“Dis die einde van my pad. As ek vandag ’n geweer in die hande kry, sal ek ’n einde aan my lewe maak.”
Dit is wat deur die 24-jarige Frikkie Hefer se gedagtes gegaan het toe hy in 2004 op ’n sypaadjie in Colesberg in die Karoo gesit het. Hy was sonder heenkome, sonder hoop.
Verslawing het sy kloue in Frikkie geslaan en sy familie en vriende het hom verwerp. Die samelewing het Frikkie Hefer as ’n hopelose “niemand” weggegooi.
Terwyl Frikkie so moedeloos op daardie sypaadjie gesit het, het hy God se stem gehoor. Duidelik: “Ek sal jou iemand in die sakewêreld maak sodat jy ’n instrument word wat ander mense soos jy kan help.”
Frikkie vertel vandag dat hy nog nooit weer daardie stem gehoor het nie, maar vandag weet hy: “Dit was God, dit was Hoop.”
Van daardie dag af het Frikkie besluit hy gaan hard werk. Hy het bly glo aan God se belofte. Hy het van die sypaadjie af opgestaan en begin ryloop – Bloemfontein toe, na ’n vrou wat hy geken het. Daar aangekom, het sy hom gehelp om die volgende ses maande in ’n rehabilitasiesentrum deur te bring.
Frikkie vertel: “Toe ek ná die ses maande daar uitkom, het ek in die stoorkamer van ’n landbou-onderneming begin werk. Ek het na die voorraad omgesien. Bokse gepak, pakkies ontvang. Later is ek tot verkoopsman bevorder. Deur God se genade kon ek toe elke maand goeie geld verdien, en só kon ek talle mense se rehabilitasie borg.
“Later is ek genader om ’n sakeonderneming vir iemand te begin. Daarna het ek my eie ondernemings op die been gebring.”
In Januarie 2018 het Frikkie sy eerste rehabilitasiesentrum op ’n klein erf in Potchefstroom opgerig. Hy het dit Hope Again genoem. ’n Jaar later het hy die sentrum na ’n groter erf in Muiskraal, Potchefstroom, verskuif.
Vandag beskik Hope Again Wellness oor drie sentrums: een elk in Potchefstroom, Bloemfontein en Fouriesburg. Hierdie sentrums kan tot 150 mense op ’n slag op ’n reis na genesing begelei.
Die Hope Again Wellness-sentrums bied die antwoord op alle verslawing: Jesus Christus. Baie van die verslaafdes word deur Frikkie self geborg.
Maar dié hoop-verhaal eindig nie daar nie. Frikkie wou graag die mense wat die program suksesvol voltooi op ’n manier toerus. Daarom het hy ’n onderneming genaamd Rubber Roofs, wat daarin spesialiseer om dakke waterdig te maak, van stapel gestuur. Dit is gou landwyd uitgebrei. Die meeste personeellede wat hier vir Frikkie werk, kom uit die Hope Again-program.
In Christus word niemand … iemand
Net soos Frikkie Hefer is diegene wat eintlik “niemand” in hierdie wêreld is nie, in Christus “iemand”. Hulle word met hul gesin herenig, hulle kry hul kinders terug. Maar die belangrikste is dat hulle dié hoop-boodskap in hul elkedagse lewe saam met hulle dra: Jesus maak vry. Dié is ’n verhaal van een man se visie. En van sy gehoorsaamheid aan Christus. Hiermee het hy duisende se lewe positief beïnvloed, wat hopelik ook in die toekomstige geslagte gesien sal word.
- Daniela Beukman was ook ’n verslaafde, en het die Hope Again-program voltooi. Sy werk nou as operasionele bestuurder vir Rubber Roofs KwaZulu-Natal.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.