Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waardes: Ons wil leef soos ons glo

’n Gesin wat kies om die Here te dien, is ’n gesin wat besonderse waardes nastreef. Hulle weet hulle is nie hier om bloot te probeer inpas nie, maar om ’n daadwerklike verskil te probeer maak.

’n Gesin wat kies om die Here te dien, is ’n gesin wat besonderse waardes nastreef. Hulle weet hulle is nie hier om bloot te probeer inpas nie, maar om ’n daadwerklike verskil te probeer maak.

Kies sterk waardes vir jou gesin

Die wêreld het gesinne met sterk waardes nodig. Daarom is dit belangrik dat elke gelowige gesin nie net aan die begin van ’n nuwe jaar nie, maar elke oomblik leef in ooreenstemming met dit wat hulle glo.

Die ouerskapkenner ds Ewald van Rensburg sê: “’n Gesin wat leef soos wat God wil hê hulle moet leef, sal dalk nie die ganse wêreld omkeer nie, maar hulle sal klein stukkies hemel na die aarde toe bring. En dít sal ook ander mense in staat stel om op ’n meer betekenisvolle wyse te leef.”

Sterk waardes word veral sigbaar in mense se leefwyse. Daarom is sulke waardes méér as goeie deugde.

Die bekende Hettie Brittz sê: “Die tyd, geld en energie wat ons aan bepaalde dinge, mense en ervarings afstaan, wys hoeveel waarde ons daaraan heg. Hoe waardevoller dit is, hoe meer geld is ons bereid om daaraan te bestee. En hoe meer bespreek ons dit, en hoe langer lê ons daaroor wakker.”

Daarom is dit ’n goeie idee om ’n slag ’n bestekopname te maak van dié dinge waaraan julle die meeste tyd, geld en energie bestee.

Stel vas wat julle prioriteite is en wat daaraan verander kan word

Herinner mekaar aan hierdie teks: “Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons hart” (1 Tess 2:4, NLV).

Besluit dan saam watter waardes julle wil nastreef en hoe julle beplan om dit te doen. Een van die gesinslede kan ’n lys van julle waardes kreatief uitbeeld en julle kan dit teen die yskas plak as ’n gereelde herinnering daaraan om hieroor met mekaar te praat.

Hier is ’n klompie waardes wat julle gerus kan oorweeg.

Lys van waardes

Genade

Genade is die onverdiende guns wat ons van iemand anders ontvang. Ons verstaan die omvang daarvan nogal moeilik, maar dit lê aan die wortel van ons geloof: Gelowiges is die ontvangers van God se genade, en daarom word hulle geroep om genade aan ander mense te betoon. Hoe moeilik is dít nie …

Hier is enkele praktiese maniere om genade uit te leef – en as jy hiérna kyk, weet jy dat dit net die liefde is wat dit moontlik maak om hierdie moeilike opdrag te gehoorsaam:

  • Ouers moet sensitief wees vir die aard van hulle kinders se “slegte” gedrag. Hulle moet besef dat ongelukke met almal gebeur – ook grootmense stamp soms iets van ’n tafel af! Hulle moet daarop bedag wees dat onderprestasie en swak konsentrasie soms ’n dieperliggender oorsaak as “luiheid” het. Ouers moet weet dat hulle verwagtinge van die kinders soms bokant dié se vuurmaakplek is. En dat straf of kwetsende woorde nie altyd die gewenste uitwerking het nie. Dat ondersteuning en hulp amper altyd die mees gepaste reaksie op die kind se foute en mislukkings is.
  • Let op julle gesin se taalgebruik oor en teenoor mense wat anders lyk of doen of leef as julle. Besluit om nooit neerhalend of minagtend oor of met ander te praat nie. Om eerder stil te bly. Of, nóg beter, om vir alle ander mense te bid. Dít is soos Christelike liefde lyk. Dink na oor wie julle as julle teenstanders of selfs vyande
    beskou – en bid ook vir hulle.
  • Huweliksmaats moet bereid wees om mekaar se foute oor te sien en te vergewe. Hierdie soort gesindheid en voorbeeld leer julle kinders om nie oorsensitief vir mekaar en ander se foute te wees nie.

Vrygewigheid

Dalk reken julle dat julle genoeg vir die skole se fondsinsamelings of vir die kerk gee. Maar wat sê die Bybel? Hoe lyk die Woord se riglyne hier?

Ons lees in die Ou Testament hoe die opbrengs van die strook grond teen die kante van ’n ploegland (die sogenaamde wenakker) en die koringare wat op die grond geval het, vir die armes gelos moes word (Lev 19:9-10). Vandag sou ons kon sê dat ’n deel van elke brood wat jy koop, weggegee moet word.

In die Nuwe Testament klink die opdrag só: As jy twee kledingstukke het, gee een vir die armes (Luk 3:11). Die beginsel is deurgaans dieselfde: As jy enigiets in oormaat het, moet jy dit gee aan dié wat nood het. In Suid-Afrika hoef ons nie ver na húlle te soek nie …

Die eerste gelowiges van wie ons in Handelinge 4 lees, het dit baie goed reggekry. Hulle het nie hulle besittings net as hulle eie beskou om hulleself gelukkig te maak nie, maar het alles met mekaar gedeel. Niemand het te min gehad nie.

