Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Skryf is vir my soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak’ – LiG-rubriekskrywer vertel hoe gehoorsaamheid haar lewe verander het

Dis 2020. My baba is skaars ’n maand en my oudste seuntjie nog nie twee jaar oud nie. Daar is twee pare doeke wat geruil moet word en twee magies wat gevoer moet word. Daar is twee middagslapies wat gekoördineer moet word. Dis genoeg om enige ma moeg te maak.

Toe kondig Suid-Afrika se president ’n Vlak 5-inperking aan. En terwyl ander mense skarrel om toiletpapier te koop en piesangbrood te bak, is my man, ’n noodwerker, steeds aan die werk.

Niemand loer in vir ’n koppie koffie nie. Niemand kom help met huistakies nie. Niemand bring sommer ’n ete nie. Alles is vreemd en onseker. Die kontras tussen my eerste swangerskap en hierdie tweede een, en die verskil in die soort ondersteuning wat ek toe geniet het, is enorm.

Skryf? Ék?

Te midde van my eie chaos kon ek nie ophou dink aan al die mammas wat vir die eerste keer ma geword het nie. Daardie ma’s wat hul nuwe rol moes navigeer in ’n tyd van isolasie en onsekerheid. Mense wat sonder hul normale ondersteuningstelsels moes klaarkom.

Dit was in daardie tyd dat ek sonder ophou ervaar het hoe die Here van my verwag om iets te doen om sulke mammas te ondersteun. Dit het gevoel asof Hy my aansê om iets vir hulle te skryf.

Maar die blote idee het absurd geklink. Ek het reeds meer as genoeg gehad om te doen. Waarom nóg iets aanpak? Boonop iets wat so ver buite my gemaksone lê?

Maar die gedagte daaraan wou eenvoudig nie wyk nie. Hoe meer ek probeer het om dit te ignoreer, hoe meer het dit na my toe teruggekeer. Op allerlei vreemde maniere het ek verskillende bloggers ontmoet. Ek het begin navorsing doen en ’n kursus oor sosiale media voltooi. Ek het geleer hoe om ’n webblad te skep. Stadig maar seker het ek begin verstaan hoe daardie wêreld lyk en funksioneer.

LEES EEN VAN SIMONE SE RUBRIEKE: Die hemel drup dou

Uiteindelik het ek besef ek kan nie vir altyd ’n Jona wees nie. Almal weet tog hoe die weghardloop van die Here se opdrag vir hóm verloop het …

Ek het toe begin skryf. Ek het oor mawees geskryf, oor alles wat ek self graag sou wou weet en alles waaroor ander mammas praat en waarvoor hulle vra. Ek het navorsing gedoen oor borsvoeding, voeding tydens swangerskap, mamma-welstand en kinderontwikkeling en daaroor geskryf. Ek het geskryf oor die aktiwiteite wat ek en my kinders tydens die grendeltyd geniet het. En oor geloof vanuit ’n mamma se perspektief.

My oogmerk was eenvoudig: As ek hiérmee een mens kan help, is dit vir my genoeg.

Ek het ook anonieme briewe oor Covid-19 aan verskillende tydskrifte gestuur. Ek het nie dikwels daaraan gedink nie en was salig onbewus daarvan dat die Here toe reeds besig was om ’n deur vir my oop te maak.

Enkele weke later het ek ’n e-pos van LiG se redaksie ontvang. Hulle het my webblad gesien en wou hê ek moet weekliks vir hul aanlyn platform skryf.

Weekliks. Ek het gevoel hoe die angs in my opkruip. Want tot in daardie stadium het ek geskryf wanneer ek wou en waaroor ek wou. Ek het geen formele skryfervaring nie en geen idee gehad of ek die opdrag sou kon volhou nie.

Dae lank het ek daarmee geworstel. Al wat ek uiteindelik kon doen, was bid.

En terwyl ek gebid het, het ek iets agtergekom: Sedert ek Mosselbaai toe verhuis het, het ek die Here gevra om vir my geleenthede te gee om Hom beter te dien. Maar min van my eie planne het ooit gerealiseer. My man se werk én my eie is onvoorspelbaar, wat dit moeilik gemaak het om deel te wees van aktiwiteite wat aan vaste tye en plekke gebonde is.

Maar skryfwerk is anders, het ek besef. Ek kan vroegoggend skryf, en laatnag. Ek kan skryf wanneer die huis stil word. Eensklaps het ek besef dat die LiG-redaksie se versoek waarskynlik die geleentheid was waarna ek gesoek en waarvoor ek gebid het. Dat dit eintlik soos manna uit die hemel was wat in my skoot beland het. ’n Deur wat oopgegaan het waar ek nie eens ’n deur gesien het nie.

