Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Hondehelde: ’n terapiehond, ’n beskermengel en ’n kankerversorger

Ontmoet drie honde wat elke dag hul lewe wy aan mense en dié se behoeftes: Toffee Beanz, ook bekend as ‘the fur therapist’; Jewel, die dapper Duitse herdershond; en die geduldige, getroue Emma. Hulle versinnebeeld die eeue-oue oortuiging dat ’n hond die mens se beste vriend is.

Sy is sag en wollerig, geduldig, met die sielvolste oë.

Om al hierdie redes het die karamelkleurige golden retriever Toffee Beanz onlangs Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis gemaak toe sy die eerste terapiehond was om ’n kindergetuie in die hof by te staan.

Volgens haar trotse eienaar, die maatskaplike werker Edith Kriel, is dié kosbare dier uiters geskik om kinders in moeilike omstandighede te ondersteun.

Op 29 April vanjaar het dit inderdaad gebeur, toe Toffee Beanz ’n jong seuntjie* in die hooggeregshof gehelp het toe dié kind grusame gebeure uit 2023 in herinnering moes roep. Hy het destyds op die lewelose liggaam van sy agt jaar oue maatjie Daniël Jamneck afgekom, en moes toe in ’n moordverhoor teen sy eie pa getuig.

Toffee Beanz is nou ’n hondeheld nadat sy tydens ’n baie emosionele oomblik haar voorpoot uitgesteek en dit op die kindergetuie se skoot laat rus het. Huisgenoot het berig dat die seuntjie die hond se poot vasgehou en troos in haar aanraking gevind het.

LEES OOK:  ‘Tot ons jou weer sien, Poppie’ – ma vertel hoe haar gesin met verwagting uitsien na die weersiens

Die jong getuie het ’n aanvanklike band met Toffee gesmee toe hy ná die traumatiese dood van sy maatjie terapie by die Jelly Beanz-stigting in Table View, Kaapstad, ontvang het. Dié organisasie bied terapeutiese steun aan kinders wat slagoffers van trauma, mishandeling of verwaarlosing is.

Edith, die medestigter van Jelly Beanz, verduidelik dat Toffee nie eintlik ’n terapeut is nie. “Sy is as ’t ware ’n brug na terapie, en dis dikwels die eerste veilige band wat ’n bang kind smee in ’n kamer vol vreemdelinge.

“En somtyds is dit presies dít wat die deur oopmaak sodat ons ons werk kan doen.”

Volgens Edith beskik dié spesiale terapiehond oor verdere waardevolle eienskappe wat kinders dadelik gerusstel:

  • Toffee dring op niks aan nie, en haar bui verander nooit. Sy is altyd haar betroubare en geduldige self, sessie ná sessie. Haar konsekwentheid in dié opsig speel ’n belangrike rol in die skep van vertroue.
  • Toffee is gek na drukkies kry, maar sy dring nie daarop aan nie. “Teenwoordigheid sonder enige druk is presies wat ons as terapeute op die oog het. Vir Toffee kom dit natuurlik.”
  • Wanneer sy op iemand sit, het dit diepdruk-stimulasie tot gevolg. Dis dieselfde beginsel as wanneer ’n swaar, sensoriese kombers op ’n mens lê. Dit kan regtig stres verminder.
  • Toffee bied slegs haar nabyheid aan as ’n kliënt daarom vra.
  • Sy beskik oor ’n besonderse aanvoeling. Honde is oor die algemeen op menslike emosies ingestel en kan daarom nood identifiseer voordat dit hardop gesê word.

*Die getuie sowel as die beskuldigde se naam word weerhou om die minderjarige se identiteit te beskerm.

’n Juweel van ’n beskermengel

Jewel, ’n Duitse herdershond, is die eerste hond wat opgelei is om haar eienaar vroegtydig te waarsku dat hy ’n epileptiese aanval gaan kry.

Mike O’Donoghue van Kaapstad ly aan temporale-plus-epilepsie, wat beteken die aanvalle begin in die brein se temporale lob en versprei dan na ander gedeeltes in die brein. Hy kry byna daagliks epileptiese aanvalle, waarvan sommige tot agt minute duur. Dit word ook erger namate hy ouer word.

Mike is daarvan oortuig dat God gesorg het dat daar in 2019 sowat R60 000 ingesamel is om Jewel as dienshond vir hom op te lei.

Jewel se primêre taak is om Mike in die herstelposisie te plaas wanneer hy ’n epileptiese aanval kry. En om hom veilig by die huis te besorg ná ’n aanval, omdat Mike se geheue dan dikwels ’n probleem is. Asook om tuis die noodknoppie te druk om hulp te ontbied.

Maar volgens Mike doen Jewel soveel meer: “Sy is my beskermengel. Op ’n keer het ek ’n aanval gekry terwyl ons ’n hoofpad oorgesteek het, en ek is deur ’n Uber-bestuurder raakgery toe ek ineengestort het.

“Ek het later gehoor dat Jewel verhoed het dat ek deur ’n tweede voertuig getref word. Sy het my aan my klere getrek en erg geblaf. Dis dus haar heldhaftigheid wat ernstige beserings voorkom het.”

Jewel het Mike ook reeds gehelp om aan ’n moontlike lewensgevaarlike situasie te ontkom. Mike het per ongeluk die strykyster aan vergeet terwyl dit plat op die strykplank gelê het. Jewel het betyds alarm gemaak.

Ook ’n vreemdeling was al aan die ontvangkant van Jewel se intelligente hulp. Sy het ’n man probeer waarsku dat sy bloedsuikervlak uiters hoog is. Toe Mike aan die man verduidelik dat dit inderdaad die geval kan wees, het dié man gesê dis Maar kort daarna het hy laat weet dat hy toe wel met Tipe 2-diabetes gediagnoseer is.

Emma die versorger

Leanne van der Westhuizen van Nuweland in Kaapstad vertel dat hulle die golden retriever Emma aanvanklik aangeskaf het ter wille van haar outistiese seun.

Maar, sê sy, daar was toe ’n groter doel. Want kort daarna is sy met kanker gediagnoseer. Sy moes bestraling van haar pelvis ondergaan.

Ná die behandeling was haar bene erg verswak en sy kon nie meer loop nie. “Emma het my gehelp toe sy langs my loopraam begin loop het.

“Daarna het ek met krukke oor die weg gekom, en kort voor lank het ek, met Emma se ondersteuning, regtig geloop.

“Sy het my die selfvertroue gegee om uit te gaan en te gaan stap sonder om my te bekommer oor omval of om onstabiel te voel. Ek het nou eers besef hoe ongelyk ons sypaadjies is! En hoe glad die grond in Nuweland se woud is. Maar Emma kry dit reg om my oral te help.”

Hoewel die vierjarige Emma hoofsaaklik mobiliteitsondersteuning bied, vertel Leanne hoe dankbaar sy is vir Emma se emosionele ondersteuning tydens haar kankerstryd. “Tydens my behandeling, en die ses weke lange bedrus voor ’n groot operasie, was Emma só ondersteunend.

“My vriende en familie moes noodgedwonge met hul lewe voortgaan, maar Emma het elke dag by my gelê, die héle dag.”

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►