“As een luisteraar ná ’n uitsending bietjie meer hoopvol, rustig, dankbaar of bewus van God se genade is, dan is ons op die regte koers.”
So vertel AJ Maree, die nuwe aanbieder van Loof die Here – die gewilde geestelike program Sondagoggende op RSG.
AJ se aanstelling volg ná voormalige RSG-stasiebestuurder Magdaleen Krüger se besluit om ná sewe jaar agter die Loof die Here-mikrofoon, besluit het om om die tuig neer te lê, lui ’n persverklaring vanaf RSG. Dié program word sedert 1972 uitgesaai en is een van RSG se oudste programme.
LEES OOK: ‘Hoe kon ek God 74 jaar lank ignoreer?’ – ongelowige kom wonderbaarlik tot bekering
AJ – ’n toegewyde musiekliefhebber, wiskunde‑onderwyser, en koordirigent – se hoop is dat Loof die Here mense sal bybly: “Uiteindelik hoop ek dat Loof die Here mense nie net vir ’n uur vergesel nie, maar hulle help om die nuwe week binne te gaan met geloof, hoop en ’n groter bewustheid van God se goedheid.”
Hy vertel verder: “Luisteraars kan steeds uitsien na ’n uur van lofsang, rustigheid, besinning en inspirasie waarvoor hul harte warm klop, en ek sal my eie melodie hieraan toevoeg. Verder sal ek my liefde vir koormusiek, klassieke musiek en besonderse geestelike musiek met luisteraars deel, by ou bekendes aandoen, maar ook nuwe melodieë – of ‘tunetjies’ soos Magdaleen hulle sou noem – verken en ontdek. Uiteindelik hoop ek dat elke Sondagoggend iets sal bied wat die hart aanraak, ’n ruimte waarin mense kan stil word, asemhaal en iets van hoop en verwondering kan ervaar.”
AJ sal op Sondag 1 November 2026 tussen 8h00 en 9h00 sy eerste program aanbied.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