Toe bid ek só: “Here, as dit regtig is wat U van my vra, sal U my elke week iets moet gee om oor te skryf, want ek het geen idee hoe ek dit gaan regkry nie.” En vir die eerste keer het ek iets verstaan van hoe Moses moes gevoel het toe hy hakkelend voor die farao moes gaan staan. Onseker. Onbekwaam. Oorweldig.

Maar ek het ook begin verstaan dat wanneer die Here ’n mens roep, Hy jou toerus vir dit waarvoor Hy jou roep. Ek het besef dat ek niks het om te verloor nie. Die slegste ding wat kon gebeur as ek ja sê, was dat ek misluk en dan vriendelik gevra word om op te hou skryf. Maar as ek sou nee sê, sou ek altyd gewonder het wat sou gebeur as ek wel die kans aangegryp het.

Toe sê ek ja. Nie omdat ek geweet het dat ek dit kon doen nie, maar omdat ek geglo het dis wat die Here van my vra.

Wanneer ek terugkyk …

Dis nou ses jaar later, en ek skryf steeds. Daardie een ja het gelei tot geleenthede waarvan ek nooit kon droom nie. Ek het as spreker by vrouegeleenthede opgetree, en my rubrieke is oor Radio Tygerberg voorgelees. Ek het radiogesprekke gevoer.

En wanneer ek op alles terugkyk, besef ek dat gehoorsaamheid vele vrugte voortbring. Alles het begin by een geleentheid wat aangegryp is, by een keer wat ek geluister het na wat die Here van my vra. Een oop deur het die koers van my lewe verander op maniere wat ek nooit self sou kon beplan nie.

Ek dink dikwels aan hoe min ek kon sien daardie dag toe ek gevra is en uiteindelik ingestem het. Ek het nie geweet waarheen die pad my sou lei nie; ek het net geweet wat die volgende tree was. Dit was dalk een van die grootste lesse wat hierdie reis my geleer het: God wys ons nie altyd die hele pad nie; Hy vra dalk bloot dat ons die volgende tree sal gee.

En soms lyk daardie volgende tree belaglik klein. Vir my was dit net ’n webblad. ’n Onseker ja. ’n Paar stukkies skryfwerk.

Die skryfwerk wat ek gehoop het ander mammas sou bemoedig, het gou deel geword van my eie genesing. Elke keer wanneer ek oor geloof geskryf het, oor moederskap en oor swaarkry of hoop, was die Here besig om ook in my eie hart te werk. Want om oor dié dinge te skryf het my gehelp om stadiger te leef, om beter raak te sien en om nader aan Hom te beweeg.

Om te skryf het vir my geword soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak. Dit het my geleer om Hom raak te sien in die lewe se “gewone” oomblikke, in die dinge wat my kinders sê, in my gebede wat onverwags beantwoord word, en in lesse wat versteek lê in moeilike seisoene. My oë het oopgegaan vir die stories wat God elke dag om my skryf.

Ek het ook geleer om weerloser en eerliker te wees. Aanvanklik was ek bang dat mense sou dink ek is skynheilig. Ek is immers nie perfek nie en is steeds besig om te leer en te groei. En om soms dieselfde foute oor en oor te maak. Maar ek het ontdek dat ’n mens nie kan wag dat perfeksie by jou opdaag voordat jy jou beskikbaar stel vir God se werk nie. Want as ons wag totdat ons alles in en om ons uitgesorteer het, sal ons waarskynlik vir altyd wag.

Natuurlik is daar mense wat nie met alles saamstem wat ek skryf nie. Daar sal altyd kritiek wees. Maar ek het vrede gemaak met die feit dat ek nooit almal gelukkig sal hou nie.

Ek steur my ook nie juis aan goedkeuring, statistieke of kommentaar nie. Duisend mense wat van ’n rubriek hou, beteken minder as een mens wie se lewe werklik daardeur geraak word. Algoritmes vertel nie die hele storie nie.

Ses jaar gelede het ek gedink ek begin bloot ’n klein blog vir mammas. Vandag weet ek dit was die begin van ’n reis wat ek nooit self sou kon uitdink nie. Ek het geleer dat die Here soms dinge van ons vra wat vreemd op ons oor val of wat ons onverhoeds betrap. Dinge wat glad nie in ons eie plan vir ons lewe pas nie.

My raad aan ander is dat wanneer daardie sagte roepstem bly terugkeer, jy dit tog nie te vinnig moet stilmaak nie. Hou aan bid. Hou jou oë en jou hart oop. Jy weet nooit watter deur God besig is om oop te maak nie.

  • Simone Gauche is ’n mediese dokter van Mosselbaai wat die afgelope ses jaar ’n rubriek vir www.lig.co.za skryf.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►