Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Hoofmeisie met kanker: ‘Wonderwerke gebeur vandag nog’

“Ek glo Jesus het my gekies om aan ander mense hoop te gee. Om te wys dat wonderwerke vandag nog gebeur.”

Só sê Chánterie van Rensburg, die hoofmeisie van ’n laerskool in Kaapstad se noordelike voorstede, wat die afgelope jaar dapper teen ’n aggressiewe soort kanker geveg het.

Tydens ’n onlangse video-opname van ’n LiG Getuig-podsending is tekens van die kankerbehandeling steeds sigbaar. Op haar rug loer ’n litteken uit bo die somertoppie wat sy dra. Dis ’n letsel wat ’n rugoperasie gelaat het toe ’n gewas verwyder is wat teen die spinale koord gedruk het. Haar lang poniestert is voorlopig ’n borselkop.

Maar uit haar glimlag straal opregte dankbaarheid. Die rede vir hierdie graad 7-leerder en hoofmeisie van Laerskool Panorama se vreugde is dat sy ’n klompie weke gelede die eerste keer vanjaar op die skoolterrein kon kom. Nadat sy vroeg in Januarie 2026 met Rabdomyosarkoom (RMS) gediagnoseer is – ’n seldsame soort kanker wat in die liggaam se sagte weefsel voorkom – kon sy nie skool toe gaan nie. Maar nou, ná maande se isolasie, is haar wens vervul.

’n Paar dae nadat sy haar opwagting by die skool gemaak het, het Chánterie seker dié belangrikste foonoproep van haar lewe ontvang toe haar onkoloog haar en haar ouers meegedeel het dat die PET-skandering “skoon” was.

Hieroor sê Chánterie: “Ek glo ek is ’n wonderwerk, want al het die kanker deur my liggaam versprei en al moes ek ’n groot rugoperasie ondergaan, én bestraling en intensiewe chemoterapie deurmaak, wys die skandering dat daar geen aktiewe kankerselle meer is nie.

“Jesus het my deur elke moeilike dag gedra en my die krag gegee om aan te hou.”

Sy sê sy het sommer ook nuwe respek gekry vir haar ouers, Clarissa en Divan, en haar boetie Jóvan. Volgens haar is haar drie gesinslede die dapperste mense wat sy ken.

“My mamma was braaf omdat sy elke tree van hierdie pad saam met my gestap het, selfs wanneer sy self bang of moeg of hartseer was. Sy het elke dag aan my sy gebly en my nooit alleen laat voel nie.

“My pappa was braaf omdat hy altyd na my boetie gekyk het wanneer ek en Mamma in die hospitaal was. Hy het ons gesin bymekaar gehou, hy het alles by die huis aan die gang gehou en steeds tyd gemaak om my te ondersteun en moed in te praat.

“My boetie Jóvan was braaf omdat hy net homself gebly het. Hy het steeds goed gevaar met sy skoolwerk en in sport, al was dinge by die huis baie anders as waaraan hy gewoond was. Hy het sy hospitaalbesoeke aan my spesiaal gemaak, hy het selfs ekstra mooi aangetrek wanneer hy vir my kom kuier het. Hy het my altyd laat glimlag en my gehelp om ’n ruk lank van alles te vergeet.”

Chánterie wil ander kinderkankerlyers moed inpraat, te midde van die groot uitdagings wat dalk op hulle wag. Sy sê: “Daar sal moeilike dae kom, tye wanneer jy siek, moeg, bang of hartseer voel. Jy mag dalk jou hare verloor, baie tyd in die hospitaal deurbring en dinge misloop wat jou maats doen. Ek wil vir jou sê dis oukei om soms te huil en bang te wees, en jy hoef nie elke dag sterk te voel om steeds braaf te wees nie.

LEES OOK: 17-jarige se Kerswens ná tweede kankerdiagnose: ‘Tyd saam met familie en om meer by God te leer’

“Hou vas aan jou geloof, jou familie en die mense wat jou liefhet. Gee elke dag net een tree op ’n slag en moet nooit moed opgee nie. Ek het ook gedink die pad is bitter lank – maar vandag kan ek weer skoolgaan, hokkie speel en oor my toekoms droom.

“Daar is altyd hoop, en Jesus stap elke tree saam met jou.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►