Is jou kind ’n introvert? inBekommer jy jou oor jou eenkantkind? Wens jy daar was ’n manier om hierdie kinders uit hul dop te laat kruip?
Wanneer jy introverte en hul unieke eienskappe egter behoorlik verstaan, lyk die prentjie onmiddellik beter en kan jy sulke kinders help om hul voete in ’n ekstrovertgerigte wêreld te vind.
Dis vir sorgsame ouers belangrik dat hul kind gebalanseerd en goed aangepas is, dat hulle opbouende vriendskappe het en dat hulle hul besondere talente kan uitleef.
Wanneer kinders fyngevoelig is, wegskram van groepsaktiwiteite, ure alleen deurbring of oënskynlik sukkel om hulle te laat geld, wonder ouers of hulle moet ingryp. Insig in wat introversie regtig behels, kan dié kwelgedagtes tem.
Wat is ’n introvert?
Introverte word tipies beskou as mense wat ingestel is op die innerlike wêreld van denke en gevoel. Hulle neem waar wat om hulle gebeur, verwerk dit op ’n diep vlak en gee betekenis daaraan.
Hierdie verwerkingproses verg tyd en energie, en daarom herlaai introverte hul batterye deur alleenwees of deur hulle in ’n gunstelingonderwerp of -aktiwiteit te verdiep. Hulle verkies dikwels ’n kalm omgewing. Vir buitestanders mag dit lyk of hulle baie tyd “in hul kop” deurbring.
Wat is ’n ekstrovert?
Ekstroverte, aan die ander kant, fokus op die uiterlike werklikheid van mense en aktiwiteite. Hulle is uitgaande en werp hulle graag heelhartig in die gebeure.
Hulle is spraaksaam en kry energie deur interaksie met vriend én vreemdeling. ’n Omgewing ryk aan verskillende soorte stimulasie put hulle nie sommer uit nie.
Navorsing wys uit dat een derde tot die helfte van alle mense introverte is. Maar niemand het nét introvert- of nét ekstrovert-eienskappe nie; elkeen van ons lê iewers op hierdie spektrum, met die sogenaamde ambiverte in die middel.
Moet ons help?
Dis insiggewend dat intro- of ekstroversie nie bloot ’n persoonlikheidstrek is nie, maar dat dit deel van ons liggaam se “bedrading” vorm. Jenn Granneman is die stigter van die bekroonde webwerf IntrovertDear.com, en hier word besonder insiggewende navorsing en die gepaardgaande bevindings aangehaal.
Daar is onder meer bevind, sê Jenn, dat babas wat aan onbekende reuke, geluide en visuele stimuli blootgestel word, een van twee reaksies toon: Een groep het kalm gebly; die tweede groep het heftig op die stimuli gereageer deur byvoorbeeld te huil.
Jare later het opvolgstudies getoon dat die hoë reaksiegroep meestal in ernstige, behoedsame volwassenes ontwikkel het. Daarenteen was die lae reaksiegroep meer ontspanne, selfversekerd en waagmoediger.
Die hoë reaksiegroep stem grootliks ooreen met diegene wat ons as introverte sal beskou, en die lae reaksiegroep is die ekstroverte.
Wat staan die introvert se ouers te doen?
Want as introversie dan onlosmaaklik deel is van hoe spesifieke kinders die werklikheid ervaar, beteken dit dat hul ouers net ’n beperkte rol in hul vorming kan speel?
Nee, glad nie. Die navorsing wat hierbo genoem word, het ook aangedui dat die babas in die hoë reaksiegroep nie almal eenders ontwikkel het nie. Dié met ouers wat hulle oorbeskerm het, was as volwassenes geneig om nog meer terughoudend en behoedsaam te wees.
En dié wie se ouers hulle op ’n gebalanseerde manier tot waagmoed aangespoor het, was minder vreesagtig.
Ouers se optrede het inderdaad ’n deurslaggewende invloed. Liefdevolle aanvaarding, realistiese verwagtings en praktiese steun kan introvert-kinders help om gesonde selfvertroue te ontwikkel en te sosialiseer op maniere wat hulle pas.
Dus, Pa en Ma: Jou introvert-kind het jou nodig!
Goeie eienskappe en groot uitdagings
Jou introvert-kind is miskien minder uitgaande as sy ekstroverte sussie, maar hy het sy eie gawes. Is hy dalk sensitief, empaties, vredeliewend of beskeie? Beskik hy oor ’n komplekse denkvermoë? Het hy deursettingsvermoë?
Maak ’n punt daarvan om sy positiewe eienskappe raak te sien en te sê jy is trots op hom.
Jenn sê die manier waarop ouers hul introvert-kinders benader, is uiters belangrik. “Waak daarteen om jou kind te laat voel dat daar iets skort, of dat introversie ’n probleem is wat opgelos moet word.”
Dis nie ’n ongegronde waarskuwing nie. Dalk besef ons dit nie, maar in ons leefwêreld word ekstroversie as die norm voorgehou.
Susan Cain gee in haar topverkoperboek Quiet: The power of introverts in a world that can’t stop talking (Penguin, 2012) talle voorbeelde van die sogenaamde “ekstrovert-ideaal”.
Ouers met introvert-kinders kan gerus oplet of, en hoe, die volgende hul kind raak:
- Oor die algemeen word leiers wat selfvertroue en sekerheid uitstraal, en wat vinnige besluite neem, hoër aangeslaan as stil, introspektiewe leiers. Inderwaarheid is eersgenoemdes se besluite nie noodwendig sinvoller nie.
- Introverte verwerk inligting op ’n dieper vlak en neem die werklikheid in ál sy kompleksiteit in ag. Juis daarom kan introvert-leiers huiwerig voorkom wanneer ’n belangrike besluit ter sprake is. Waarnemers kan dit verkeerdelik as ’n gebrek aan daadkrag interpreteer.
- In vergaderings is dit dikwels die dinamiese, welsprekende persoon wie se mening aanvaar word. Tog dui wetenskaplike studies aan dat daar geen verband tussen verbale vermoëns en insig is nie.
- Die ekstrovert-ideaal, saam met ’n groeiende fokus op groepdenke, het skole dramaties beïnvloed. Skoolbanke wat byvoorbeeld nie meer in enkelrye staan nie maar in ’n vorm wat groepwerk bevorder – selfs in wiskunde en kreatiewe skryfwerk – bevoordeel ekstroverte, omdat hulle energie put uit interaksie en ’n bedrywige omgewing. Introverte, daarenteen, lewer hul beste werk met die minimum stimulering en onderbreking. Onthou: Die klaskamerkultuur kan jou kind se prestasie beïnvloed.
- Wanneer ’n introvert en ’n ekstrovert met mekaar saamspan, kan hulle groot hoogtes bereik. Ons vereenselwig die ontstaan van die firma Apple met die charismatiese Steve Jobs, maar dit was Steve Wozniak, ’n selferkende introvert, wat die eerste Apple-rekenaar ontwerp het.
Moets en moenies vir ouers
Hier is Jenn Granneman en Natasha Daniels, ’n kinderterapeut, se wenke vir ouers:
- Volgens navorsers maak introverte meer op hul langtermyngeheue staat as wat ekstroverte dit doen. Jy moet in ag neem dat jou introvert-kind langer kan neem om ’n saak te deurdink of ’n antwoord te formuleer.
- Introverte het tyd nodig om oor sake na te dink. Moenie vra hoekom hulle so stil is nie.
- Introverte waardeer intieme, sinvolle gesprekke. Vra vrae soos: “Hoe is jy nou anders as verlede jaar dié tyd?” Of gesels oor die dieper betekenis van die lewe.
- Gun jou kind die tyd en ruimte om in ’n belangstelling of stokperdjie “weg te raak”.
- Sorg dat jou kind, indien moontlik, ’n eie ruimte het om ongestoord te kan “doen en wees”.
- Introverte hou van sosiale kontak, maar die “dosis” daarvan is belangrik. Toon begrip wanneer jou kind nie wil uitgaan nie.
- Moenie ’n jong kind dwing om met iemand te speel of te praat nie; benader dit stappie vir stappie.
- Introverte moet betekenis vind in hul werk en kan daarteen skop om bloot om den brode te werk.
- Moenie ’n introvert voor ander mense terg of teregwys nie – hulle kan blootgestel voel.
- Introverte het ’n diep behoefte aan mense wat hulle liefhet nét soos hulle is.
Is my kind ’n introvert?
As jy wonder tot watter mate jou kind ’n introvert is, kan jy die volgende informele vraelys as ’n riglyn gebruik. Dis wel vir volwassenes ontwerp, maar kan steeds handig wees.
Hierdie kinders …
- verkies aangesig-tot-aangesig-gesprekke bo groepsaktiwiteite;
- verkies dikwels om hulle skriftelik uit te druk;
- hou van hul eie geselskap;
- gee minder om vir rykdom, roem en status as hul tydgenote;
- word as goeie luisteraars beskou;
- waag nie graag groot kanse nie;
- hou daarvan om hulle in ’n stuk werk te verdiep, met min onderbrekings;
- hou van klein verjaardagvierings, met byvoorbeeld slegs een of twee goeie vriende of familielede teenwoordig;
- word as “saggeaard” of “rustig” beskryf;
- deel nie graag hul werk met ander voordat dit nie voltooi is nie;
- is geneig om te dink voor hulle praat;
- laat dikwels oproepe na die foon se stemposfunksie deurgaan.
* ’n “Ja” op die meeste vrae dui waarskynlik op ’n introvert; ’n “nee” op die meeste vrae op ’n ekstrovert. En “ja” en “nee” op ewe veel vrae dui op ’n sogenaamde ambivert, wat in die middel van die introvert/ekstrovert-spektrum lê.
Lees nog artikels oor ouerskap hier.
Bron: Quiet Quiz op www.thepowerofintroverts.com
Geskryf deur Mariette Snyman.