Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Jou lig skyn helder, Deon’: Mense se omgee dra sanger ná ongeluk

“Ek is stomgeslaan deur mense se goedhartigheid, vrygewigheid en omgee in hierdie tyd.”

So het die sanger Deon Meiring vandag (17 November 2026) vanuit ’n aansterk-fasiliteit in die Paarl laat hoor. Sedert Deon op 7 November in ’n motorongeluk was, het ’n goeie vriendin van hom en sy vrou ’n BackaBuddy-veldtog van stapel gestuur “om hom kans te gee om te fokus op sy herstelpad”. Dié kunstenaar, wat bekendheid verwerf het as sanger van die musiekgroep Glaskas, moes al sy optredes tot middel Desember kanselleer.  

Die reaksie op die fondsinsamelingsveldtog was oorweldigend. Binne slegs twee dae is daar reeds ’n derde (R110 552) van die teikenbedrag van R331 000 ingesamel. Skenkers se boodskappe spreek van groot waardering vir Deon as mens en kunstenaar.

Een anonieme skenker skryf: “Jou lig skyn helder, Deon. Nie omdat jy probeer nie, maar net omdat jy Deon is. Ek is baie dankbaar jy is nog met ons om aan te hou Deon wees!”

’n Ander anonieme skenker skryf: “Van ’n ma wie se kinders ook in die musiekbedryf is. Ons bid vir jou en weet dat jy ook op die Groot Geneesheer vertrou.”

LEES OOK: Ná haar man se dood en vier vernietigende vloede getuig boervrou: ‘God stuur engele om te help’

Deon was Saterdagaand 7 November 2026, ná ’n huiskonsert in Durbanville, by die Fisantekraal-kruising in ’n botsing betrokke. Hy het breuke aan sy bekkenbeen opgedoen. Die impak het ook ’n ligte breinbesering tot gevolg gehad.

“My laaste vae herinnering voor die ongeluk is van hoe ek wegry by die landgoed in Durbanville waar ek opgetree het. Alhoewel ek blykbaar verbasend helder opgetree het op die toneel – ek kon byvoorbeeld allerhande nodige nommers en besonderhede deurgee –kan ek niks daarvan onthou nie. Na die tyd het dit ook gewys dat my brein baie liggies seergekry het van die impak. Dis darem iets wat nou met tyd al hoe beter word en goed behoort te herstel,” het Deon verduidelik.

Hy het ook gevra dat mense vir hom en sy vrou, die kunstenaar Zinelda McDonald, sal bid.

“Bid asseblief vir my vir moed en dat die herstelproses so glad as moontlik sal verloop. Ook dat ek dit wat ek nodig het om raak te sien in hierdie tyd nie sal miskyk nie, en dat ek oop sal wees om dit ter harte te neem.

“Vir my vrou kan mense bid vir krag en wysheid, asook goeie en genoeg rus vir haar. Ek is baie dankbaar en bewonder haar dat sy in hierdie tyd so geweldig baie vir my opoffer en doen, terwyl sy haar eie verantwoordelikhede moet nakom.”

Woensdag (18 November) vind die eerste amptelike vergadering met Deon se terapeute en medici plaas om sy herstelpad en die pad vorentoe te bespreek.

  • Die Donderdag voor Deon se ongeluk het hy saam met Bybel-Media (uitgewer van LiG) se personeel en hulle kinders ‘n musiekvideo geskiet. Dié liedjie en musiekvideo word binnekort bekendgestel.
  • Klik hier vir meer inligting oor Deon se fondsinsamelingsveldtog.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►