iemand wie jy vertrou.
- Sluit aan by ‘n ondersteuningsgroep by jou kerk of in jou gemeenskap.
- Kry oefening, al is dit net om met die stootwaentjie om die blok te gaan stap.
- Probeer om nie groot veranderinge in hierdie tyd te maak nie, want dit kan jou net meer laat stres.
Indien jy voel dat jy jouself of jou baba leed wil aandoen, kontak die Suid-Afrikaanse groep vir depressie en angs by 0800 456 789 of SMS 31393.