Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Een suster se drieling-vreugde; die ander se groot verlies: ‘Ons wil die stilte oor infertiliteit verbreek’

Die afgelope jaar was bittersoet vir twee susters wat altyd gedink het hulle gaan saam swanger word en kinders kry.

Merwede van Tonder (37) en Merelda Verster (31) het wel ná meer as ses moeilike infertiliteit-jare byna gelyktydig swanger geword. Albei met meerlinge.

Maar slegs Merwede het die voorreg gehad om haar en haar man Simon se drieling dogtertjies – Amiah, Madené en Zelke – saam huis toe te neem.

Merelda en haar man Johandré se vierling, twee dogtertjies en twee seuntjies, is op slegs 22 weke gebore. Binne die eerste 24 uur is Zian, Hanke en Luka oorlede.

Miné, die Versters se eersgeborene en “vegtertjie”, het vier dae later gesterf. “Ons het die voorreg gehad om haar vir vier volle daggies te ken, met haar te praat, vir haar te sing en oor haar te bid,” vertel Merelda. “Maar nou is al vier ons kleintjies in Jesus se arms in die hemel.”

Al die emosies

Ons gesprek vind plaas net ’n paar dae nadat Merelda haar sus Merwede se sewe maande oue drieling vir die eerste keer ontmoet het. Merelda en haar man is reeds die afgelope sewe jaar onderwysers in Bahrein in die Midde-Ooste.

Dis duidelik dat dié besoek in Brackenfell, Kaapstad, uiters spesiaal vir albei susters is. Merelda is baie handig met die drie dogtertjies en help haar sus om die babas, elk getooi met ’n vrolike kopband, te versorg. Sy plak ook gereeld ’n soentjie op een van die babawange. Merelda sê: “Ek is glad nie jaloers nie; ek voel eerder asof ek hulle nou kan bederf en my liefde vir my kinders na hulle kan verplaas.”

Merwede vertel van haar emosies: “Ek het soms skuldig gevoel, want ek was só hartseer oor my sussie se verlies dat ek gevoel het ek is nie gelukkig genoeg oor m‎y eie babas nie.

“Dis ook baie moeilik vir ons ma, want sy beleef natuurlik teenstrydige emosies.”

‘Ons wil die stilte verbreek’

Iets waaroor die susters dit roerend eens is, is dat hulle die stilte oor infertiliteit wil verbreek. Volgens Merwede en Merelda het hulle eers agtergekom hoeveel paartjies hiermee sukkel toe hulle self dié pad begin stap het.

Merelda Verster en haar man Johandré saam met Merwede en Simon se drielingdogters. Foto verskaf

Nog iets wat hulle opgeval het, was dat mense skaam voel oor infertiliteit. Merwede vertel: “Ek het al soveel gesprekke met vroue gehad wat presies dieselfde emosies as ons deurgemaak het – die moedeloosheid, hartseer, die uitwerking op jou huwelik, jou verhouding met ander vroue wat reeds kinders het, ensovoorts. Ek weet die Here het ons hierdie paadjie laat stap om ons getuienis met ander paartjies te deel wat dieselfde deurmaak. Dit kan ’n baie eensame reis wees en bloot om te weet jy is nie alleen nie, help al klaar baie.”

Merelda reken dat hul getuienis ander mense sal bemoedig. “Ons hoop en glo dat ons storie ander mense hoop sal gee, en dat hulle die lig in donker tye sal kan raaksien. Ons sien God se hand op soveel ander plekke in ons lewe, in klein en groot gebeure.”

Teleurstelling op teleurstelling

“Ek is Merwede wat nie kan swanger raak nie.”

Dié sin het jare lank haar identiteit omvat, vertel dié programkoördineerder by die Universiteit Stellenbosch se Sakeskool.

Merwede en Simon van Tonder. Foto verskaf

Merwede moes in daardie ses en ’n half jaar hoor sy het polisistiese ovariale sindroom (PSOS); dat haar een eierstok in haar derms verdraai is; dat sy boonop endometriose het. Ná vier onsuksesvolle inseminasies het Merwede erge depressie gekry en moes sy agt maande lank terapie ondergaan. Daarna het sy en haar man besluit om eers halt te roep wat die infertiliteitbehandeling betref.

Op haar beurt is Merelda in 2016 ook met PSOS gediagnoseer en die talle hormoonbehandelings  wat sy ondergaan het, was onsuksesvol. In Junie 2020, ná nog ’n reeks behandelings, het Merelda wel vir die eerste keer swanger geraak, maar toe ’n miskraam gehad.

Vir Merwede en Merelda was dié jare ’n emosionele wipplankryery.

