Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Man oor sy buite-egtelike verhouding: Só lyk die spoor van leuens en verwoesting – toe God se genadige ingryping

Johan Nothnagel het gereken dat hy net ’n bietjie geluk elders wou gaan soek. Maar agter die skynbare opwinding van ’n buite-egtelike verhouding het ’n spoor van leuens, verlies en gebrokenheid gelê – en uiteindelik het sy keuses daartoe gelei dat die pyn wat hy as kind geken het ook in sy eie dogter se lewe sigbaar geword het. Vandag vertel Johan eerlik van sy grootste foute en van die verwoesting wat dit tot gevolg gehad het. En hoe God hom op ’n bonatuurlike manier tot inkeer gebring het.

Johan se ma en pa is geskei toe hy drie jaar oud was. “Ek kan onthou hoe hartseer dit was om my pa Sondae te moes groet. Ek het die leiding van ’n mansfiguur gemis. En ek wou nie my dogter aan dieselfde leë gevoel blootstel nie. Tog het ek.”

Johan het ná slegs agt maande se huwelikslewe, toe daar reeds ’n baba was, oor die tou getrap. “Dit het vir my gevoel dat die baba al die aandag kry. Die verantwoordelikheid wat skielik op my skouers gerus het toe ek ’n pa geword het, het my ook vasgevang laat voel. Ek het slegs op myself gefokus en gedoen wat ék wou. Ek het gevoel dat ek my tyd wou deurbring soos dit mý pas. Ek was uiters selfsugtig.

“Op ’n dag het ek ’n vrou by die werk ontmoet. Sy het die regte dinge gesê en gedoen. Ek het voor al die aandag geswig. In daardie stadium het ek geensins skuldig gevoel teenoor my gesin nie. Alles het net om my en my behoeftes en begeertes gedraai. Ek het nie omgegee vir die slagoffers van my gedrag nie. My arrogansie het die oorhand gekry.”

’n Geheime lewe

Aanvanklik het Johan daarin geslaag om sy verhouding weg te steek. Maar só het ’n lewe van leuens en bedrog begin.

Hy vertel: “’n Buite-egtelike verhouding is deurspek met oneerlikheid, jy lei as ’t ware ’n geheime lewe. Ek en die betrokke vrou het mekaar net in die week ontmoet en niemand het iets vermoed nie.

“My selfoon was deurentyd by my. Ek het nie eens badkamer toe gegaan daarsonder nie. Ek het selfs ’n geheime kode gebruik om te voorkom dat my vrou, Marize (43), toegang tot die foon verkry.”

LEES OOK: ‘Dís waarom ek gestruikel het,’ vertel man ná ontrouheid

Op ’n uitgeslape manier het Johan sy tyd tussen Marize en sy minnares verdeel. Hy sou, byvoorbeeld, vir sy vrou jok oor werkverpligtinge. Hy sou soms ook doelbewus in ’n argument met haar betrokke raak sodat hy in sy kar kon klim en kon ry – en dan reguit na die ander vrou toe.

Maar toe Marize later by dieselfde maatskappy begin werk, het dit al hoe moeiliker geword om die skelm verhouding geheim te hou. “In daardie stadium het my kollegas die waarheid begin vermoed. Hulle het egter nie ’n woord daaroor gerep nie.

“Marize het egter snuf in die neus gekry en spoedig het alles vir haar duidelik geword.

LEES OOK: ‘Ek moes leer om op ’n sagte manier vir my huwelik te veg,’ vertel vrou ná haar man se ontrouheid

“My vrou se pyn het nie by my enige simpatie ontlok nie. Ek het eenvoudig geen skuldgevoelens gehad nie. My selfsug het geseëvier.

“Alles het om my en my behoeftes gewentel. Ek het geen empatie in my hart gehad nie. Dit is deels voortgestu deur ’n baie hoë selfdunk. Ek het selfs my vriende en kollegas eenkant toe geskuif. Alles het om my en my minnares gedraai. Daar was min van die ou Johan oor.”

Die gevolge van sy keuses

Uiteindelik het Johan en die ander vrou in een huis gaan woon. Hy kon sy dogtertjie, Clarissa (nou 15), elke tweede naweek sien.

