“Ek het Christiaan gaan wakker maak en gesê hy moet asseblief met die werkers gaan praat. Hy bel toe die indoena en sê: ‘Ek wil net gou stort, dan gaan ek dorp toe vir die geld.’”
Daar was geen geld nie.
Sanél Allerston van Komatipoort se aangrypende #liggetuienis van dié oggend wat alles net te veel vir haar man Christiaan geword het, het duisende LiG-lesers aangegryp.
Die aanbreek van die Covid-19-pandemie het reeds vir twee swak oesjare vir die Allerstons gesorg. Sanél kon gesien het haar man trek swaar. Die laaste keer wat sy Christiaan lewend gesien het was op 17 April 2020 met ’n handdoek om sy skouers op pad na die badkamer om te stort. Toe Sanél later gaan kyk waar hy is het sy die skok van haar lewe gekry. Sy het haar man teen die badkamermuur sien sit met die pistool langs hom …
Hierna het ’n ongelooflike moeilike pad vir Sanél en haar twee kinders gewag. Die moeilikste, vertel sy, was om die slegte nuus aan haar toe laerskoolkinders Jano en Tiane oor te dra.
LEES OOK: ‘Genade en nog genade ná my ma se selfdood’
Dis vandag vier jaar later. Volgens Sanél is dit steeds moeilik. “Die toekoms is steeds onseker; daar is nie ’n aardse pappa wat ons kan beskerm, help of raad gee nie. Maar ons het ’n hemelse Pappa wat altyd by ons is,” vertel sy.
Tot dusver het meer as 87 000 mense reeds Sanél se verhaal gelees. Nadat dié getuienis vroeër vanjaar op LiG se Facebookblad gedeel is, was daar oorweldigende kommentaar vanaf LiG-lesers. Daar was woorde van bemoeding, lesers wat hoop en inspirasie uit Sanél se dapper stryd geput het tot ander aangrypende soortgelyke verhale.
Evelyn Fredericks van die Paarl sê: “God is goed ten alle tye. Ek is ook ’n enkelmamma van drie, maar ek kan trots getuig dat ek God se hand oor my lewe sien. Alle eer aan Hom in die hoogste hemel!”
“My man het 23 jaar gelede selfmoord gepleeg nadat hy deur drie satansmense verkrag is. Glo my, jy het nie ‘’n keuse nie jy móét elke dag aangaan. Jy leer om saam met dit te leef en jy swem of sink. Ek het wonderlike volwasse kinders wat my bystaan met alles danksy my God en my geloof in Hom,” het Lynn Jacobz vertel.
Marlene Fick het geskryf: Ons boer ook. Ek verstaan presies waardeur julle moes gaan. My hart breek vir jou. Maar ek weet ook dat God sal sorg. Dat Hy nie planne hoef te maak nie, maar reeds planne het. Mag jy en jou kindertjies elke minuut van elke dag sy nabyheid en liefde beleef.
Judy Horn het laat weet Sanél het haar “as ’n ouer mens soveel moed gegee vir die pad vorentoe. Mag jy en jou kinders en ouers ’n pragtige jaar vorentoe beleef en met hope geluk oorlaai word. Jy is werklik ’n kind van Jesus en ’n voorbeeld vir so baie van ons. Ek glo – nee ek weet – die Here gaan weer geluk op jou pad bring.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.