Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Die moeilikste deel is nie my gesin wat gesterf het nie, dis dat ék oorleef het’

Jacques Papenfus skryf in die onderstaande uittreksel uit sy boek Die seun wat bly leef het, hoe sy Kersgeskenk in 1990 “verlies, pyn en stilte” was. Hy het ’n baie lang pad na genesing gestap nadat hy sy hele gesin eensklaps verloor het. Hy het selfs ’n pad met dwelmverslawing gestap, maar vandag bring hy hoop vir dié wat moedeloos en moeg gesukkel is.  Jacques is die stigter van Moeggesukkel, ’n gemeenskapsgebaseerde organisasie wat mense met behuising, voeding, versoening en die skep van werksgeleenthede help.

Desember 1990. Dit was die perfekte vakansie. Die tipe vakansie wat net Durban in Desember kan bied. Warm, bedompig en klam.

Die see was oral, in die lug wat jy ingeasem het, in die sout op jou vel en in die gedruis van branders wat dag en nag teen die strand gebreek het. Golf op golf. Asof die see gedurig fluister: Kom swem.

Kersfees was om die draai. In elke winkelsentrum het Kersliedjies gespeel. “The Little Drummer Boy,” “Jingle Bell Rock,” New Kids on the Block se vakansietreffer, “This One’s for the Children”. Alles het geskitter en geflikker. Alles was vrolik.

Vir kinders beteken Kersfees net goeie dinge: lekkers, geskenke, laat slaap, geen skool nie. Net speel en lag en bestaan sonder bekommernisse.

Ons was ’n swetterjoel kinders op die stoep van die woonstelblok. Ek, my dertienjarige boetie Aldo, my jonger boetie Handré en my tweejarige sussie Leandré. Van ons nefies en niggies was ook daar. Ons was seker so sewe kinders altesaam.

Liggame wat bots, knieë wat skraap, stemmetjies wat oor mekaar praat en lag. Almal het probeer wys wie die sterkste, vinnigste of belangrikste is.

LEES OOK: Jacques Papenfus se verhaal (deel 2): ‘My donkerte word lig by Moeggesukkel’

Ek was ’n fris laaitie, gebou soos my pa, Henfré. My skouers was vroeg breed en my hande was al sterk. Aldo, daarenteen was kleiner en fyner gebou. Hy was sagter, al was hy vier jaar ouer.

Ons het wild gespeel, gejaag, gebokspring en gestoei. En natuurlik het almal probeer afshow. Daar was mos meisies om te beïndruk.

Ek het ’n dominerende persoonlikheid gehad. Pa se gunsteling. En kinders wat gunstelinge is, leer gou hoe om hulle posisie te gebruik. En, ja, te misbruik. As ek moet eerlik wees was ek eintlik ’n boelie – meestal teenoor Aldo. Kinders is maar so. Dit gaan altyd oor wie die vinnigste of sterkste is.

Pa het altyd hoë standaarde gehad en as ek Aldo kon oorheers, het ek gevoel ek is veilig – veilig teen Pa se teleurstelling en veilig teen sagtheid. Aldo was nie die een wat in die aande as ek van die kafee af kom op Pa se skoot aan die slaap geraak het nie. Dit was ek. In ’n huis waar manlikheid gemeet is aan hardheid, het ek vroeg geleer dat krag ’n taal is wat gehoor word. Aldo het dit nie gepraat nie.

In die tyd waarin ons grootgeword het met politieke onrus en die Grensoorlog was die soldaat die maatstaf van manlikheid. Hard. Onbreekbaar en soms ongenaakbaar. Aldo was ’n regte mommy’s boy. Pa het dit nie verstaan nie, en Aldo het dit geweet. Nie in wat Pa gesê het nie, maar in alles wat hy nie gesê het nie. Nie in wat Pa gedoen het nie, maar in alles wat hy nié gedoen het nie.

LEES OOK: Jacques Papenfus se verhaal (deel 1): ‘Die donker nadat my gesin gesterf het …’

Terwyl die ander kinders so op die woonstel se stoepe gespeel het, het ek en Aldo in ’n argument betrokke geraak. Ek onthou nie meer waaroor nie en dit maak ook nie saak nie. Net sy woorde het oorgebly: “Ek gooi jou sommer hier by die trappe van die tweede verdieping af.”

Klikbek wat ek was, het ek dadelik na Pa toe gehardloop en dit oorvertel. In daardie jare was ’n pakslae sommer gou ’n seun se voorland. Aldo se straf was daardie dag anders. Sy straf was badkamer toe; die deur gesluit. En dit terwyl ons ander gaan uiteet het. Hy moes alleen in die badkamer agterbly, ’n plek waar Pa ons altyd laat wag het voor ons pakslae gekry het.

Ek het nie gedink dit is onregverdig nie – al wat vir my getel het, was dat ek die geveg in my nefies en niggies se oë gewen het.

Ons het geëet, gelag en gekuier. Niemand het die tyd dopgehou nie. Ek het nie eenkeer aan Aldo in die badkamer gedink nie. Ma gaan vir hom iets saamneem om te eet. Hy loop mos heeldag onder haar vlerk, sy sal vir hom sorg. Dit is wat ek vir myself gesê het. Dit is wat ek geglo het. Of wou glo. Die ergste was dat ek het nie eens skuldig gevoel het nie.

Die volgende oggend het Pa ons vroeg wakker gemaak. “Pak julle goed. Ons gaan terug Harrismith toe.”

Ons het gewoonlik tot so ná die 28ste Desember by die see gebly. Dit was nou maar eers die 22ste. ’n Datum wat ek nooit sou vergeet nie.