Merwede vertel: “Vir my was die grootste uitdaging om aan hoop vas te klou. Soveel kere het ek boodskappe van die Here ontvang, en dan was ek so seker dat ek hiérdie maand gaan swanger wees. As jy met infertiliteit saamleef, glo en wens en hoop jy elke liewe maand jy gaan swanger wees. En as jy maand na maand teleurgestel word en jou hart is in stukke, is dit moeilik om te bly glo. Almal om jou word swanger, en jy verstaan nie hoekom dit nie jý kan wees nie. Dis dan so ’n natuurlike ding …”

Merelda sê dit was altyd haar en haar man se droom om ’n groot gesin te hê. “Ons is onderwysers en besonder lief vir kinders. Nooit sou ons kon dink dat ons járe se seer en hartseer sou moes deurmaak om ’n gesin te kon hê nie.

“Al die verskillende pille en inspuitings gaan met verskillende newe-effekte gepaard, en dit is op sigself sleg. Boonop wou niks werk nie. Maande lank het ons alles net so gelos en dit aan die Here oorgegee. Ons het Hom vertrou dat dit natuurlik sou gebeur. Maar ons is herhaaldelik teleurgestel.

“Elke maand is ons daaraan herinner dat ons weer onsuksesvol was, maar dan kry jy weer ’n woord van die Here of ’n Bybelversie. Of vriende en familie kom bid vir jou, praat jou moed in. En dan probeer ons maar weer …”

Nie slegs een hartkloppie nie

Merwede en haar man het besef die volgende stap is in vitro-bevrugting, maar hul finansies sou dit nie toelaat nie. Nadat hulle gehoor het dat hulle heelwat goedkoper by Tygerberg-hospitaal geholpe kon raak, was hulle báie bly.

Maar daar was ’n jaar lange waglys …

Sy vertel: “Toe die tyd uiteindelik aanbreek om vir die behandeling aan te meld, iewers in Mei 2021, was ons rustig. Die dag toe my eiertjies uitgehaal moes word, was daar ’n vrou langs my wat pas ’n miskraam gehad het. Sy was vol bloed.

“Ek was bitter gespanne. Maar toe, uit die bloute, kom sit daar ’n man langs ons en begin om oor die Here te praat. Hy het gesê die Here is saam met ons en dat dié reis goed sal afloop. Dadelik het daar vrede oor ons gespoel.

“Twee dae voordat ek ’n swangerskaptoets kon doen, het ek die oggend drieuur wakkergeskrik van ’n baie harde klapgeluid. Ek sit regop in my bed en die Here sê vir my, kristalhelder: “Die deur is nou toe.”

“Net toe begin my baarmoeder soos vuur brand en ek het geweet ek is swanger. Ná die eerste skandering het die dokter gesê dis ’n tweeling.

“Twee weke later sien ons: Hier lê baba nommer drie by die ander twee! Ek het net uit my maag begin lag.”

‘Ons hou vas aan God en sy plan vir ons lewe’

In Mei 2021 het Merelda vir inseminasie by ’n fertiliteitskliniek aangemeld. Hoewel sy baie siek was en erge pyn verduur het as gevolg van hiperstimulasie – daar moes meer as tien eiers gereed gekry word vir bevrugting – ontvang sy en haar man uiteindelik die goeie nuus: Hulle is swanger met ’n tweeling. Sowat twee weke later vind hulle egter uit daar klop vier harte.

Merelda onthou: “Die dokter het ons dadelik aanbeveel om ‘fetal reduction’ te laat doen, maar vir ons beteken dit aborsie. Ons kon eenvoudig nie besluit om twee van die hartkloppies te laat stop nie, en ons het teen die aanbeveling besluit. Ons was van mening dat as iets met die hartjies gebeur waarop ons nie gereken het nie, dit binne God se wil sal wees. Ons het alles aan Hom oorgegee.”

Merelda vertel hoe bitter siek sy tydens haar swangerskap was, maar ook hoe  sy die Here elke dag vir die vier lyfies geprys het.

Dis nou sowat sewe maande sedert Merelda en haar man hul babas verloor het. Sy dra steeds swaar aan die seer, en sy sukkel soms met depressie. Maar, sê sy, sy is dankbaar vir hul ondersteuningsnetwerk. “Ons het soveel ondersteuning van ons vriende en familie ontvang; sonder hulle sou ons dit definitief nie kon maak nie. Ons het dadelik op berading besluit omdat sulke trauma ’n huwelik kan verwoes.

“Dis nog elke dag ’n stryd, maar dit word beter. Sommige dae dra meer hoop as ander, maar ons hou vas aan God en sy plan vir ons lewe.

“As ’n mens net so ’n bietjie verder kyk as jou seer, sal jy sien dat God nog altyd daar is. Dat Hy luister. Dat Hy omgee en dat Hy ons liefhet.”

  • Merelda en haar man Johandré het ná aanmoediging van Merwede ’n Go Get Funding-profiel geskep om geld in te samel vir in vitro-behandeling in die nabye toekoms. Klik hier vir meer inligting.
  • Volg Merwede se Instagram-rekening vir inspirasie vir ouers met meerlinge.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.