Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘As Jesus mý kon genees, kan Hy dit vir énigeen doen,’ sê tienerboekskrywer

Die afgelope twaalf jaar moes ek groei, ’n soort “grootwordproses” deurmaak.

Maar ek plaas “grootword” in aanhalingstekens. ’n Mens is in jou dertigs reeds volwasse, maar geestelik gesproke was ek eintlik nog baie onvolwasse. Ek was so kwaad vir die lewe, so ontevrede met myself, en dikwels sommer met almal om my.

En ná twee chic lit-boeke wat uit my pen verskyn het, kon ek eenvoudig nie weer iets skryf waarmee ek tevrede was nie.

LEES OOK: ‘Ek is verlam, maar dankbaar ek het nie breinskade nie’ – 29-jarige getuig van God se genade ná motorongeluk

Ek het my boeke Vat ’n gap en Mieke rock uit vanuit ’n plek vol pyn geskryf. Ja, ek is steeds baie trots op daardie boeke; hulle is net baie anders as dit waarmee ek nou besig is. Met die skryf van my jongste boek, Borrelgom (2024), was ek vol vrede.

Jana se geliefde kat Abby Grace du Plessis Müller. Foto verskaf

In die twaalf jaar sedert my chick lit-boeke verskyn het, het ek bly soek na die volgende uitdaging. Ek het gesmag na prestasies en in 2016 het ek ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns voltooi. Maar ek het, tevergeefs, my identiteit in my werk en verhoudings gesoek. Dit was uitmergelend en ek was later geestelik afgerem. Ek was ook depressief, want al het ek aardse prestasies behaal, was ek steeds ontevrede.

Ek het leeg gevoel, ongeag hoe vol my kamermuur gehang het met geraamde graadsertifikate. Dit was asof iets “af” was …

In 2017 het ek die stad vir die platteland verruil, min wetende dat God toe (wel, eintlik reeds sedert my geboorte) die legkaartstukke vir my lewe in hul regte plek begin pak het.

Ek het my man op ’n plaas naby Wellington ontmoet. Hy was toe ’n sekuriteitsbeampte met graad 10 agter sy naam, en ek het ’n rits grade en twee boeke agter myne gehad – en ’n massiewe chip op my skouer. Maar God het my mooi netjies van my troontjie kom afstamp,  en dis ook hier waar ek my met Bea, die hoofkarakter in Borrelgom, kan vereenselwig.

Dis nie maklik as jy van jou troontjie afgestamp word nie; dis hard en pynlik. Maar dis so nodig …

Jesus het ’n baie intense pad met my begin stap: Hy het my eers sagkens “afgebreek” sodat Hy my kon opbou tot die mens wat ek eintlik bedoel is om te wees. Ek is met van die ergste dinge uit my verlede gekonfronteer, en ek moes dit leer hanteer – my onvermoë om te vergewe, my selfverwyt, skaamte, trots, en selfmoordgedagtes.

Dis alles dinge wat ek “die duiwel se speelgoed” noem. Ek het nie eens besef hoe die duiwel my misbruik het nie. Maar Jesus het mooi met my gewerk en my stukkie vir stukkie gewys wie Hy is, en daardeur het Hy my geleer wie ék eintlik kan wees.

Eers nadat ek al hierdie dinge aan God oorgegee het, kon ek weer ’n boek skryf. Dit is asof Jesus my, op die beste manier moontlik, gevange gehou het sodat ek eers aan my binnekamer moes werk voordat Borrelgom vrygestel is.

“Ek het my man Jurie op ’n plaas naby Wellington ontmoet. Hy was toe ’n sekuriteitsbeampte met graad 10 agter sy naam, en ek het ’n rits grade en twee boeke agter myne gehad – en ’n massiewe chip op my skouer. Maar God het my mooi netjies van my troontjie kom afstamp,” vertel Jana. Foto verskaf

Die mooi van dit alles is dat Borrelgom ’n moderne, lekkerlees-tienerboek is met egte karakters en egte emosies. Dis nie vol clichés oor Jesus of allerlei “kerkpraatjies” nie. Dit was vir my baie belangrik om die werking van die Heilige Gees op ’n manier oor te dra wat eg en opreg is en wat tieners nie sal afskrik nie.

Dis ongelukkig so dat wanneer God en Jesus ter sprake kom, sommige tieners (én grootmense) sommer “afskakel” – en dit is die laaste ding wat ek wil hê.

Want as Jesus dié sielsongelukkige vroumens, die mens wat ek eers was, kon verander in die gesonder weergawe wat ek vandag is, kan Hy dit vir enigeen doen. Ons moet net bereid wees om ons hele hart – vol stekels, wonde en ander liederlike dinge – in sy hande te laat. By Hom lê die vryheid en die deurbraak.

Vandag woeker my man met sy eie tuinmaakonderneming, en ek is elke dag oneindig dankbaar dat ek hom ontmoet het. Al my lelike dorings moes gesnoei word sodat ek my wortels in God se waarheid kon anker. En sodat ek as ’n beter mens aan die ander kant kon uitkom.

  • Jana du Plessis Müller is ’n vryskut-kopieskrywer, joernalis en digitale bemarker. Sy beskik oor ’n meestersgraad in Kreatiewe Skryfkuns. Haar twee chick lit-boeke Vat ’n gap en Mieke rock uit (albei Tafelberg Uitgewers) het haar liefde vir boeke skryf bevestig. Sy woon tans op Riebeek-Wes saam met haar geliefde man en hul geliefde kat Abby Grace du Plessis Müller. Daar is ook die onlangse toevoeging tot hul gesin: Max Aaron du Plessis Müller (jip, nog ’n kat).
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF