“Twee jaar sonder jou is twee jaar te veel,” skryf Henriette Kotze in ’n gedig wat sy aan haar man Hannes gerig het. Hy het op 17 September 2024 sy eie lewe geneem.
Henriette sê sy dood was nie die gewone soort skok wat ’n mens bloot moet verwerk nie; die pad wat sy nou loop, is ’n reis vol rou en vol vrae. Sy moet leer om die lewe voort te sit sonder die mens met wie sy 29 jaar getroud was.
Sy moes boonop leer om ander se oordele en veroordeling te bowe te kom. Daar was mense wat hardop gewonder het waarom sy nie méér gedoen het om die selfdood te verhoed nie, terwyl ander haar man se keuse veroordeel het.
Dan is daar die ongemaklikheid rondom die onderwerp. “Dis asof hy nooit bestaan het nie. Mense voel ongemaklik om oor hom te praat,” sê Henriette.
LEES HENRIETTE SE #liggetuienis: ‘Ek gaan Hom in alle omstandighede bly loof’ – vrou nadat haar man selfdood pleeg
Maar sy en haar dogters kies om Hannes lewend te hou deur sy stories en grappies met mekaar en met ander te deel. Hulle onthou sy passie vir sy skape en sy liefde vir jong mense wat ook met skape boer. Juis dié klein herinneringe help hulle om tree vir tree vorentoe te beweeg.
Henriette probeer om alles in dankbaarheid om te skakel. Dit beteken egter nie dat die seer verdwyn het nie. “Ek sal die Here bly loof,” sê sy, “maar dit maak nie die seer minder nie en verander nie dit wat gebeur het nie. Die Here was elke oomblik by my.”
In haar gedig skryf sy oor die moeilike pad vol rousmart, en die dankbaarheid en troos wat sy in Jesus vind. Sy sê dat nie elke dag vir haar goed is nie, maar dat daar tog iets goeds in elke dag kan wees.
Haar boodskap aan mense wat ’n geliefde aan selfdood verloor het, is eenvoudig: “Jy is nie alleen nie. Gee jouself die toestemming om jou gevoelens te ervaar. Moenie jou pad met iemand anders s’n vergelyk of jouself verwyt nie.”
Henriette se verhaal is ook ’n pleidooi aan ander om nie moed op te gee met mense wat swaarkry of wat depressief is nie. Dis soos sy in haar gedig skryf: “Dis die moeite werd om jou storie te vertel, al is dit moeilik en swaar, en al red jy net één lewe.”
Sy sê: “Daar is hoop in Jesus.”

*God is voortdurend besig om die mooiste stories van hoop te skryf. Jóú ondersteuning gaan ons help om ons getuienisvoetspoor te vergroot. Klik hier om te help.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.























