Om met ’n boer getroud te wees is nie maklik nie. Daar is baie goeie tye, maar ook maande en jare waarin dit broekskeur gaan. Jy het nie beheer oor die weer nie, en ook nie oor peste en plae nie. Jy weet nie vooraf hoe die markpryse gaan lyk nie. Boerdery is ’n saak van geloof en vertroue.
Met die aanbreek van die Covid-19-pandemie het ons reeds twee swak oesjare agter die rug gehad. Ek kon sien my man trek swaar. Hy, altyd die sterk een, die spreekwoordelike man met ’n plan.
Baie aande het ons, ek en Christiaan (37), om die kombuistafel of op die stoepie langs die braaivleisvuur gesit en gesels. Ure lank.
LEES OOK SANÉL SE ANDER GETUIENIS: Dapper vrou se stryd: ‘Hoe kón dit met my vierjarige gebeur?’
Ek het geweet daar is nie geld nie
Op Vrydagoggend, 17 April 2020, het ek tuis gewerk terwyl die kinders in die huis gespeel het. Daardie oggend het my man nie opgestaan nie. Die arbeiders was by die skuur omdat hulle hul lone, wat toe reeds twee maande agterstallig was, wou hê.
Ek het Christiaan gaan wakker maak en gesê hy moet asseblief met die werkers gaan praat. Hy bel toe die indoena en sê: “Ek wil net gou stort, dan gaan ek dorp toe vir die geld.”
Ek het geweet daar is nie geld nie.
Ek onthou ek het my man na die ander badkamer sien stap. Hy het weer uitgekom, die handdoek om sy skouers, en hy het gesê: “Ai, weet jy …”
Dit was die laaste keer wat ek ooit sy stem sou hoor.
My pa sou die kinders om 12:00 kom oplaai sodat hulle die naweek by my ouers kon kuier.
Toe hoor ek die slag, en die kinders wat benoud vra: “Mamma, wat was dit?” Ons het gereken dis die arbeiders wat so lawaai. My pa het opgedaag en Jano (nou 14) is na ons slaapkamer toe om sy pa te groet. Die badkamerdeur was toe en hy het geklop en geroep: “Pappa?”
Daar was geen reaksie nie. Jano het na my toe gekom en gesê: “Pappa antwoord nie as ek klop en roep nie.”
Ek sê toe vir hom om die groetery maar te los, sy oupa wil ry.
Nadat hulle weg is, het ek gaan kyk waar my man dan is.
Toe eers sien ek …
Toe ek die deur oopmaak, het ek eers net sy voete gesien. Hoe hy teen die muur sit. Sy oë was toe en opgeswel. Maar dit was asof my brein nie wou glo wat my oë sien nie. Daar het bloed by sy neus en ore uitgeloop.
Toe eers sien ek die pistool.
Ek weet ek het buitentoe gehardloop, my selfoon gegryp, die bure gebel, die ambulans. En ek onthou dat toe almal daar was, hulle my nie weer in die badkamer wou toelaat nie.
Die forensiese ondersoekers het gekom en hulle het hom uitgedra.
Daarna moes ek my kinders vertel. Die dominee en ’n maatskaplike werker het gekom. Ek het gevra: “Hoe sê ek vir my kinders hul pappa is dood? Dat hy homself geskiet het?”
Hul raad was: “Vertel jou kinders dat hul pappa hoop verloor het, dat hy toe sy eie lewe geneem het. Hanteer dan die vrae soos dit kom.”
‘Waar is Pappa?’
Die twee gesiggies wat vol verwagting na my gekyk het toe ek by die voordeur instap, het my hart gebreek. Ek het hulle die slegte nuus meegedeel.
Hierna het maande en maande verloop waarin ek probeer sin maak het uit wat gebeur het. Hoe kón hy dit doen?
Daar was geen antwoorde nie, niks.
Ek het vir die eerste keer in my lewe besef hoe finaal die dood werklik is. Die kinders se moeilikste vraag was: “Mamma, waar is Pappa? Selfmoord is mos sonde …”
Ek het geantwoord dat ek nie weet nie, maar ek weet dat God ’n God van genade is. Dat ons nie weet wat in die laaste paar minute gebeur het voor Pappa oorlede is nie. En dat ons nie moet oordeel nie.
Ná my man se dood het ons by my ouers gaan woon. Daar was soveel mense wat ons bygestaan en gehelp het. Ek ken nie eens almal nie, maar ek weet ek sal altyd dankbaar wees. Die kinders en ek het alles verloor, maar uiteindelik het ons steeds mekaar gehad.
Ons gaan aan, elke dag …
Dis byna vier jaar later. Ek het begin oefen, dis my terapie. Ons het met ons lewe voortgegaan en gewoond geraak aan die “nuwe normaal”.
My pa se goeie raad was: “Gaan net elke dag aan!”
Daar sal altyd ’n leemte wees, ’n verlange. Ek sal altyd wonder hoe dit sou gewees het. Maar ek het een ding geleer: absolute afhanklikheid van God. Sonder Hom sou ek nooit op my voete kon bly staan nie. Ek sou nooit sterk kon wees ter wille van die kinders nie.
My kinders het uitgestyg bo al die hartseer, verlies en teleurstelling. Almal in ons omgewing het hulle met liefde, deernis en beskerming omvou.
Dis baie moeilik sonder ’n man en ’n pappa. Maar dis nou eenmaal soos dit is. Dis ons keuse hoe ons dit wil hanteer. Die toekoms is steeds onseker; daar is nie ’n aardse pappa wat ons kan beskerm, help of raad gee nie. Maar ons het ’n hemelse Pappa wat altyd by ons is.
Dis ’n baie eensame pad, want niemand verstaan regtig hoe jy voel nie. Jy kan dit nie in woorde beskryf nie. Ek het my toegelaat om elke moontlike emosie te beleef, te verduur. Vandag nog. En die seer dae word minder. As dit wel opdaag, laat ek my toe om dit werklik te voel. Môre, dit weet ek, sal beter wees. Ek bly leef met hoop, met verwagting.
Intussen leer ek my seun dat dit oukei is om te huil, dat dit jou nie minder “man” maak nie. Jy is ook nie ’n mislukking as iets nie uitwerk nie; wat saak maak, is hoe jy opstaan, hoe jy weer probeer.
Sedert my man se dood hou ek aan Jesaja 40:31 vas. En ek prys die Here vir sy volmaakte liefde, genesing, krag en vergifnis.
*Sanél Allerston doen administratiewe werk by ’n versekeringsmaatskappy. Sy en haar twee kinders, Jano (14) en Tiane, (12) woon in Komatipoort.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.