Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Jou klein gebaar se impak op God se groter plan

My seuntjies vra of hulle foto’s met my selfoon kan neem. Ons sit op die stoep terwyl hulle foto’s neem van blomme en insekte, en van blare met pragtige patrone en vorms. Skielik begin hulle giggel: Hulle het die een of ander zoom-funksie op die kamera ontdek!

Later kom wys hulle ’n paar foto’s, maar ons kan skaars uitmaak wat dit is. Dié wysery ontwikkel toe in ’n speletjie waarin Mamma en Pappa moet raai wat dit is wat hulle afgeneem het. Ons raai meestal verkeerd, en my seuntjies lag uit hul maag terwyl ons sukkel om te probeer ontrafel wat op hul foto’s is.

Toe wonder ek: Is ons lewe nie ook soms so nie? Ons is so ingestel op ons huidige situasie en eie omstandighede dat ons nie begrip het vir die groter prentjie nie. Ons raai maar wat die betekenis of belang is van die stukkie waarheid wat ons kan sien, en raai meestal verkeerd. Ons kyk, soos Paulus dit stel, in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld.

Goddank vir Hom wat in beheer is, wat die volledige toneel voor Hom sien ontvou. Hy verloor nooit perspektief nie en daarom lei Hy ons op die koers wat Hy weet die beste is.

LEES OOK: Om Jesus se hart en hande in ’n gebroke wêreld te wees

’n Goeie vriendin het my op ’n keer vertel dat sy tydens haar diensjaar saam met ’n groep vriende by ’n restaurant gaan eet het. Soos hul gewoonte was, het hulle, toe hulle bedien word, vir die kelnerin gevra of daar iets is waarvoor hulle vir haar kan bid. Tot hul verbasing het sy in trane uitgebars. Sy het hulle vertel dat dit die derde keer daardie dag was dat ’n groep mense haar gevra het of hulle vir haar kan bid. Die vorige twee keer het sy nee gesê, maar dié keer het sy besef dis geen toeval nie; dis ’n teken. Daarop het sy haar storie vir hulle vertel, en haar lewe aan die Here oorgegee.

My vriendin se vertelling het lank by my gespook. Ek het bly dink aan die twee groepe wat voor my vriendin-hulle in die restaurant was. Hulle het nooit die oomblik beleef waarin die kelnerin se lewe verander het nie. Hulle het waarskynlik nooit besef hoe groot hul bydrae was nie, hoe belangrik hul werk vir die Here nie. Dalk het hulle gedink dat hulle geen verskil gemaak het nie. Dalk het hulle gewonder waarom die Here vir hulle so ’n bid-opdrag sou gee – net vir die kelnerin om “nee dankie” te sê.

Hoe dikwels is ons totaal onbewus van die verskil wat ’n klein gebaar kan maak. Ons sien nie altyd hoe God iets kleins op ’n wonderbaarlike manier vermenigvuldig nie. Ons vergeet gou wat Jesus met ’n seuntjie se vissies en broodjies gedoen het. En dan laat ons na om ’n sagte woord aan ’n kollega te rig, ’n kompliment te gee vir iemand wat ’n slegte dag beleef, ’n paar rand in ’n verwaarloosde vreemdeling se hand te stop.

En wat van die bemoedigende briefie in ’n kind se kosblik, die teksboodskap aan ’n liewe vriendin, die glimlag teenoor ’n toevallige verbyganger? Ons kyk en kyk na ons klein lewe in ons eie klein hoekie, en bly onbewus van die groter prentjie. Ons besef nie dat ons en ons optrede ’n deel vorm van ’n netwerk gebeurtenisse nie.

Ons sien net die oomblik; die ewige God sien die geheel.

Ons moet tog nie die klein dingetjies onderskat nie, en dit wat ons vir ander doen nooit gering ag nie. Ons moet weet dit maak ’n verskil. Ons moet weet dit word raakgesien. Nee, ons weet nie altyd waar pas alles in nie en ons sien nie noodwendig die intieme verweefdheid daarvan in die groter geheel nie. Maar, troos Paulus ons, eendag sal ons alles volledig sien. En dan moet ons tog nie verbaas wees as ons agterkom hoe ons klein liefdesdade deur God se ingryping ’n buitengewone verskil gemaak het nie.

Lees gerus weer 1 Korintiërs 13:12-13: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!”

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►