Op 15 September 2023 het my lewe soos handomkeer verander. Ek was op pad om vir die naweek by my ouers op Frankfort in die Oos-Vrystaat te gaan kuier. Ongeveer 30 km voor my bestemming het ek beheer oor die motor verloor, dis dwarsdeur ’n grensdraad en het gerol.
Ek het reeds op die ongelukstoneel besef wat gebeur het. Nadat ek my bewussyn herwin het, was my eerste woorde: “Dankie, Liewe Jesus! Ek lewe. Beskerm my, asseblief.”
’n Plaaswerker het op die ongelukstoneel afgekom en my gevra of ek oraait is. “Ja, ek is,” het ek geantwoord. Hy het langs die pad gaan staan en probeer hulp kry by een van die aankomende voertuie. En ek het besef ek kan nie my bene voel of beweeg nie.
LEES OOK: ‘God alleen bring berusting en vrede,’ sê vrou ná albei haar dogters sterf
Twee mans het gestop en my ouers gebel, asook die polisie en ’n ambulans. Die noodhelpers het gesukkel om my uit die wrak te kry, want dié het op sy sykant gelê en ek het op die een of ander manier op die agterste sitplek beland. Ek was wel behoorlik vasgegord, maar die slag was so groot dat my sitplek losgebreek het.
Ek was baie siek
Te midde van al die pogings om my uit die wrak te bevry het my bloeddruk skerp gedaal. Die ambulanspersoneel moes my eers stabiliseer voordat hulle met my kon ry.
Die naaste hospitaal aan die ongelukstoneel is Mediclinic Hoogland in Bethlehem. Ek is dadelik vir ’n MRI- en ’n CT-skandering gestuur om te bepaal hoe ernstig my beserings is. Daar was ’n groot sny in my kopvel en die hospitaalpersoneel moes van my hare afskeer om te kon steke insit. Die skanderings het gewys dat my een sleutelbeen, drie rugwerwels en ’n klompie ribbes gebreek is. Daar was ook ’n spinale koord-besering.
Daarop is ek na die Mediclinic in Bloemfontein oorgeplaas. Dit was my werkplek as kliniese tegnoloog, waar ek pasiënte met akute en chroniese nierversaking help behandel het.
Ek het begin om baie swaar asem te haal. Dit was die gevolg van die gebreekte ribbes, asook vog op my longe. Ek moes noodgedwonge geïntubeer word. Ek was baie siek.
Ek kan nie veel van daardie tyd onthou nie aangesien ek onder swaar verdowing was. Ek onthou wel hoe ek gedroom het, en hoe ek nie tussen daardie drome en die werklikheid kon onderskei nie. Ek het ook agtergekom dat ’n mens inderdaad kan hoor wat om jou aangaan wanneer jy in ’n koma is.
In die Here se hande
Op 6 Oktober, vroeg daardie oggend, is my ouers wakker gebel met die nuus dat ek onophoudelik begin bloei het by die buis wat in my tragea geplaas is. Die hospitaal se noodvoorraad bloed was later uitgeput en daar moes bloed van ’n ander hospitaal laat kom word. My lewe het aan ’n draadjie gehang. Die dokters het vir my ouers gesê daar is ’n kans dat ek breinskade opgedoen het vanweë die erge bloeding en die gevolglike besonder lae bloeddruk. In daardie stadium, so het ek later verneem, het talle mense vir my gebid.
Op 23 Oktober het ek my bewussyn herwin en besef wat om my aangaan. My arms en hande was besonder swak. Ek het gevrees dat ek nie weer sal kan skryf of skilder nie.
Ná 53 dae in die noodeenheid is ek na ’n rehabilitasiesentrum oorgeplaas. Ek het geglo dat ek daar gehelp sou word om weer te kon loop. Ek het aan daardie hoop vasgehou. Maar ná etlike ondersoeke en toetse het die dokters bevestig dat ek nie weer sal kan loop nie. Hulle het wel gesê dat dit nie heeltemal buite die kwessie is nie. Die een dokter het gesê dat niks vir God onmoontlik is nie. “Dit is in die Here se hande,” was sy woorde.
Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees
Ná tien weke se rehabilitasie, en presies vier maande ná die ongeluk, kon ek huis toe gaan. Ek woon nou by my ma-hulle op Frankfort.
Ek moes intussen ’n klompie besluite neem, onder meer: Gaan ek bly sit en myself jammer kry, of gaan ek aanhou om elke dag my beste te doen?
Die prysgee van my onafhanklikheid was vir my die ergste. Maar ’n mens leer om met ’n nuwe ingesteldheid te leef, een wat ek só verwoord: “Daar is altyd iets om voor dankbaar te wees.”
Voor die ongeluk was ek baie lief vir skilder, om dinge te maak, om kreatief te wees. Ek het nou weer begin om te skets en te verf. Mense vra illustrasies by my aan – van hul troeteldiere tot hul gesin.
Ek is so dankbaar dat ek nie breinskade opgedoen het nie. Dat ek steeds kan dink, dat ek my hande en my arms kan gebruik. Ek is dankbaar dat ek kan hoor en sien.
Ek wil getuig dat die Here se genade my dra. Buitestanders sê dikwels hulle weet nie hoe ek so positief kan bly nie, en dat ek ’n inspirasie is. Dit mag so wees, maar dis nie deur my toedoen nie.
Ek beleef ook minder goeie dae, soos enige ander mens. Ek het geleer dis nie hoe jy val nie, maar hoe jy opstaan – of, in my geval, hoe jy orent kom.
Die Here se genade is groot.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.