In Grieks is daar vier verskillende woorde vir liefde: storge, philia, eros en agapé. Vir die huwelik om oor ’n lang tydperk te kan werk, is al vier hierdie ‘liefdes’ nodig.
CS Lewis het in 1958 ’n reeks praatjies op die BBC oor hierdie vier woorde gehad. Dis later ook gepubliseer as The four loves.
Tipe liefde: Storge (affection)
Storge (affection) – (empathy bond) – Lewis noem storge die nederigste van die liefdes. Dis die liefde wat ’n ouer het vir ’n kind, wat jy het vir jou troeteldier en dis die liefde wat jy in jou gemeenskap ervaar.
Ook liefde vir ’n goeie fliek, of musiek. Dis die natuurlikste liefde. Dit kan sterk genoeg wees om ’n hindernis te wees vir geestelike groei, veral wanneer jou familie en kultuur jou terughou.
Dis ’n liefde wat dikwels saam met een van die ander liefdes werk. Die beste manier om dit te beskryf is die ‘warm’ gevoel wat jy het vir die bekende – jou familie die mense saam met wie jy werk, in die skool, op universiteit, ens.
Tipe liefde: Philia (friendship)
Philia – (friendship love, bond, love of the soul) – Lewis noem hierdie ‘the least jealous of the loves’. Dit beskryf die band and tussen mense wat dieselfde waardes, belange en aktiwiteite deel.
Dis nie ’n ‘nodige’ liefde nie, maar dit word vrylik gegee. Dis ’n liefde wat reageer op vriendelikheid, waardering of liefde.
Dis ’n liefde wat neem en gee insluit, maar wanneer dit onder druk geplaas word, kan dit uitmekaarval. Volgens Lewis is dit die soort liefde waarsonder ons kan leef, as dit moet en min mense ken regtig hierdie soort liefde – dit neem tyd.
Tipe liefde: Eros (romantic)
Eros – (romantic love, love of the body, erotic love.) Dit verskil van philia in die sin dat verliefdes graag met mekaar oor hulle liefde praat, hulle kyk vir mekaar, hulle absorbeer as’t ware mekaar.
Eros is passie, ’n liefde wat baseer is op ’n emosionele betrokkenheid gegrond op liggaamlike chemiese reaksies – skoenlappers op jou maag, vreugde, opwinding. Dis basiese idee van hierdie liefde is self-bevrediging.
Byvoorbeeld, ek het jou lief, want jy maak my gelukkig. Die basis van die tipe liefde is dikwels ’n karaktereienskap in die een vir wie jy lief is. Wanneer die eienskap verander, is die liefde weg.
Eros wil hê. Wanneer eros gee, gee dit net om iets terug te ontvang. As eros nie kry wat dit wil hê nie, ontwikkel bitterheid of wrewel tree in.
Eros is goed en reg, maar dis nie genoeg om ’n verhouding op die lang duur te laat duur nie. Daar word gesê hierdie buzz wat Eros genereer, is binne ’n jaar weg. In Lewis se woorde, Eros ‘needs a nest of storge’ om te kan oorleef.
Dis iets waaraan ons elke dag moet werk. Selfs wanneer jy moeg is.
Tipe liefde: Agape (charity)
Agape – (“God” love, self-sacrificing love.) Dis die liefde van 1 Kor 13. In die oorspronklike vertaling word die woord agape telkens gebruik. In die King James vertaling, is dit as ‘charity’ aangedui, maar moderne vertaling gebruik die woord ‘liefde.’
In die vorige hoofstuk, praat Paulus oor geestelike gawes en omdat die Korintieërs begin wedywer het oor wie se gawe nou beter is, skryf hy hierdie brief. Liefde behoort die middelpunt van al hulle handelinge te wees nie, sê hy, nie selfbelang nie.
Wat Agape besonders maak, is dat dit hoofsaaklik ’n liefde van die ‘wil’ is. Dis ’n amper onnatuurlike liefde, want dit druis teen ons eie natuur in. Agape word nie aangevuur deur meriete of die waarde van die objek nie, maar dis ’n God-gegewe liefde.
Agape het die een lief wat niemand anders liefhet nie, die een wat nie liefde verdien nie, die lelike een. Agape gee met oorgawe. Dis ’n liefde wat aanhou gee, selfs wanneer die geliefde nie reageer nie, onvriendelik, onwaardig is.
Agape wil net die beste hê vir die geliefde. Dis ’n allesoorweldigende passie vir die welsyn van ander. Dis ’n liefde wat bly staan selfs wanneer omstandighede verander. Die grootste van die liefdes.
Omdat God ons liefhet, is die Agape liefde in ons lewe moontlik – om dit te gee, maar ook om dit te aanvaar.
En dis wanneer jy die Agape liefde regtig verstaan dat ’n huwelik kan werk. Dit gaan nie oor jou en jou behoeftes nie, maar oor die ander persoon s’n. Daarmee bedoel ek allermins dat die vrou ’n vloerlap is. Wedersydse respek en liefde is nodig.
Hesed-liefde
In die Ou Testament kry ons ook die Hebreeuse woord ‘hesed’ vir liefde. Hesed en agape beskryf dieselfde edelgesteente vanuit verskillende hoeke.
Hesed word dikwels in die Psalms gebruik. Dit word vertaal as ‘lovingkindness’ ‘unfailing love.’ Dis ’n dieper liefde, standvastige liefde, getrouheid wat vir ewig duur.
Dis die soort liefde wat ten spyte van sonde en verraad liefhet en wat met grasie vergewe.
Hesed is om soos God lief te hê.
Hesed is nie net ’n gevoel nie, maar ook ’n daad. Dit meng in by geliefdes en help hulle.
Hesed is die moeë pa wat dwarsdeur die nag gaan soek na sy kind wat iewers in vervalle geboue in die stad skuil.
Hesed is die ma wat dag na dag na haar gestremde kind omsien.
Hesed is die paartjie wat hulle sestigste huweliksherdening vier.
Moderne liefde
Vandag fokus boeke, flieks so op die korttermyn. Is dit omdat ’n lewenslange getrouheid skaars raak? Meer en meer mense kom uit gebroke huwelike, dis moeilik om te dink die liefde kan end-uit hou.
In die fliek Letters to Juliet, vra die kleinseun vir die karakter wat deur Vanessa Regrave gespeel word, hoekom ’n mens nie maar net die ‘messy parts’ van die lewe kan ‘skip’ nie. En dan sê sy vir hom: Life is the messy parts.
Dink anders oor liefde
Gaan Google gerus op Youtube “The invisible woman”; Nicole Johnson praat oor hoe ons as ma’s op ’n dag agterkom ons is ‘onsigbaar’ en hoe frustreerd en ja, verslae dit ons maak.
Maar dan vertel sy van die boek oor katedrale wat ’n vriendin vir haar gee. Voorin skryf die vriendin vir haar sy sien wat sy doen, al sien niemand anders dit raak nie. En dan verstaan sy.
Soos die onbekende mense wat hulle hele lewe gegee het om aan katedrale te bou, sien ons as ma’s nie ooit die eindproduk nie. Elke cupcake wat jy bak, elke balet-bolla wat jy maak, elke vuil rugbybroek wat jy was – dis nie vir hulle wat jy dit doen nie, dis vir God. En Hy sien jou raak – vir Hom is ons nie onsigbaar nie.
Lees ook ons artikel, Hoe weet ek my man is lief vir my?
‘n Weergawe van hierdie artikel is gebaseer op ‘n praatjie van Elise Winkler.