Daar is iets besonders aan ’n vrou wat haar man se grootste ondersteuner is. En daar is iets spesiaals aan ’n man wat dit vir sy vrou is. Hulle moedig mekaar aan, en saam koester hulle drome vir hul toekoms. Hulle troos en beskerm mekaar, en hulle groei saam. Só lyk ’n huwelik waar liefde wen.
Dis maklik om te sê “ek is lief vir jou”. Maar die toets vir dié liefde lê in ons alledaagse doen en late, in hoe ons reageer, hoe ons met mekaar praat en na mekaar luister, en hoe ons bewustelik saam groei.
Om jou man se grootste ondersteuner te wees, beteken nie dat jy van jouself vergeet nie. Dit beteken eerder dat jy sy menswees raaksien, sy pogings waardeer om goed en reg op te tree, en dat jy vol liefde en deernis met hom praat en na hom luister. Ook al is jy moeg en gefrustreerd. Met dié soort optrede sê jy: “Ek glo in jou, en ek is aan jou kant.”
Wanneer liefde wen
Liefde wen wanneer ’n paartjie kies om mekaar op te bou, ten spyte van spanning, bekommernisse en die gedurige gejaag waaraan hulle, as individue en as ’n paartjie, onderworpe is.
Dié soort positiewe gesindheid begin dikwels by iets eenvoudigs, soos om mekaar se grootste ondersteuner en selfs bewonderaar te wees. Nie noodwendig om vir alles hande te klap wat jou maat doen nie, maar om te ondersteun, te vertrou en om werklik lief te hê.
LEES OOK: ‘n Gesonde huwelik begin en staan op vriendskap
Liefde wen wanneer julle kies om te sê: “Ek is vir jou, nie teen jou nie.” En wanneer liefde in die huwelik wen, wen almal in die huis.
Focus on the Family, ’n wêreldwye Christelike bediening wat gesinne help om te floreer, maak dié stelling: “When a husband feels supported and believed in, he steps into his purpose with confidence.”
Dit geld eweneens vir die maat. ’n Man wat in sy vrou se drome glo en dit aanmoedig en daadwerklik bevorder, maak haar roeping as eggenoot (en ma en vriendin en dogter en skoondogter) soveel makliker.
In ’n gesonde huwelik is die onderskeie eggenote mekaar se grootste ondersteuner. Hulle is dus ’n span, elk met ’n eie rasieleier – die ander een.
Die atmosfeer in jou huis
Elke huis het ’n gevoel, ’n bepaalde “klank” wat uit die hart kom van dié wat tussen daardie mure woon. Nee, dit kom nie van die foto’s teen die muur of die meubels in die onderskeie vertrekke nie; dis in die woorde wat daar gesê en gehoor word. Dis in die manier waarop die huismense mekaar behandel en die wyse waarop buitestanders ontvang en verwelkom word.
Hoe jy met jou eggenoot praat wanneer jul kinders teenwoordig is, hoe jy oor jou maat praat voor jul kinders en gaste as sy/hy nie in die omtrek is nie, hoe jy reageer as jou maat ’n fout begaan, dit alles dra by tot die atmosfeer in jul huis. Die Spreukedigter herinner ons hiéraan: “’n Vriendelike antwoord kalmeer die gemoedere, ’n dwars antwoord laat woede opspring … Vriendelike woorde bring lewe …” (Spr 15:1-2).
Johan Botha, ’n Bloemfonteinse skrywer en lewensafrigter, gebruik dié beeld: “’n Huis is soos ’n tuin. Jy kan nie verwag dat respek en warmte groei as jy net kritiek plant nie. Die woorde wat jy gebruik, is soos saad wat jy saai. Die saad bepaal of daar mettertyd ’n tuin sal ontwikkel en of dit in ’n dorre woestyn sal ontaard.
“Kies dus doelbewus watter soort saad jy wil saai. Kies só dat jul huis ’n veilige hawe kan wees, ’n plek waar jou mense in die volle sin van die woord kan tuiskom ná ’n moeilike dag.”
Wanneer dit moeilik gaan
Dis geen geheim nie dat huwelike onder druk is. Minder mense trou en baie huwelike misluk. Volgens onlangse statistiek eindig byna een uit elke drie huwelike in Suid-Afrika binne tien jaar in die skeihof.
Friedel Olckers, ’n spesialisterapeut, het dié raad vir getroudes wanneer dinge dreig om skeef te loop:
- Maak seker julle fokus op een probleem op ’n slag. Bekyk die probleem objektief. Van bo af, soos ’n arend.
- Wees so kreatief moontlik. Kreatiwiteit is dikwels noodsaaklik as julle ’n sinvolle oplossing wil bereik.
- Bly kalm. Probleemoplossing kan slegs plaasvind wanneer julle nie deur jul emosies oorweldig word nie.
