Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Ook met ons Plan C is God by ons

Ons is ’n groepie vriende wat elke jaar die Meiringspoort-wedloop by De Rust aandurf. Dit het deur die jare ’n deel van ons kalender geword, en soos altyd was die opgewondenheid groot toe die betrokke naweek uiteindelik aanbreek.

Dié jaar was my seuntjie besonder nuuskierig. Voor die wedloop het ons die roete gery sodat hy kon sien waarlangs ons sou hardloop. Soos altyd was hy vol vrae: “Mamma, hoekom noem hulle dit die Meiringspoort-wedloop as dit in De Rust is?”

Ek vertel hom toe dat die roete gewoonlik deur die pragtige Meiringspoort kronkel en later by die kerksaal in De Rust eindig. Hy het ’n oomblik daaroor gedink, en toe gevra: “Maar hoekom hardloop julle dan nie weer deur die poort nie?”

Ek moes verduidelik dat die oorspronklike roete nie vanjaar gebruik kan word nie; die pad deur die poort is deur oorstromings beskadig en het plek-plek heeltemal verspoel. Die organiseerders moes noodgedwonge ’n alternatiewe roete vind. Maar toe slaan die natuur weer toe en die tweede roete het kort voor die wedloop ook onbegaanbaar geword.

LEES OOK SIMONE SE GETUIENIS: ‘Skryf is vir my soos om aan die soom van Jesus se kleed te raak’ – LiG-rubriekskrywer vertel hoe gehoorsaamheid haar lewe verander het

Wat ons dus uiteindelik gehardloop het, was eintlik Plan C. En ek was beïndruk met hoe glad die hele geleentheid verloop het, ten spyte van al die uitdagings. Daar was immers talle redes waarom die dag in ’n chaos kon ontaard, en waarom die wedloop selfs heeltemal afgestel kon word. Maar die organiseerders het telkens by die veranderende omstandighede aangepas.

Wat lees ons in die Bybel?

Dit het my laat dink aan die manier waarop baie gelowiges natuurrampe beskou. Ons lees in die Bybel hoe God die natuur gebruik om sy majesteit en almag te openbaar. Dink maar aan die groot vloed in Noag se tyd, aan die tien plae in Egipte, aan die droogte wat Elia voorspel het, aan die storm wat Jona se lewe so dramaties verander het.

Ook in Openbaring lees ons van ontsagwekkende natuurverskynsels waardeur gelowiges opgeroep word om hul oë opnuut op God te rig.

Dit beteken natuurlik nie dat elke storm, droogte of vloed ’n direkte boodskap van God af bring nie; ons kan nie elke natuurramp verklaar asof ons God se wil en bedoeling ken nie. Die Skrif herinner ons wel daaraan dat God groter is as die natuurkragte wat ons soms so beïndruk of bang maak.

Ons maak planne, en God regeer

Ons leef in ’n tyd van ongekende vooruitgang. Ons bou huise wat uiterste weerstoestande kan weerstaan, ons voorspel storms en vloede met toenemende akkuraatheid, ons verskuif water tydens droogtes, maak voorbrande om veldbrande te beperk en ontwerp al hoe beter stelsels om rampe te bestuur. Ons menslike vernuf is werklik indrukwekkend.

Ons maak staat op ons planne, strategieë en tegnologie. Ons vertrou op wat ons kan bereken, voorspel en bestuur. Ons hou daarvan om te weet wat volgende gaan gebeur. En dit is goed so. Ons behoort ons kennis en vermoëns verantwoordelik te gebruik. Maar dalk skuil daar ook ’n gevaar daarin. Want hoe groter ons vermoë word om probleme op te los, hoe makliker kan ons begin dink dat ons in beheer is.

Dit kos egter net een ramp om ons van al ons illusies en grootheidswaan te stroop: Daar kom ’n storm wat van die voorspelde koers afwyk; reën val waar dit nie veronderstel is om te val nie; ’n pad spoel weg. ’n Roete wat maande lank tot in die fynste besonderhede beplan is, moet binne enkele ure verander word.

Só word ons herinner aan ’n waarheid wat ons eintlik nog altyd geken het: Ons kan planne maak, maar ons beheer nie die wêreld waarin daardie planne moet realiseer nie.

Die ou profeet Jeremia skryf: “Ek weet, Here, dat die mens nie sy pad self kan bepaal nie; dit is nie ’n mens wat loop wat sy koers kan bepaal nie” (Jer 10:23).

Ja, ons maak planne, maar uiteindelik is dit God wat regeer. Ons werk hard, maar dit is God wat voorsien. Ons bereken die risiko’s, maar dit is God wat die wêreld in sy hande hou.

Wat ons Plan C in werklikheid is

Dit alles beteken nie dat ons moet ophou beplan nie. Terwyl ek op ’n suksesvolle Meiringspoort-wedloop kan terugkyk, kan ek nie anders as om dankbaar te wees nie. Ek weet hoeveel moeite, voorbereiding en aanpassings dit geverg het.

Miskien is dit die les wat die Meiringspoort-wedloop vanjaar vir my ingehou het: Daar is ’n verskil tussen om ’n plan te hê, en om te dink dat die plan in ons hande is.

Want, ja, ons lewe dikwels met ons eie Plan A. En wanneer dit nie uitwerk nie, beweeg ons aan na Plan B. Soms beland ons selfs by Plan C of D. Maar deur dit alles bly God dieselfde. Sy majesteit word nie bedreig deur verspoelde paaie, veranderde omstandighede of onverwagse uitdagings nie. Plan C is bloot die punt waar ons besef dat ons nooit die hele pad kon sien nie.

Ons dien ’n groot en almagtige God wat oor sy skepping heers. Al sien of verstaan ons nie altyd die groter prentjie nie, kan ons weet dat Hy in beheer is. Wanneer Plan A, B of selfs C en D misluk, is Hy by ons. Te midde van droogtes, vloede, storms en teleurstellings roep Hy ons om ons afhanklikheid van Hom te besef.

Ons kan maar weet dat wanneer ons beplan, aanpas en probeer om vorentoe te beweeg, ons op Hom mag vertrou. Hy wat die hele pad sien, stap elke tree saam met ons.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►