Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Daniëlla van Heerden: ‘Ek gebruik my talente vir God se koninkryk’

Televisiekykers het haar meer as sewe jaar lank as ’n uiters professionele, koelkop nuusleser by kykNET se eNuus leer ken. Agter die skerms moes sy haar suksesvolle loopbaan en moederskap met mekaar probeer versoen. Dit het groot eise gestel. Oplaas het die tyd vir verandering aangebreek.

Ons ontmoet mekaar by Die Plaaskombuis, ’n restaurant met ’n landelike karakter in Blackheath, in die hartjie van Johannesburg. Daniëlla dra ’n gestreepte bloes en ’n vrolike, geblomde romp wat haar fyn postuur komplementeer.

LEES OOK: ‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha

Sy groet hartlik. Dit is die vooraand van ’n opwindende nuwe hoofstuk in haar lewe, die dag voor sy die heel laaste keer voor die kamera as nuusanker by eNuus sal inskuif. En dis drie dae voordat sy met haar nuwe werk as korporatiewe kommunikasiebestuurder by die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) begin.

Sy vertel: “Ek het ’n verandering in my loopbaan al ’n rukkie gelede begin oorweeg, sodat ek meer tyd saam met my gesin kan deurbring.”

Haar oudste dogtertjie, Simoné, word op 25 Maart vyf jaar oud en haar jongste, Lana, word twee op 8 Maart. “By eNuus moes ek meestal in die middae en aande werk. As hulle uit die skool kom, is ek by die werk. Ek kon nie saans, soos ander ma’s, hulle in die bed sit en slaaptydstories voorlees nie.

 “Die twee word nou groter, en ek wil ’n groter deel van hul lewe wees. Simoné gaan volgende jaar graad RR toe, en dan is daar ook die buitemuurse bedrywighede wat wag.”

 Daniëlla se nuwe betrekking beteken dat sy meestal by die huis kan werk. Haar werksure sal dus buigsaam wees en sy sal meer tyd saam met haar gesin kan deurbring. Haar wederhelf Cornél, ’n gesoute vryskutfotograaf, werk ook dikwels by die huis.

Die pos as korporatiewe kommunikasiebestuurder by Fedsas is onlangs geskep en dis daarom vir haar ’n groot uitdaging. “Daar is nuwe kommunikasiestrategieë wat gevestig moet word,” sê Daniëlla. “Ek sal ook, onder meer, met belangegroepe en skoolbeheerliggame skakel en hulle leer hoe om onderhoude met die media te hanteer en hoe om persverklarings te skryf. Ek sal dus steeds my joernalistieke vaardighede kan inspan.”

Die ink in haar are

Daniëlla het in Potchefstroom grootgeword. Sy het reeds op hoërskool, in Potchefstroom Gimnasium, geweet sy wil ’n joernalis word. Sy was die redakteur van die skoolkoerant en nadat sy die dagblad Beeld se skoolkoerantkursus bygewoon het, was sy baie opgewonde oor die moontlikhede wat joernalistiek aan haar kon bied.

Ná matriek is sy dus na die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus waar sy vir BA Kommunikasiekunde ingeskryf het. Sy was later ook redakteur van Wapad, die Pukke se kampuskoerant.

Nadat sy haar graad verwerf het, het sy vir ’n BPhil in joernalistiek by die Universiteit Stellenbosch aangemeld. “En in 2008 het ek as jong nuusverslaggewer by Beeld begin werk, wat ’n wonderlike leerskool was.

“Toe eNuus in 2010 op kykNET begin uitsaai, het Andries Cornelissen, wat voorheen die nuusredakteur by Beeld was, my genader om aansoek te doen om by dié nuuskanaal te werk. In Oktober 2010 is ek toe by eNuus aangestel, aanvanklik as nuusskrywer. Kort daarna het ek as verslaggewer begin werk. Ek het dit baie geniet omdat ek baie gereis het en baie interessante en inspirerende mense leer ken het.”

In 2018 is sy as permanente nuusleser by eNuus aangestel. En die res is geskiedenis …

Wat sal sy die meeste by eNuus mis?

“Die opwinding van regstreekse nuus. En wanneer belangrike internasionale gebeurtenisse plaasvind, soos ’n koninklike huwelik of ’n president wat ingehuldig word.

“Of wanneer ’n groot nuusstorie ‘breek’. Daardie hele proses om die nuus te skryf, te redigeer en te verpak …

“En om onderhoude met belangrike rolspelers te voer, of met gewone mense wat ander inspireer.”

Die liefde van haar lewe

“Ek en Cornél het mekaar by Beeld ontmoet, en in 2010 begin vas uitgaan. Dit was ook die jaar waarin ek by eNuus begin werk het.”

In 2013 het hulle verloof geraak – in New York. Sy vertel dat Cornél, heel romanties, in Central Park op sy een knie gesak het om die ja-woord te vra. Die ring wat hy daar uitgehaal het, dra sy vandag aan haar middelvinger. Dis van silwer wat herwin is uit die fotografiese proses wat by die maak van rolprente gebruik word. Hulle is op 1 Februarie 2014 in Heidelberg se Klipkerk getroud.

Sy vertel dat Cornél baie betrokke by die kinders is, ’n regte raakvat-pa. “Hy was altyd daar om bottel te gee of doeke om te ruil toe Simoné en Lana nog babas was, en wanneer ek by die werk was.”

Ma en Pa leer hul twee dogters verskillende lewensvaardighede: “Ek is die versorger; Cornél is die ‘afrigter’ wat ons dogters aanmoedig om iets te doen wat hulle nie kan of wil doen nie. Hy leer hulle om hul selfvertroue te ontwikkel.”