Vra jou ’n slag af: Wat sê my opgaardery van dinge wat ek nie nodig het nie oor my vertroue in God se voorsienigheid?

Kom ons wees prakties:

  • Almal het iets om te gee: Sommige het geld, sommige het spesifieke gawes en talente, sommige het tyd. Kyk waar julle die wêreld vir iemand anders kan beter maak met dit wat julle het.
  • Maak gereeld ’n eerlike bestekopname van julle besittings, en stel vas waarvan julle meer het as wat julle nodig het. Dalk is daar grootmense wat gerus van ’n klompie kledingstukke kan afstand doen; dalk kan die kinders van hulle speelgoed groet.

Vra julle bloot die volgende af: Het ek dit nodig? Is ek lief daarvoor? Sou ek dit weer koop? As die antwoord “nee” is, gee dit weg sonder om ’n tweede keer daaroor te dink.

Ander moontlikhede is om alles wat nie in die afgelope jaar gedra of gebruik is nie, weg te gee. Of om vir elke nuwe paar skoene of elke nuwe speelding wat julle koop, die oues weg te gee.

Respek

Respek is ’n waarde wat op talle gebiede geld – en die meeste hiervan spreek vanself: respek vir God, vir ander mense, vir jouself, vir besittings (jou eie en ander s’n) en vir die natuur.

Die praktiese toepassingsmoontlikhede is legio, en ouers en kinders moet mekaar gedurig wys op watter manier hulle hul respek in spesifieke situasies kan betoon – aan mekaar, en aan ander. Hier is maar een moontlikheid:

  • Leer jou kinders hoe om met respek met ander te kommunikeer. Dit kan doodeenvoudig dinge wees soos: Draai na die een toe wat met jou praat; weerhou jou daarvan om ander te verneder, of om hulle eindeloos te terg; bly weg van vloekwoorde.

Nederigheid

Nederigheid vind waarskynlik sy beste uitdrukking in die besef van ons afhanklikheid van God. Hoor jou kinders ooit hoe jy wysheid by God vra? Weet hulle dat hulle ouers se besluite in afhanklikheid van God geneem word?

Paulus skryf só aan die gemeente in Rome: “Moenie belangrik probeer wees nie, maar vind julle geluk by die nederiges. Moenie dink dat net julle altyd reg is nie” (Rom 12:16, NLV). Die vaste wete dat jy waardevol in God se oë is, behoort die begeerte te demp om jou met ander te vergelyk. Of om altyd “beter” as ander te probeer wees.

Maak hierdie waarde só prakties:

  • Praat met mekaar oor alles wat julle doen om julle belangrik of beter as ander te laat lyk. Kies daadwerklik om dit nie meer te doen nie.
  • Maak nederigheid pret. Besluit saam op ’n kodewoord wat julle kan gebruik wanneer ’n gesinslid deur een van die ander betrap word dat hy of sy besig is om hom of haar met iemand anders te vergelyk.
  • Spits julle daarop toe om na mekaar en na ander mense te luister. Al stem julle nie noodwendig saam met wat gesê word nie.
  • Laat gebed sy regmatige plek in julle gesin se lewe inneem.

Geduld

Geduld is ’n vrug van die Gees (Gal 5) en ook ’n manier om jou liefde te wys. Dalk kan julle gesin julle met hierdie Marjorie Holmes-gebed vereenselwig: “O Here, gee my geduld met hierdie kind wat sy lank uitgerekte storie gretig vertel. As ek hom in die rede val of stilmaak, sal hy nie net seergemaak voel nie; volgende keer sal hy dalk iets wat regtig belangrik is, nie met my wil deel nie.

“Gee my geduld met hierdie baba wat met haar kos speel in plaas daarvan om dit te eet. Gee my geduld wanneer ek vir ’n vriend moet wag wat laat is, of vir ’n gedurige besettoon, of vir die verkeer om af te neem.”

Laat hierdie waarde só grondvat:

  • Neem ’n wilsbesluit om julle eie belange opsy te skuif en gewillig te wees om ’n bietjie langer te wag.
  • Identifiseer die situasies in julle lewe waar julle dit moeilik vind om geduldig te bly. Bid vir mekaar vir meer geduld. En vier julle oorwinnings in dié verband!

Integriteit

In ’n tyd waar grys ’n gewilder kleur as swart en wit geword het, is dit maklik om die waarheid weg te rasionaliseer. Maar as jy nalaat om alle ekstra inkomste op jou belastingvorm aan te dui, beteken dit dat geld vir jou belangriker is as eerlikheid. En, soos altyd, leer jou kinders uit jou voorbeeld …

Vestig hierdie waarde só:

  • Onderneem om altyd eerlik op te tree. Selfs al moet jy ’n prys daarvoor betaal.
  • Prys jou kinders wanneer hulle eerlik is. Doen dit ook voor hulle maats en ander mense.
  • Maak ’n uitgesproke keuse om deursigtig en eerlik oor julle foute te wees. Mense wat reken dat hulle volmaak is en dat hulle alles in die lewe onder die knie het, reken ook dat hulle nie Jesus se offer nodig het nie.

Geskryf deur René Badenhorst.

Lees ook hierdie artikel oor waardes.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.