Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Die Ligbron wat ons voed

Ons sit om ’n Bosveldvuur. Dis ’n lieflike aand, daar is nie ’n wolkie in die lug nie. Die sterre flikker soos lanterns bo ons in die donker naglug.

My seuntjie vra: “Mamma, is ’n verskietende ster ’n ster wat doodgaan?”

“Nee, Boeta, dis eintlik glad nie ’n ster nie. Dit lyk net asof dit ’n ster is.”

“Wat is dit dan?” vra hy.

“Dis ’n meteoriet wat uitbrand wanneer dit die aarde se atmosfeer binnekom. Omdat dit teen so ’n hoë snelheid gebeur, word die meteoriet baie warm en dit begin brand. Dan lyk dit soos ’n ligstreep wat deur die donker nag klief.”

Hy wil nog iets weet: “Kán sterre doodgaan?”

“Wel, ja,” antwoord ek. “Wanneer ’n ster doodgaan, noem ons dit ’n supernova.”

“Maar hoekom gaan hulle dood?”

LEES OOK: Kinders, God en genade

“Sterre bestaan uit gasse wat brand,” sê ek. “Wanneer die gasse opraak, ontplof die ster.”

Om vir altyd te skitter

Terwyl ons so gesels, word ek bewus van ’n ongemaklikheid in my binneste. Sterre waarvan die brandstof opraak …

Raak mense se brandstof ook op? Is dit dít wat soms met my ook gebeur wanneer my geduld min is en my lont so bitter kort? Wanneer alles eenvoudig te veel word. Wanneer die dag se eise – kosmaak, wasgoed was, kinders rondry en toesien dat hul take en huiswerk gedoen word, al die afsprake wat nagekom moet word – my laat voel soos soos ’n ster op die rand van ’n supernova: helder van buite, maar van binne besig om te ontplof.  

Hoe ver kan ’n mens gedruk word voordat jy dit net so laat los en alles om jou intuimel? Ek dink aan Patricia Lewis se bekende sê-ding tydens haar talentkompetisie: “Jou sterretjie het geval …”

In my hart weet ek dis nie God se plan vir my nie. Hy wil nie hê my sterretjie moet val nie. En ek word herinner aan die woorde in Daniël 12:3: “Die verstandige leiers sal skitter met die glans van die hemel self, en dié wat baie mense op die regte pad gelei het, sal vir altyd skitter soos die sterre.”

Vir altyd.

Is dit regtig moontlik om vir altyd te skitter? Vir altyd is tog ’n onmoontlike lang tyd, of hoe?

Dan besef ek opnuut dat dit nie uit eie krag moontlik is nie. En ek onthou dat daar ’n plek is waar ek my tenk weer kan vol maak.

Die verstandige mens waarna die profesie hierbo verwys, is nie ’n mens wat nooit moeg word nie; dis ’n mens wat weet waarheen om te gaan wanneer uitputting en moedeloosheid toeslaan. Daardie mens hoor sy Here se stem wanneer Hy sê: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28).

Wanneer die wêreld en sy eise jou oorweldig, gaan vul jou tenk by God. Bring tyd saam met Hom deur. Lees sy Woord, bid, sing lofliedere – en vind rus.

En weet vir seker dat jy skitter omdat jy deur die Ligbron gevoed word. In sy krag is dit inderdaad moontlik om vir altyd te skitter.

  • Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.
Geborg
Geborg
Geborg
No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►