Rowan en Tascha Engelbrecht het eers as volwassenes Jesus se liefde en genade ervaar. Rowan het destyds by hulle geslote geloofsgemeenskap vir hulp gaan aanklop nadat hy ’n dwelmverslawing ontwikkel het. Hy is egter verwerp, maar ’n tydperk in ’n Christelike rehabilitasiesentrum het uiteindelik sy lewe verander.
Rowan en Tasha is jonk getroud en het reeds drie seuntjies gehad toe Rowan iets begin doen het wat hy vandag steeds nie kan glo nie.
Hy vertel: “Ek was 29 jaar oud toe my lewe in ’n rigting beweeg het wat ek my nooit sou kon voorstel nie. Ek het jare lank daarna gesmag om gedoop te word, maar volgens die hooggeplaastes in die organisasie was ek nie goed genoeg nie. Elke keer se verwerping het my net nog verder afgebreek, en ek het depressief geword.
“Die doop was vir daardie mense baie belangrik. As jy nie gedoop is nie, was sekere voorregte in die organisasie jou nie beskore nie. Ek het ’n desperate behoefte aan aanvaarding en liefde gehad.”
Op ’n dag is Rowan aan dwelms bekendgestel. Wat aanvanklik vir hom soos ontsnapping gevoel het, het uiteindelik ’n tronk geword. Hy was ’n volle twee jaar lank in ’n verslawingstrik vasgevang.
LEES OOK DEEL 1: #1‘God gaan jou vernietig as jy ongehoorsaam is’ – Paartjie lig die sluier ná jare in ’n geslote geloofsgemeenskap
Hy vertel van sy gemoedstoestand in daardie tyd: “As God my dan nie liefgehad het nie, so het ek geredeneer, was niks die moeite werd nie. My dwelmgebruik het al hoe erger geword. Ek het mense seergemaak, ook my gesin. Mettertyd het ek hulle verloor.
“Ek was kwaad vir die wêreld. Én kwaad vir God, omdat ek gevoel het Hy het my verwerp.
“Maar onder al daardie woede was daar steeds die klein seuntjie wat net wou weet dat hy geliefd is. My pa se dood het steeds by my gespook. Hy het langs my in die bed gesterf. Terapie is in daardie tyd deur die organisasie afgekeur en selfs as demonies bestempel.”
Toe die situasie met die dwelms buite beheer was, was daar ook geen ondersteuning nie. Rowan was bloot “’n skande” vir die organisasie en vir sy familie.
‘Jou naam is verwyder’
“Op ’n dag het ek besef dat ek besig is om myself te vernietig. Dit was nie maklik om dit te erken nie. Tog was daar steeds die hoop dat iemand my sou bystaan. En uit pure desperaatheid het ek die geestelike leiers genader. Ek het gehoop dat hulle my nood sou begryp en saam met my sou bid.
“Ek was baie eerlik met hulle en het niks weggesteek nie. Ek het die begeerte uitgespreek dat hulle my weer na die regte pad toe sou bring. Tydens die bekentenis het ek baie kwesbaar gevoel, gevrees dat hulle my sou verwerp.”
Dit het toe so gebeur. Die leiers het verdoemend op Rowan se bekentenis gereageer. Hy moes hoor dat daar geen hulp vir hom sou wees nie. “God het jou nie meer lief nie,” het hulle aan hom gesê, “en jou naam is uit die ‘boek van die lewe’ verwyder.”
Daarop het hulle die vertrek verlaat en ’n gebroke mens agtergelaat. Rowan was daarvan oortuig dat God sy rug vir hom gedraai het. “Dit was asof alles wat ek oor myself gevoel het, bevestig is. Ek was ’n mislukking, nutteloos, beslis nie goed genoeg vir mense of vir God nie.
“My lewe was ’n gemors. Ek het my selfrespek verloor. Én my vrou en kinders.”
Redemption Hill Ministries
Op ’n dag het hy na die Bybel gegryp en impulsief in die Spreukeboek begin lees. En hy het ’n stem gehoor wat vir hom sê: “Your redemption is at Redemption.” Hy het nie geweet wat dit beteken nie.
“Ek het in daardie stadium in ’n gastehuis weggekruip. Ek het na my vrou toe gery en erken dat ek hulp nodig het. Dat ek myself nie kon red nie.
