’n Egskeiding, en om ’n enkelma van drie kinders te wees, was nooit deel van Natasha Joubert se planne nie.
Natasha was 21 jaar oud toe sy met die bekende gospelsanger Willie Joubert getroud is. Willie het twee kinders uit ’n vorige huwelik wat gereeld by hulle kom kuier het.
“Die egskeiding was verreweg die moeilikste besluit én slegste ondervinding in my hele lewe. Omdat ek ’n belofte voor God gemaak het, het ek ontsettend hiermee geworstel,” vertel dié sangeres, ’n toegewyde Christen.
“Maar soms werk die lewe anders uit as wat jy gehoop het dit sou. Dan moet jy situasies hanteer waaroor jy nie beheer het nie. Jy het eenvoudig geen ander keuse nie.
“Vir my, ’n gelowige, was dit verskriklik moeilik. Maar ek het regtig ’n pad met die Here gestap. En ek het nou vrede in my hart; ek weet die Here ken my binneste.”
LEES OOK: Lindie Strydom: ‘Swaarkry leer ons baie oor God se nabyheid’
‘Dit kon net die Here wees’
Daardie hartseertyd was ook ’n tyd van wonderwerke, vertel Natasha.
“Ek kan ’n boek skryf oor al die wonderwerke wat ek in dié tyd beleef het. Dit het my hoop gegee om te weet dat die Here jou as enkelma, met al sulke uitdagings, nooit alleen laat nie. Hy het ’n spesiale plek vir ’n ma en haar trane.”
Op ’n dag het sy, byvoorbeeld, ’n koevert met R1 000 daarin ontvang. Daar is ’n voertuig aan haar en die kinders geskenk.
“Dit kon net die Here wees,” sê sy.
‘Dit het my oë oopgemaak’
Op 28, en nog voor sy haar eie kinders gehad het, is Natasha as Mev United Nations SA gekroon, en toe ook Mev United Nations Internasionaal.
“Om hierdie kroon te kon dra was ’n groot voorreg. Die Here het dit vooraf drie keer aan my bevestig dat ek gekroon sou word.
“Dit waarvoor die kompetisie gestaan het, het my geïnspireer. Die deelnemers het besonderse liefdadigheidswerk gedoen, en dit was wonderlik om daardie platform te kon hê.
“Dié besonderse tyd het my oë oopgemaak, want jy weet nie altyd van die nood om jou nie. Jy kyk dikwels net in jou eie omstandighede vas. En jy dink jou lewe is moeilik – totdat jy ’n entjie af in die straat gaan kuier by iemand wat nie brood het om te eet nie.
“Ek is genooi om by verskillende geleenthede en uiteenlopende plekke as spreker op te tree, en dit het my uit my gemaksone geruk. Skole, gevangenisse, kinderhuise, ouetehuise, damesoggende …
“Hiervoor moes ek ’n besonderse geestelike pad stap. Die verhaal van die Bybelse Ester het soos ’n goue draad deur my kroningstydperk geloop.”
“Ek dank die Here vir engele’
“Ek en Willie was 21 jaar lank getroud. Ons was twee jaar lank uitmekaar voordat ons egskeiding ’n jaar gelede gefinaliseer is. Dit was ’n groot uitdaging …
“My oudste, Lizé, is 13 en my tweeling, Chloe en Luan, is 10 jaar oud.
“Die Here was getrou, want dit het vir my gevoel asof ek en die kinders deur dit alles heen stabiel gebly het, en voorbereid was. Ons woon reeds vier jaar lank op Hartenbos. Ek het moeite gedoen om die omstandighede so min moontlik te verander sodat hulle in dieselfde skool kon bly.”
Haar pa en stiefma woon ook in dié omgewing en hulle is deel van haar ondersteuningstelsel.
Natasha is diep dankbaar vir wonderlike vriende, onderwysers en ander mense wat na hulle uitgereik het en ’n verskil in hul lewe gemaak het. “Ek dank die Here vir sulke engele wat hy oor my pad gestuur het.”
‘Natuurlik wil jy in jou kussing skreeu’
Kinders in ’n enkelouergesin is baie taaier as wat ’n mens besef, sê Natasha. “Ons praat oor alles, en ons werk daardeur. Ons bid daaroor as ons nie raad weet nie. Ek dink ook daar is verligting by die kinders as daar vrede in die huis kom nadat hul ouers ’n spanningsvolle tyd beleef het.
“Ons leuse is dat jy nie altyd die slegte uit die lewe kan verwyder nie, maar jy kan wel die goeie daar insit.”
Natasha sê ’n mens moet daarteen waak om te vinnig aan te beweeg met ’n nuwe liefde of huweliksmaat. Dit kan vir die kinders voel asof hulle albei ouers in die proses verloor het.
Wat hou haar staande, benewens haar geloof?
“My kinders se laggies, hul stemme, hul lewenslus.
“Baie dae gaan sit ek ook net langs die see. Ek asem die seelug in en maak my bekertjie weer vol.”
Sy het nie juis negatiewe kommentaar op die egskeiding beleef nie. “Die mense was wel geskok as ek tydens my optredes vertel dat ek en Willie se paaie geskei het. Ek dink sommige was teleurgesteld. Dit het my hart gebreek om te dink dat ons storie ’n ontnugtering vir hulle was.
“Jy is veronderstel om ’n voorbeeld te wees as jy op die verhoog en in die bediening is. Mense sien op na jou.
“Natuurlik wil jy soms nét huil, of in jou kussing skreeu. Maar die Here is getrou, Hy help jou opstaan en Hy gee jou telkens weer krag. Nie altyd oplossings nie, maar krag.”
Ondanks alles …
Natasha probeer haar optredes só beplan dat sy slegs elke drie maande ver moet reis. “Omdat ek ’n ma is, werk ek hoofsaaklik in my omgewing.
“Ek lewer gewoonlik ’n boodskap oor die lesse wat ek geleer het, en waar die Here my gehelp het.”
Sy moedig vroue aan om deernis met hulleself te hê wanneer hulle moeilike tye deurmaak. “Ek sê vir hulle: ‘Staan op, word gesond, en skyn.’”
Ondanks alles glo sy steeds aan die liefde. “Ek dink nie ’n mens is noodwendig gemaak om alleen te wees nie. Ek voel ek het baie om te bied. En ek dink daar is niks beter as om lief te hê en om ware liefde te ervaar nie.”
- Natasha Joubert se jongste liedjie, Sonneblomvrou, handel juis oor opstaan. ’n Sonneblom lig altyd sy kop na die son en na ander.
- Natasha bedryf ook Bloom, ’n onderneming wat geskenk-artikels verkoop.
- Stuur ’n e-pos na optredes@natasha.co.za, of skakel 082 533 7957 as jy ’n optrede wil reël.