Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

 ‘Tot ons jou weer sien, Poppie’ – ma vertel hoe haar gesin met verwagting uitsien na die weersiens

Hoe leef ’n ma wanneer die planne wat jy vir jou dogter gekoester het binne enkele oomblikke van jou af weggeneem word? Vir Ninon Strydom het dié vraag nie ’n maklike antwoord nie. Maar tussen die rou en die herinneringe en die verlange deur ontdek sy dit wat haar dra: God se trou verander nooit. Ook nie wanneer jou hele wêreld omvergegooi word nie. So leer sy, vier jaar later, om steeds net een ding te doen: om die lewe dag vir dag te leef.

“En nou neem jy dit dag vir dag.”

Dit was die wyse woorde van ’n tannie op ons dorp. Dit was ’n week ná ons dogter Marizanne se motorongeluk op 13 Januarie 2022 in die Vrede-distrik in die Vrystaat.

Die vrou het my skouers vasgehou en diep in my oë gekyk. Sy het geweet waarvan sy praat, want sy moes ook ’n kind aan die dood afstaan.

Dit was nie die pad wat ons sou kies nie, maar …

Sowat drie jaar gelede het ek ons verhaal met LiG se lesers gedeel. Ek het vertel van my laaste woorde aan my kind: “Sien jou later, Poppie.”

Ná vier jaar se rou, volg ek steeds daardie tannie se raad. Dag vir dag.

Spreuke 19:21 lui: “Al maak ’n mens hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas.” Marizanne het soveel planne gehad, onder meer om eendag haar passie as veearts uit te leef. Die platteland met sy boerderygemeenskap het haar baie na aan die hart gelê, en dis waar sy wou werk. Haar droom was van kleins af om ’n veearts te word. Sy het altyd gesê dit is plan A. Daar was nie ’n plan B nie.

Maar op ’n doodgewone Donderdagoggend om 9:41 het die Here anders besluit en Hy het haar kom haal. So is ons pad herlei. Dit was nie die pad wat ons sou kies nie, maar Hy het so besluit en dit staan vas.

Om 9:45 daardie oggend het die wêreld en sy dinge op die ou trant voortgegaan, met ons gesin wat hierdie hartseerpad moes aandurf.  

Die Here is getrou, en Hy stap saam met ons. Hy herinner my telkens daaraan dat Hy ons nie sal los nie. Sonder Hom sou ons nie kon volhou nie. Hy is steeds goed vir ons.

Want Hy is God

’n Wyse man skryf in Prediker 3 dat elke ding ’n vaste tyd het. God bly in beheer.

Twintig jaar gelede was ek en Marizanne en ons jongste dogter Michelle in ’n motorongeluk betrokke, ook op ’n grondpad. Al verskil was dat slegs ek seergekry het en dat die Here my twee kinders ongedeerd uit die motor laat klim het. Ek het, onder meer, skedelbreuk opgedoen. Die dokters was verbaas dat ek die ongeluk oorleef het.

God het daardie dag besluit om ons al drie te spaar. Hy het gegee. Op 13 Januarie 2022 het Hy egter anders besluit, en Hy het geneem. Op sy tyd. Hy is in beheer, want Hy is God.

Die akkerboompie by die ongelukstoneel

My perspektief op die lewe het ná die ongeluk heeltemal verander. Ek leef nou met ’n hemelse perspektief. Die hemel is vir ons ’n groter werklikheid as ooit, en ons drie sien met verwagting daarna uit om dan weer ’n gesin van vier te wees.

Ons het ’n akkerboompie by die ongelukstoneel geplant. Dis vir ons ’n mooi boom, wat later groot en skaduryk daar langs die pad sal staan. Wanneer ons daar verby ry, herinner dit ons aan nuwe lewe en aan groei.

LEES Ninon se eerste #liggetuienis hier.

Op ’n dag het ons twee klein, grys valkies gesien wat op die boom se takkies gesit het. Dit was baie spesiaal.

Sy bly steeds ’n deel van ons lewe

Michelle het ook ’n veldtog (#five4alife) geloods om elke jaar op die 13de Januarie vyf km ver te stap ter herinnering aan geliefdes wat oorlede is. Die stappers trek groen aan as simbool van ’n nuwe lewe. Tans neem familie en vriende elke jaar daaraan deel.

Ons is dankbaar en ons prys die Here vir die mooi herinneringe wat ons van Marizanne het. Dit dra ons. Ons koester dit. Ons betrek haar dikwels in ons gesprekke en in ons doen en late. En lag vir die dinge wat sy sou sê. Op dié manier hou ons aan haar vas, sy bly steeds ’n deel van ons lewe. 

Ons probeer om altyd iets spesiaals tydens haar verjaardag te doen. Die dag toe sy 23 sou word, het ek en my man Marnus 23 km ver in die Drakensberg gestap. 

Michelle trou aan die einde van die jaar. ’n Rukkie gelede het sy trourokke gaan aanpas. Nadat sy haar perfekte rok gekies het, was haar woorde aan my: “Mamma, Marizanne sou ook van hierdie rok gehou het.” 

En ek het my kop geknik, met ’n knop in my keel.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►