“Sy het my na ’n rehabilitasiesentrum geneem. Ek was verstom toe ek sien die oord se naam is Redemption Hill Ministries …
“Ek is daarvan oortuig dat die Here my reguit daarheen gelei het. Ek het ses maande daar deurgebring, en verskeie dinge het gebeur wat alles verander het.”
’n Ontmoeting met God
“Die rehabilitasie was op Christelike beginsels gegrond, maar alles wat daar verkondig is, was lynreg in stryd met die geloofsoortuigings waarmee ek grootgeword het. Ek het my daarteen verset. Wanneer daar dus Bybelstudie gedoen of gebid is, het ek geweier om deel te neem.
“Ek was so hardkoppig dat ek twee keer ontsnap het. Ná die tweede keer het ek oplaas besef dat ek nêrens meer het om heen te gaan nie.
“Uiteindelik het ek een aand met die Here begin praat. Nie met die soort godsdienstige woorde wat ek deur die jare aangeleer het nie, maar eerlik en uit my hart.”
Só het Rowan aan God erken dat hy reeds 30 jaar lank dinge op sy eie manier doen – en dat dit nie werk nie. Hy het God gevra of hy nie eerder sy lewe onder sý wil kon voortsit nie.
Vir die eerste keer was hy dus bereid om die God te leer ken wat hy nooit werklik geken het nie. En hy het uitgevind dit is nie die God vir wie hy sy lewe lank so bang was nie.
“Ek het Hom toe leer ken as die God wat my, in my gebrokenheid, onvoorwaardelik liefhet. Ek het ook ’n ontmoeting met die Heilige Gees gehad, en dit het my lewe verander. Ek het werklike genade leer ken, en besef dat Jesus vir die onvolmaaktes gekom het.
“Ek was omring deur ander gebrokenes, verslaafdes, en ek het Jesus se liefde vir hulle ook ervaar. Gaandeweg is die mure afgebreek wat ek al die jare om myself gebou het.
“God het ook ons gesin herenig nadat ons in ’n baie donker tyd uitmekaar is. Jesus het my opstandigheid genees en my ’n sagte omgee-hart gegee.”
Tascha se hartseer
Tascha vertel: “Ek het ’n ontmoeting met die Heilige Gees gehad terwyl Rowan in die rehabilitasiesentrum was. Aanvanklik wou ek niks weet van die godsdiens wat daar beoefen is nie. Ek het egter soveel liefde daar ervaar, en dit was vir my ’n ongekende belewenis.
“Intussen is ek deur die organisasie gedreig en ek het daaruit bedank.” Die verbreking van haar bande met die organisasie is amptelik aangekondig ten einde ander lede te waarsku om nie met haar kontak te hê nie.
“Ek het talle boodskappe van daardie mense ontvang. Hulle het my gegroet, kompleet asof ek gesterf het.”
Tascha vertel hoe graag sy die vreugde en vrede van haar nuutgevonde Christenskap met haar ma wou deel. Maar dié het al hoe verder van haar af wegbeweeg.
“Toe my ma later oorlede is, was dit vir my ’n tweede verlies. Ek het haar tog reeds verloor toe sy nog gelewe het. Twee weke ná haar dood het die Here vir my die titel van ’n boek* gegee wat ek moes skryf – ‘Losing my mom twice’.”
’n Nuwe begin
Tascha vertel dat sy en Rowan geen kontak met mense van hul vorige lewe het nie. Hulle bely dat dit steeds seer is, hoofsaaklik omdat dié mense hulle volledig verwerp het vanweë hul “nuwe” geloof.
“Maar ons sal nooit terugdraai nie. God het ons gered sodat ons die ware Christus kon leer ken. Hy is die enigste weg tot verlossing. Ons is steeds lief vir ons familie en ons bid elke dag vir dié wat ons agtergelaat het.”
Rowan vertel dat ’n Pretoriase hoërskool hom gevra het om met die leerders te kom praat oor hoe God hom verander het. Hy studeer tans om ’n pastoor te word.
“Ons lewe is nou heeltemal anders as hoe dit was. En ons neem geen besluite sonder God nie. Hy anker ons gesin en ons dankbaarheid ken geen perke nie. Jesus is die middelpunt van ons lewe, en ons droom is dat ander mense Hom in ons sal raaksien.”
* Tascha se boek kan bestel word by Tascha2@gmail.com.
*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.
