- Dink ’n slag “buite die boks” en gebruik die probleem as ’n geleentheid om nader aan jou maat te beweeg, om volharding te kweek en om sinvol saam te werk aan ’n wen-wen-wen-oplossing. By laasgenoemde wen jy én jou maat én jul huwelik.
LEES OOK: My huwelik – Kritiseer ek te gou, te maklik?
Tien maniere om mekaar se grootste ondersteuner te wees
- Sorg (minstens) elke week vir ’n behoorlike gesprek. Vra dan vir mekaar hoe dit gaan, hoe dit régtig gaan. Nie hoe dit met die kinders of by die werk gaan nie, en ook nie of al die rekenings betaal is nie. Vra ook: “Hoe kan ek jou in hierdie week help?”
- Kies saam ’n verhouding-doelwit vir die week. Hou dit eenvoudig en haalbaar. Iets soos: “Ons gaan twee aande dié week saam koffie drink op die stoep as die kinders in die bed is.” Ruim doelbewus tyd in vir mekaar; dit hoef nie geld te kos nie.
- Vertel mekaar wat elkeen se persoonlike doelwitte vir die week is. Sê vir jou maat wat jy dié week wil bereik – by die werk, by die huis, wat jou gesondheid betref, enigiets. Skryf alles neer, en doen later navraag by jou maat. Moedig mekaar aan.
- Vier die klein oorwinnings en al die spesiale oomblikke wat julle deel. Moenie wag vir ’n “groot” geleentheid om daardie spesiale bottel vonkelwyn oop te maak nie; so iets kan nie gewaarborg word nie. Bemeester saam iets nuuts en klink ’n glasie daarop. Bewonder die volmaan of die sonsondergang.
- Onthou: Julle is ’n span en God is julle span se “Kaptein”. Sê saam “dankie, Here”, ook vir al die klein en skynbaar onbenullige dinge. So ’n gebed – dit kan maar kort wees – bind julle vaster aan mekaar.
- Wees stadig om te praat en vinnig om te luister. Soms is stilte ’n groter bewys van liefde en ondersteuning as ’n stukkie welmenende raad of ’n uitgesproke mening.
- Wys respek in die openbaar. Moenie grappies maak voor ander ten koste van jou maat nie. Spog eerder met jou maat, wees haar/sy pryssanger.
- Sien mekaar raak. Fokus op die dinge wat jou maat doen, al is dit nie noodwendig buitengewoon nie. Sê dat jy dit raaksien. Skryf jou komplimente of bemoedigende woorde op ’n stuk papier en lees dit saam wanneer die lewe druk. Stuur deur die loop van die dag ’n boodskap om dankie te sê vir jou maat se teenwoordigheid in jou lewe.
- Vergelyk minder, waardeer meer. Waak daarteen om jou maat se pogings om goeie dinge in jul verhouding te doen met jou eie te vergelyk. Jy kan raaksien dat jy die een is wat die meeste “werk” in die verhouding verrig, óf jy kan sien wanneer jou maat ’n poging aanwend om goeie dinge te doen. Onthou: Jou maat en jul huwelik is uniek. Wees dus op die uitkyk vir dinge om te vier, en lag saam oor dit wat julle anders maak as julle vriende. Kortweg: Leer om (weer) jou maat te geniet.
- Doen dinge saam. Skep doelbewus geleenthede waartydens julle dinge saam kan doen. Ry jou man gou om te gaan hout koop? Gaan sommer saam en koop vir julle wegneemkoffie langs die pad.
’n Nuwe belofte
Lees gerus hierdie verwerking van 1 Korintiërs 13 saam met jou geliefde, en plak dit dan êrens in die huis op sodat julle gereeld kan onthou wie en wat julle vir mekaar is.
Al kan ek al die tale in die wêreld praat, al bereik ek al my doelwitte en al ken ek die Here se wil, maar ek het jou nie onvoorwaardelik lief nie, beteken dit niks.
Al gee ek alles wat ek het vir die kinders en vir ons dorp en vir my werk, maar ek doen dit sonder om regtig lief te hê, beteken dit ook niks.
Want liefde is sag en geduldig. Liefde gee tweede kanse. Liefde onthou nie elke fout nie en loop nie weg ná die eerste seerkry nie.
Liefde sê: “Ek kies jou, al verstaan ek jou nie altyd nie.”
Liefde is nie jaloers of trots nie, en daarom gee ek jou ruimte om te groei.
Liefde hou aan glo, daarom glo ek ook in jou.
Liefde hou aan hoop, daarom hou ek vas aan die hoop dat die Here sal voortgaan om ons huwelik te seën.
En, nog meer as dit, ek hou aan liefhê soos Hy ons liefhet, selfs wanneer ’n storm woed.
Want as alles om ons verdwyn, bly drie dinge vir ons oor: geloof, hoop en liefde.
En die grootste hiervan is liefde.
Lees nog artikels oor die huwelik en verhoudings.

