Dit was vir hom hartseer dat sy kind so gehuil het wanneer hy haar telkens by haar ma moes gaan aflaai. Eers toe het hy regtig besef wat hy besig was om aan sy gesin te doen. Hy het immers dieselfde soort belewenis gehad toe sy pa hom Sondae by die huis gaan aflaai het.

Daarop het Johan besluit om nie meer ’n afwesige pa te wees nie. Hy het egter wel weer in sy ou gewoontes met die ou verskonings verval, en Clarissa sodoende nie altyd op die ooreengekome tye gesien nie.

Hy vertel verder van sy verhouding: “Ek en die ander vrou het ’n paar maande saamgewoon voordat dinge begin uitrafel het. Sy het ’n nuwe verhouding met iemand by die werk begin en my gelos met die verantwoordelikheid om ’n blyplek te betaal en te onderhou.

“Intussen kon Marize ook nie haar en Clarissa se woonplek bekostig nie omdat ek nie onderhoud betaal het nie. Ek het haar toe gevra om by my in te trek. Dit het nie juis ’n positiewe invloed op ons verhouding gehad nie en ons het verby mekaar geleef. Die gevolg was dat ons albei besluit het om by ons onderskeie ouers te gaan woon.”

Weer eens was Clarissa ’n slagoffer. Sy het haar pa bitter min gesien. Johan het  Marize toe gesmeek om hom nog ’n kans te gee. Nadat sy goed daaroor nagedink het, het sy ingestem.

Hoewel hulle weer onder een dak gewoon het, was hul verhouding nog nie na wense nie. “Daar was heelwat krappigheid tussen ons,” vertel Johan. “Maar intussen is Mieke gebore (sy is nou vyf) en ons het probeer om ter wille van ons kinders aan te pas en deur te druk.

“Daar was nog vele klein jakkalsies aan my kant wat ek nie hanteer het nie en bloot onder die mat gevee het. Elke af en toe het daardie soort probleme kop uitgesteek en konflik veroorsaak.”

’n Droom uit God se hand

“Ons het met groot erns aan ons huwelik gewerk, maar ons kon nooit bereik wat ons wou nie. Tot een aand, toe God in die vroeë oggendure ingegryp en aan my ’n droom gegee het. In dié droom was ek in ’n baie donker vertrek en ek kon nie my hand voor my oë sien nie. Ek kon glad nie asem kry nie en het gevoel hoe die donkerte my versmoor. Ek het geskree dat die Here my moet help, want ek het gevoel ek gaan sterf.

“In ’n oogwink het my nagmerrie in die mooiste droom denkbaar verander: Ek het in ’n hemelse omgewing gestaan, helder verlig. Die gras was heldergroen. Ek kon nie terugdraai nie, ek kon net vorentoe beweeg.

“Toe ek wakker skrik was ek natgesweet. Ek het gebewe en my hart wou behoorlik uit my borskas klim.

“Ek het nie die droom verstaan nie, maar toe ek die volgende oggend behoorlik wakker was, het ek soos ’n nuwe mens gevoel. My hart was lig. My skoonpa het gesê hy glo dat God met dié droom ’n streep in die sand getrek het; Hy het besluit tot hiertoe en nie verder nie.

“Die droom het ’n groot verskil aan ons huwelik en ons gesin gemaak. Al het ek my as ’n Christen beskou, het ek nooit ’n werklike verhouding met God gehad nie. Ek het vanweë my selfsug Hom nie eerste gestel nie.

“Maar nou is Hy die anker in ons huwelik. Hy het my daardie droom gegee en sodoende my huwelik herstel.”

“Nou lei die Heilige Gees my daaglikse handel en wandel. Ek luister na sy stem.

“My vrou en my kinders is nooit gedoop nie. Tydens die erediens waarin ek my getuienis gelewer het, is hulle gedoop. Ek het ook ’n doopbevestiging afgelê. Ons wil nooit weer sonder God in ons lewe wees nie.”

Johan se raad aan mense wat ’n buite-egtelike verhouding oorweeg? “Dis vir seker nie die moeite werd nie. Jy veroorsaak soveel pyn … Jy kan tog nie jou geluk op iemand anders se ongeluk bou nie.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►