Pa het ’n vulstasie gehad en daar was ’n skielike petrolprysverhoging of iets dergeliks. Die pompe moes gestel word. Die oom wat gewoonlik uitgehelp het, was vir Kersfees by sy eie kinders.

Van daardie dag af sou elke petrolprysverhoging my forseer om terug te dink. “Ons gaan stel gou die pompe,” het Pa gesê, “en dan ry ons plaas toe. Ons verras Oupa en Ouma. Wat sê julle?”

Vir my was dit nie ’n troosprys nie. Dit was nog ’n lekker meevaller. Oupa en Ouma het op Tweeling geboer, tussen Frankfort en Reitz in die Vrystaat.

Net voor ons see toe is, het ons oudergewoonte eers op die plaas gaan groet. Met die groetslag het ek gesê ek wil nie saamgaan see toe nie. Ek wil Kersfees by Oupa-hulle kuier.

Ek sou enige tyd die see vir die plaas verruil. Ek en Oupa het altyd ’n gemaklike en lekker verhouding gehad en, soos met Pa, was ek ook Oupa se gunsteling.

Pa was beslis. “Jacques, geen teëpratery nie. Jy gaan saam met vakansie.”

“Ek wil nie saam met julle gaan nie. Ek wil nie saam met julle gaan verongeluk nie.”

Daardie woorde was natuurlik bloot die van ’n onskuldige kind, maar vir baie jare daarna sou my oupa hulle ophaal in gesprekke. En dan sou mense wonder of ek ’n voorgevoel gehad het.

Ek het nie verstaan dat sekere woorde nie teruggetrek kan word nie. Dat hulle hul eie gewig dra en ’n mens vir baie lank met ’n swaar skuld kan belas. As ek geweet het wat kom, sou ek elkeen van hulle styf vasgehou het op pad see toe. Ek sou my tong afgebyt het eerder as om daardie woorde te sê.

Vroegoggend, 22 Desember 1990, pak ons die motor en waentjie. Al die Kersgeskenke gaan onoopgemaak terug. Die radio speel sag in die motor.

Ons vier kinders sit soos sardientjies agter; ek links by die deur en Aldo by die ander deur. Handré was in die middel en klein Leandré het so tussen ons beweeg. Ons babbel soos ’n swerm spreeus.

Kersfees by Oupa was die beste Kersgeskenk denkbaar. Ek kon nie wag om Oupa se gesig te sien nie.

Hoekom nie ek ook nie?

Naby Pietermaritzburg, daar waar die pad verby die gholfbaan kronkel, kry Pa ’n hartaanval. Sy voet het op die versneller vasgehaak en die motor skiet vorentoe. Ma gryp instinktief die stuurwiel. Sy probeer uitswaai om tyd te koop. Net nog ’n paar sekondes. Net nog een kans …

Maar die verkeer was oral. Metaal. Spoed. Mense. Nêrens om die motor veilig heen te stuur nie.

Daardie geluid. Selfs vandag, meer as drie dekades later, kan ek dit nie behoorlik beskryf nie. Ek skrik nie vir harde geluide nie, maar sekere skerp klanke sny regdeur my. Dit is asof hulle nie my ore tref nie, maar iets veel dieper. Iets binne my wat nooit heeltemal genees het nie.

Die eerste impak was met ’n motor voor ons. Ons voertuig is oor die middelman geslinger, in die pad van aankomende verkeer.

Pa.

Ma.

Aldo.

Handré.

Leandré.

My hele wêreld.

Weg. In enkele sekondes. Ek was nege jaar oud.

Vir baie jare het ek gewonder hoekom. Hoekom hulle? Hoekom nie ek ook nie?

Ek het later gehoor dat ek onder die sitplek ingeval het. Daar waar ’n mens se voete gewoonlik rus. Daardie klein ruimte onder die sitplek het my lewe gered.

In die ander motor het nog twee mense gesterf – die De Klerks. Hulle was ook van Harrismith. Pa en die oom het saam gholf gespeel, ek en JP was in dieselfde graad.

JP en sy ma het oorleef. Ongelukkig is sy pa en ouma in die ongeluk oorlede. Hulle was op pad see toe. Ek wonder nou nog wat van JP geword het. Vir wat dit werd is, sou ek graag vir hom wou jammer sê.

Soms het ek gedink dat dit alles my skuld was, omdat ek daai onvergeetlike woorde gespreek het. Mense sê jou woorde dra krag, dalk vir hulle gesin ook.

Ek het eers ná Kersfees in die hospitaal in Pietermaritzburg wakker geword.

Die kindersaal was versier met kleurvolle Kersversierings – of dalk onthou ek dit so omdat Kersfees maar so moet lyk. My Kersgeskenk in 1990 was verlies, pyn en stilte. Die ergste van alles was die wete dat ek die gebeure nooit sou kon regmaak nie.

Daar was ander kinders ook. Ek het hulle nie geken nie. Ek onthou net my eie hartseer, verlies en onsekerheid.

My linkerbeen was op drie plekke gebreek en in traksie. My milt, wat met die slag van die ongeluk gebars het, is verwyder. ’n Dreineringspypie het by my sy uitgesteek. Die linkerkant van my kop wat oopgesny was, was nou met ’n klomp steke vasgeheg. Ek, wat nooit stil kon sit nie, was aan daardie bed vasgekluister.

Die moeilikste deel is nie dat hulle dood is nie, dit is dat ek oorleef het. Ek moes leer om met die stilte tussen daardie twee feite saam te leef.

*Hierdie is ’n uittreksel uit Die seun wat bly leef het (Penguin Random House SA) en kan hier bestel word.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►