Dié ouerpaar wil hul dogters aan die regte waardes blootstel. “Maar ons wil hulle nie in ’n bepaalde rigting ‘druk’ nie. Hulle moet hul eie menswees vind, hulle moet weet wie hulle in God is. Hulle moet sterk wees, maar ook ’n sagte hart en volop deernis vir hul medemens hê.”

Uiteraard ontvang die kinders ’n Christelike opvoeding. Saans lees hulle  Bybelstories saam. Daniëlla vertel: “Toe Cornél Simoné op ’n keer na ’n uitkykpunt geneem het, het sy spontaan haar arms in die lug gegooi en gesê: ‘Kyk hoe mooi het die Here die wêreld gemaak!’”

Podsendings vir ma’s

Daniëlla het vroeg verlede jaar agtergekom dat daar ’n groot behoefte aan podsendings is waar ma’s raad oor moederskap en aktuele onderwerpe kan kry. Daarop het sy met Afrikaanse podsendings begin, wat sy ’n Ma & ’n Mikrofoon noem. Hier voer sy openhartige gesprekke met kenners en gaste oor ’n verskeidenheid onderwerpe. Dit wissel van postpartum-depressie en borsvoeding en ma’s wat knaend skuldig voel, tot “tantrums” en boelies.

“Ek fokus nie slegs op babas en kinders se gesondheid nie, maar ook op die ma’s se emosionele welstand. Voorts voer ek onderhoude met pa’s en oupas.”

Baie van die onderhoude is daarop gerig om mense te inspireer, en in verreweg die meeste daarvan vertel die deelnemers van hul onderskeie geloofsreise. Sy gesels, onder andere, met Tarryn Bell van die Butterfly Palliative Home, ’n tuiste vir kinders wat aan ongeneeslike siektes ly en wat dikwels weggegooi of mishandel is. Tarryn en haar span sorg dat die kinders, wat straks nie meer lank het om te leef nie, die nodige sorg en liefde ontvang.

Dis nie slegs plaaslike Suid-Afrikaners wat gereeld na haar podsendings luister nie; ook diéin die buiteland – in ongeveer 40 ander lande – volg dit. Daniëlla vertel: “Sowat 40 000 van my podsendings is reeds afgelaai en 30 000 skakels is al gedeel.”

’n Ma & ’n Mikrofoon is haar passie-projek. En die nuwe werkomgewing help haar daarmee. “Nou kan ek tyd inruim om met my podsendings voort te gaan; dis ’n wonderlike uitlaatklep.”

Nog ’n droom word waar

Toe Daniëlla jonger was, het sy daarvan gedroom om eendag ’n boek te skryf. Haar bedrywige loopbaan in die joernalistiek en die uitsaaiwese het dit egter nie toegelaat nie.

Op ’n goeie dag in 2019 het die uitgewer Miemie du Plessis van Pan Macmillan South Africa haar genader om die inspirerende verhaal van die tiener Megan Werner te skryf. Dit was Megan se droom om saam met ander jonges ’n vliegtuig te bou waarmee hulle van Kaapstad tot Kaïro kon vlieg.

Daniëlla het die geleentheid met al twee hande aangegryp. “Simoné is gebore kort nadat die Covid-19-pandemie in 2020 uitgebreek het. Tydens my kraamverlof het ek toe, saam met Megan, die jeugroman As jy droom geskryf. Gelukkig was Cornél daar om my te help om tussen voedings deur, winde uitvryf en doeke ruil, ook by my skryfwerk uit te kom!”

Dié debuut is in 2022 met ’n ATKV-Woordveertjie bekroon, in die selfleeskategorie vir graad 6- en 7-leerders.

Daniëlla droom steeds: “Ek sal graag hierdie jaar weer ’n boek vir tieners wil skryf, of dalk ’n prenteboek aanpak.”

Oefening, padwedlope en geloof

Die vietse Daniëlla is mal oor oefen en draf. “By die gimnasium waar ek oefen, is daar gelukkig ’n speelhoekie waar my kinders onder toesig kan speel. Ek hou ook baie van veldwedlope en het onlangs aan ’n wedloop by Die Wieg van die Mensdom deelgeneem.”

Vanjaar wil sy nog baie meer aandurf, sê sy. “Dis vir my wonderlik om in die natuur te draf en God se skepping te bewonder.”

Geloof is van kleins af ’n integrale deel van haar lewe. Sy vertel: “Ek het in ’n Christelike huis grootgeword. Ek het nooit ’n soort ‘deurbraak-oomblik’ beleef waar ek eensklaps gelowig geword het nie; my geloof was altyd deel van my bestaan.

“Geloof gee my deurlopende sekerheid, en berusting, sodat ek nie verstrengel raak in oppervlakkige dinge nie. My geloof help my om te besef hoe begenadig ek is om ’n gelukkige huwelik te kan hê, en watter wonderlike voorreg dit is om gesonde kinders te hê. Dit is nie almal beskore nie.

“Ek is ook baie dankbaar dat my ouers én Cornél s’n nog leef en ’n groot rol in hul kleinkinders se lewe kan speel. Dit is alles Godgegewe; ek beskou dit nooit as vanselfsprekend nie.”

Daniëlla sê haar geloof is ook ’n rigtingwyser in haar loopbaan. “My geloof anker my om deernis en empatie met ander mense te hê. Wanneer ek,  byvoorbeeld, ’n nuusberig moes lees wat slegte tyding oordra, of iets oor oorlog of misdaad bevat, het ek probeer om dit met deernis oor te dra.”

Sy beskou haar podsendings, net soos haar destydse verslaggewing, as gereedskap om ander mense se stories te vertel. “Op dié manier gebruik die Here ook my talente om iets vir sy koninkryk te beteken.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF